4 min gelees

Brief aan die Christene in Rome
Hoofstuk 9-11


Romeine 9

Broers, wat ek nou gaan sê is die waarheid. Ek lieg nie. Ek praat as iemand wat een is met Christus. Die Heilige Gees weet dat my gewete skoon is.

Ek is baie hartseer - en ek kan nie daaroor kom nie - ek is baie hartseer oor my broers, my stamgenote, die Jode.

Ek sou eerder self verlore wou gaan en sonder Christus wees as dit enigsins sou help dat hulle gered word!

Hulle is die Israeliete aan wie God belowe het dat Hy hulle sou aanneem as sy kinders en dat hulle in sy koninklike glans sou deel. Met hulle het Hy verbonde aangegaan, vir hulle het die wet gegee en riglyne oor hoe om Hom te dien. Hulle stam van die aartsvaders af en uit hulle is die Messias as mens gebore, die Messias wat oor alles regeer, self God is en vir altyd geprys moet word!

Ek bedoel nie dat God se beloftes nie meer vir hulle geld nie. Ons moet egter onthou dat nie almal deel van Israel is wat as Israeliete gebore is nie.

En nie almal is Abraham se kinders wat uit die nageslag van Abraham gebore is nie. Die Skrif sê: "Uit Isak sal jou kinders gebore word."

Wat ek bedoel is dit. God se kinders is nie dié wat op natuurlike wyse gebore word nie. Sy kinders is dié aan wie Hy 'n belofte gegee het dat hulle sy kinders is.

So het God dit aan Abraham beloof: "Omtrent hierdie tyd sal Ek terugkom en Sara sal 'n seun hê." Ook Rebekka het deur 'n belofte van God swanger geword uit Isak, ons voorvader.

Voordat Rebekka se tweeling gebore is, voordat hulle iets goed of kwaad kon doen, het God vir haar gesê: "Die oudste sal die jongste dien." So is dit immers geskryf: "Jakob het Ek lief gehad, maar Esau het Ek gehaat."

God het alles so laat gebeur om te wys dat Hy mense nie aanvaar omdat hulle iets reg of verkeerd doen nie, maar net omdat Hy dit so wil hê.

Moet ons hieruit aflei dat God onregverdig is? Nee, glad nie. Want vir Moses sê Hy: "Ek gee om vir wie Ek wil omgee en help wie Ek wil." 'n Mens word deur God aanvaar nie omdat dit jou keuse is of omdat jy iets kan doen om dit te verdien nie, maar net omdat dit God se besluit is.

In die Skrif staan dit van Farao: "Dit is Ek wat jou die dinge laat doen wat jy gedoen het. Ek het jou dit laat doen om te wys hoe magtig Ek is en sodat mense oor die hele aarde van My kan hoor." So gee God dan om vir wie Hy wil en verhard Hy wie Hy wil.

Ek weet wat jy dink. Hoe kan God iemand kwalik neem as jy maar net is wat God jou gemaak het?

Jy vergeet egter dat jy net 'n mens is en dat God Gód is. Die skepsel kan nie vir die Skepper sê, "Hoekom het U my so gemaak nie?"

Het die pottebakker nie mag oor die klei om uit dieselfde hoop klei voorwerpe te maak waarmee hy tevrede is en ander waarmee Hy ontevrede is nie?

So is dit ook met God. Om sy mag en oordeel te wys het Hy sekere mense gemaak waarmee Hy ontevrede is en wat bestem is vir die vuur van die oordeelsdag. Tot dan verdra Hy hulle met groot geduld.

Dit het Hy gedoen om te wys hoe groot sy liefde is vir die mense waarmee Hy tevrede is, hulle wat Hy met sy koninklike glans gaan versier. Dit is ons almal wat Hy geroep het om aan Hom te behoort, Jode en nie-Jode.

Dit sê God in Hosea: "Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem, en hulle wat sonder liefde is, my liefde gee. Die mense van wie gesê is: 'Julle behoort nie aan God nie', van hulle sal gesê word: 'Julle is kinders van die lewende God!'"

Jesaja sê dieselfde van Israel: "Al is die Israeliete so baie soos die sand van die see, net 'n handjievol sal gered word. Die Here sal dit doen en gou ook."

Jesaja het ook gesê: "As die Here, die Aanvoerder van die engele leërs, nie vir ons 'n handjievol uitgehou het nie, sou daar van ons, soos van Sodom en Gomorra, niks oorgebly het nie."

Ons gevolgtrekking? Dit is dat die heidene wat God nie gesoek het nie, Hom gevind het en deur Hom aanvaar is omdat hulle Hom daarvoor vertrou het.

Israel, aan die anderkant, wat God probeer vind het deur die wet van Moses en die Tien Gebooie te onderhou, is nie deur Hom aanvaar nie.

Hoekom het Hy hulle nie aanvaar nie? Omdat hulle Hom nie daarvoor vertrou het nie, maar dit self probeer verkry het deur die wet na te kom.

Israel het hulle vasgeloop teen die Skaamteklip. Dit staan in die Ou Testament: "Let op, Ek gee in Israel 'n klip waarvoor mense hulle sal skaam, 'n rots waaroor hulle sal val. Maar elkeen wat op Hom vertrou, sal nie teleurgestel word nie."


Romeine 10

My hartsbegeerte, broers, en my gebed tot God is dat Israel gered sal word. Ek ken hulle goed. Hulle dien God met groot ywer, maar verstaan nie waaroor dit gaan nie.

Hulle verstaan nie dat God mense aanvaar sonder dat hulle daarvoor hoef te werk nie. Hulle probeer God beïndruk met wat hulle doen. Hulle wil nie God se manier aanvaar nie.

Hulle verstaan nie dat Christus 'n einde daaraan gemaak het dat 'n mens die wet moet onderhou om deur God aanvaar te word nie en dat 'n mens God net daarvoor hoef te vertrou.

Moses sê wat 'n mens moet doen om deur God aanvaar te word as jy die wet probeer onderhou: Doen alles wat die wet sê en jy sal lewe.

Maar wanneer jy God vertrou om deur Hom aanvaar te word, werk dit heeltemal anders. Jy hoef nie planne te maak om in die hemel op te klim om Christus te vind nie. Of om Hom in die doderyk te gaan soek nie.

Hoe werk dit? Jou redding is naby jou, in jou mond en in jou hart. Dit is die boodskap wat ons bring. Al wat jy hoef te doen is om met jou mond te sê dat Jesus die Here is en met jou hart te glo dat God Hom uit die dood opgewek het. Dis al - dan sal jy gered word.

Met die hart vertrou ons en daarom aanvaar God ons. Met die mond vertel ons dat Jesus die Here is en daarom word ons gered.

Dit staan is die Skrif: "Niemand wat Hom vertrou, sal teleurgestel wees nie." Dit geld almal, Jode en nie-Jode. Want die Here is Here oor almal en luister na elkeen wat tot Hom bid. "Elkeen wat tot die Here Jesus bid, sal gered word."

Om tot Hom te bid, vra vertroue. En om Hom te vertrou, beteken dat hulle eers van Hom moes hoor, dat iemand hulle van Hom moes vertel.

Die wat van Hom vertel, is gestuur om dit te doen. So is dit geskryf: "Hoe lieflik is die voetstappe van hulle wat die goeie nuus van vrede bring, die nuus van God se goedheid!"

Die Israeliete het egter nie almal die goeie nuus aanvaar nie. Soos Jesaja sê: "Here, wie het ons boodskap aanvaar?"

'n Mens moet dus eers hoor wat God sê voordat jy Hom kan vertrou.

Het party Israeliete dalk God nie gehoor nie? Hulle het almal gehoor. Daar staan: "Oor die hele aarde is hulle stem gehoor en hulle boodskap het die uithoeke van die wêreld bereik."

Miskien het Israel die boodskap nie verstaan nie? Moses sê: "Ek sal julle jaloers maak op 'n vreemde volk wat my boodskap verstaan en julle kwaad maak vir 'n volk wat eers niks daarvan geweet het nie." Hulle het nie verstaan nie en daarom jaloers en kwaad geword.

Jesaja gaan so ver om te sê: "Ek het my laat vind deur dié wat my nie gesoek het nie. Ek het my bekend gemaak aan hulle wat nie na my gevra het nie."

Van Israel sê hy: "Elke dag het Ek my uitgereik na 'n ongehoorsame en beterweterige volk."


Romeine 11

Die vraag is: Het God sy volk verstoot? Nee, glad nie. Kyk na my. Ek is 'n Israeliet, van Abraham se nageslag, gebore uit die stam van Benjamin.

God het sy volk, met wie Hy 'n lang pad geloop het, nie verstoot nie. In die Skrif lees ons dat Elia teenoor God kla oor Israel: "Here, hulle het U profete doodgemaak en die offerplekke afgebreek. Ek het alleen oorgebly en hulle wil my ook doodmaak!"

Wat was God se antwoord aan hom? "Ek het al die Israeliete wat aan My behoort laat oorbly. Hulle het aan my getrou gebly en Baäl nie aanbid nie."

Net so is daar nou ook 'n oorblyfsel wat God met sy onvoorwaardelike liefde daarvoor bestem het om aan Hom te behoort.

Hy het hulle daarvoor bestem omdat Hy hulle onvoorwaardelik liefhet en nie omdat hulle iets gedoen het om dit te verdien nie. As hulle iets gedoen het om dit te verdien sou God se onvoorwaardelike liefde onnodig wees.

Hulle is vir God afgesonder nie deur dit wat hulle gedoen het nie, maar deur God se liefde. En omdat dit deur God se liefde is, het dit wat hulle gedoen het geen waarde by God nie.

Waar laat dit ons? Dit wat Israel gesoek het, naamlik om deur God aanvaar te word, het hulle nie gekry nie. Maar dié wat God daarvoor bestem het deur sy onvoorwaardelike liefde, húlle het dit verkry. Die ander se harte is verhard.

So is dit geskryf: "God het hulle aan 'n diep geestelike slaap oorgegee sodat hulle niks kon sien nie en niks kon hoor nie. So is dit tot vandag toe."

Ook Dawid praat daarvan: "Mag hulle oorgerustheid tot hulle eie ondergang lei. Mag hulle oë nie sien nie, mag hulle vir altyd hard werk en niks bereik nie."

Die vraag is ook: Het Israel doelbewus gestruikel en geval? Nee, glad nie. Hulle was bestem om te val sodat die heidene gered kon word en hulle daarop jaloers kon word.

Hulle moes val sodat die wêreld daardeur verryk kon word. Hulle moes die redding misloop sodat die heidene ryk kon word. En wanneer Israel eendag gered word, sal dit die heidene nog meer verryk!

Ek is God se gesant vir die heidene. Vir julle, onder wie ek my werk voluit gedoen het, sê ek: As ek tog maar net my volk op julle jaloers kon maak en 'n klompie van hulle kon red!

God het hulle verwerp om met die wêreld vrede te maak. As Hy hulle nou aanvaar, sal dit wees soos die opwekking van dooies.

Onthou: as die eerste deel van die deeg aan God gewei is, dan geld dit ook die res van die deeg. As die wortel van die boom aan God gewei is, dan geld dit ook die hele boom.

Kom ek verduidelik dit. Sommige takke is van die olyfboom afgebreek en jy, 'n wilde olyf, is daarop ingeënt. So het jy deel gekry aan die wortel en die sap van die boom.

Jy het geen rede om te dink jy is beter as die olyfboom nie. Onthou, die wortel dra jou, nie jy die wortel nie.

Jy sal miskien wil sê: Ja, maar die takke is afgebreek om vir my plek te maak. Jy is reg, omdat hulle God nie vertrou het nie, is hulle afgebreek. Jy is ingeplant omdat jy op God vertrou het.

Maar pasop! Moenie dink jy is beter as die Israeliete nie! Wees versigtig! As God die natuurlike takke nie gespaar het nie, kan dit ook met jou gebeur!

Kyk mooi na God se goedheid en sy strengheid. Sy strengheid het gemaak dat hulle tot 'n val kom. Sy goedheid maak dat jy staande bly. Hou vas aan sy goedheid, anders kan jy ook afgekap word.

As jy van die wilde olyf afgekap is en op die mak olyf ingeënt kon word, hoeveel makliker sal die takke van die mak olyfboom weer op die mak olyfboom ingeënt kan word!

Ek vertel julle 'n geheim, broers, sodat julle julle nie slim hou nie. Israel se hardheid geld net totdat al die heidene wat gered moet word, gered is.

Uiteindelik sal die hele Israel wat daarvoor bestem is, gered word. Dit is so geskryf: "Die verlosser sal uit Israel kom om die goddeloosheid van Jakob weg te vat. Dit is my ooreenkoms met hulle: Ek sal hulle sondes wegvat."

Al is hulle julle vyandig gesind omdat julle die goeie nuus aanvaar het, wat God betref het Hy hulle nog steeds lief ter wille van die aartsvaders.

God se onvoorwaardelike liefdesgeskenk en sy beloftes verander nooit nie.

Toe julle heidene was, was julle aan God ongehoorsaam, maar nou het julle deur Israel se ongehoorsaamheid God se liefde ontvang.

Ook Israel wat ongehoorsaam geword het aan God sodat julle sy liefde kan ontvang, kwalifiseer nou om deur hulle ongehoorsaamheid sy liefde te ontvang.

Wat God betref is daar nie verskil tussen hulle ongehoorsaamheid en julle ongehoorsaamheid nie. Ook nie tussen sy liefde vir julle en sy liefde vir hulle nie.

Hoe groot en ryk is God se wysheid en kennis! Ons kan sy oordele nie begryp nie en sy dade nie verstaan nie. Wie weet wat in sy gedagtes aangaan en wie het Hom raad gegee?

Wie het Hom iets gegee dat Hy dit moet teruggee? Hy is die oorsprong, die oorsaak en die doel van alle dinge! Aan Hom behoort die koninklike glans vir altyd! So is dit en so sal dit wees!


LAAI HIER 'N KOPIE AF

Kommentaar
* Die e-pos sal nie op die webwerf gepubliseer word nie.