Brief aan die Christene in Rome
Hoofstuk 8
Daar is egter één faktor wat alles verander. Dit is: as jy deel is van Christus Jesus sal jy nooit vir jou sondes gestraf word nie.
Dan geld 'n nuwe wet vir jou: omdat jy één is met Christus Jesus, gee die Gees dit vir jou om vir altyd te lewe. Die Gees het jou vrygemaak van 'n ander wet, naamlik dat as jy sonde doen, jy met die dood gestraf word.
As gevolg van ons menslike swakhede kon die wet van Moses ons nie in 'n regte verhouding met God bring nie. Daarom het God sy Seun as mens gestuur om vir die sonde te betaal. Só het God in Jesus die sonde (en nie die mens nie) gestraf.
Nou is dit asof ons al die vereistes van die wet nagekom het, ons wat nie op onsself nie, maar op die Gees van God vertrou om ons vir altyd te laat lewe.
Diegene wat op hulleself vertrou, is altyd besig met wat hulle menslikheid begeer. Maar dié wat op die Gees vertrou, is besig met dit wat vir die Gees belangrik is.
Dié wat net heeltyd deur hulle menslike begeertes oorheers word, is geestelik dood. Dié wat deur die Gees beheer word, ervaar lewe en vrede.
Dié wat deur hulle menslike begeertes oorheers word, is vyandig teenoor God. Hulle is nie aan Hom onderdanig nie en kan nie doen wat Hy wil hê nie. Dié wat volgens hulle menslikheid lewe, kan Hom nooit tevrede stel nie.
Met julle is dit anders. Julle lewe word nie meer beheer deur julle menslikheid nie, maar deur die Gees van God wat in julle bly. Julle behoort aan Christus, want iemand wat die Gees van Christus het, behoort aan Christus.
En omdat Christus in julle bly en alles vir julle reg gedoen het, kan julle liggame nie meer sondig nie, maar lewe julle geestelik.
En omdat die Gees van Hom wat Christus uit die dood laat opstaan het in julle bly, sal Hy wat Christus uit die dood laat opstaan het, ook julle sterflike liggame deur die Gees wat in julle bly, uit die dood laat opstaan.
Daarom, broers en susters, het ons nie 'n keuse nie. Ons kan nie op onsself staatmaak nie. Want die wat op hulleself staatmaak, sal sterf. Maar as julle op die Gees vertrou, sal julle 'n einde maak aan julle liggaamlike begeertes en sal julle lewe.
Almal wat deur die Gees van God gelei word, is kinders van God.
Die Gees wat julle ontvang het, maak nie van julle slawe om in vrees te lewe nie. Inteendeel, die Gees wat julle ontvang het, maak julle God se kinders. Dit is deur hierdie Gees dat ons God ons "Pappa, Vader" noem. Die Gees oortuig ons gees dat ons God se kinders is.
As ons God se kinders is, dan is ons, soos Christus, ook God se erfgename. Dan het ons nie net deel aan Christus se lyding nie, maar sal ons ook deel in sy koninklike glans.
Ek is daarvan heeltemal oortuig dat ons huidige swaarkry glad nie vergelyk kan word met die koninklike glans wat almal in ons sal sien nie. Want die hele skepping verlang daarna om God se kinders te sien.
Die hele skepping is ontsteld. Dit is besig om te vergaan en kan niks daaraan doen om dit te keer nie, want só het die Skepper dit gewil.
Tog hoop die skepping om een dag saam met die kinders van God van hierdie verganklikheid bevry te word en deel te hê aan God se koninklike glans.
Ons weet dat die hele skepping van die begin af tot nou toe kreun soos 'n vrou wat geboorte wil gee. Nie net die skepping nie, maar ons ook, wat die Heilige Gees ontvang het as die eerste vrug van herstel, ons kreun ook innerlik terwyl ons met verlange wag om as God se kinders aangeneem te word. Wanneer dit gebeur sal ons liggame van die tronk van verganklikheid bevry word.
God het ons hierdie hoop gegee toe Hy ons gered het. Ons sien dit nog nie, want 'n mens hoop net op dit wat jy nie kan sien nie. Ons hoop egter op dit wat ons nog nie het nie en hou aan om daarvoor te wag.
Gelukkig het ons die Heilige Gees wat ons help in ons swakheid. Ons weet nie eens reg wat om te bid nie, maar die Heilige Gees bid namens ons met onuitspreeklike kreune.
Hy wat ons harte deursoek, weet wat die Gees namens God se kinders bid. Hy bid dit wat God wil hê Hy vir hulle moet bid.
Hiervan is ons heeltemal oortuig: God laat alles ten beste uitwerk vir die wat Hom liefhet. Hy het hulle by die naam geroep om deel te wees van sy groot plan.
En dit is sy plan. God het vooraf geweet wie in sy Seun sou glo. Hulle het Hy bestem om die ewebeeld van sy Seun te wees sodat sy Seun die eerste van baie broers en susters kan wees.
Dié wat Hy vooraf bestem het om sy Seun se broers en susters te wees, het Hy by die naam geroep. Dié wat Hy by die naam geroep het, se sondes het Hy vergewe. En dié wie se sondes Hy vergewe het, het Hy in sy goddelike glans laat deel.
Wat is ons gevolgtrekking van dit alles? As God aan ons kant is, wie kan dan teen ons wees?
Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom vir ons almal prysgegee. Dan sal Hy mos saam met sy Seun ons ook verder alles verniet gee! Wie kan enige aanklag bring teen die wat God as sy eie gekies het? God self spreek hulle vry.
Wie sal hulle veroordeel? Niemand nie! Want vir hulle het Christus Jesus gesterf. Meer nog, vir hulle is Hy opgewek en sit Hy in die gesagsposisie aan God se regterhand waar Hy elke dag vir ons bid.
Wie sal ons skei van die liefde wat Christus vir ons het? Moeilikhede, swaarkry, vervolging, honger, naaktheid, gevaar of vuurwapens? Daar staan immers geskrywe: "Dit is ter wille van U dat ons elke dag met die dood gekonfronteer word; dat hulle dink ons is skape wat geslag moet word."
Nee! Deur Hom wat ons liefhet, kan ons al hierdie dinge heeltemal oorwin.
Want hiervan is ek oortuig: nie die dood of die lewe, nie engele of demone, nie teenswoordige of toekomstige gebeure, nie enige maghebbers, nie enige iets in die ruimte of in die dieptes van die see, of enige iets anders in die hele skepping ons ooit sal kan skei van die liefde van God wat Hy vir ons het in Christus Jesus ons Here nie!