2 min gelees

Brief aan die Christene in Rome

Romeine 3

Is daar enige voordeel in om 'n Jood te wees? Is daar enige waarde in om besny te wees?

Ja, daar is. Want God het met die Jode gepraat deur Moses en die profete.

Ons weet dat sommige van hulle aan God ontrou geword het. Beteken dit dat God nou ontrou geword het? Nee, glad nie! God is per definisie getrou en die mens ontrou. Dit is so opgeskryf: "U praat altyd die waarheid en U oordeel is altyd reg."

Ons onbetroubaarheid is daar om God se betroubaarheid te beklemtoon. Is dit dan nie onregverdig dat God ons straf vir ons onbetroubaarheid nie? 'n Mens kan só daaroor dink, maar dit is glad nie die geval nie! Ons onbetroubaarheid is juis die rede waarom alle mense deur God geoordeel word.

Ek vra weer. As my onbetroubaarheid God se betroubaarheid beklemtoon tot sy eer, hoekom moet ek dan nog as sondaar veroordeel word?

Waarop dit neerkom is: "Hoe meer kwaad ons doen, hoe meer word die goeie sigbaar." Sommige mense beskuldig ons valslik dat ons dit preek. Ons preek dit nie, maar hulle het 'n punt beet.

Wat is dan die situasie? Staan 'n Jood in 'n meer gunstige posisie voor God?

Glad nie! Ons het dit al voorheen gesê dat alle mense, Jode en nie-Jode, sondaars is. Dit staan geskryf: "Niemand is sonder sonde nie, nie'n enkele mens nie."

Niemand is verstandig nie, niemand vra na God nie. Almal het die pad byster, die kluts kwyt geraak. Daar is niemand wat goed doen nie, geen enkele mens nie.

Hulle verlustig hulle in ander se ellende, hulle lieg en bedrieg, hulle tonge spoeg gif. Hulle vloek en is vol bitterheid.

Hulle is daarop uit om bloed te vergiet. Hulle laat 'n pad van verwoesting en ellende agter. Hulle wil nie vrede maak nie en het geen vrees vir God nie.

Alhoewel die Tien Gebooie net vir die Jode gegee is, kan geen mens homself verontskuldig nie, want die hele wêreld staan skuldig voor God.

Geen mens kan deur die nakoming van die wet en die Tien Gebooie in 'n regte verhouding met God kom nie. Dit is nie waarvoor die Tien Gebooie gegee is nie. Die Tien Gebooie is gegee sodat die mens kan weet wat sonde is.

Maar nou het God dit bekend gemaak hoe 'n mens in 'n regte verhouding met Hom kan kom. Dit het niks te doen met die nakoming van die Tien Gebooie en die wet nie. Inteendeel, die wet van Moses en die profete vertel hiervan.

Dit is naamlik, dat God alle mense aanvaar wat in Jesus Christus glo. Dit geld vir almal wat in Jesus Christus glo en daar is geen ander vereiste nie.

Almal, sonder uitsondering, het gesondig en het geen deel aan God se koninklike glans nie. Maar God aanvaar hulle as sy eie sonder dat hulle iets daarvoor hoef te doen. Hy doen dit net omdat Hy hulle onvoorwaardelik liefhet en omdat Christus Jesus vir hulle sondes betaal het.

God het Jesus Christus gegee om deur sy bloed te betaal vir die sondes van dié wat sou glo. So het Hy gewys dat Hy regverdig is - want die sondes wat gedoen is voordat Jesus gekom het, het Hy met groot verdraagsaamheid nie gestraf nie.

Maar Hy wys ook sy regverdigheid deurdat Hy nou ná die koms van Jesus almal wat in Jesus glo as sy eie aanvaar.

Is daar enige iets wat ons kan doen waarop ons trots kan wees? Nee, daar is niks nie. Want al wat ons hoef te doen, is om in Jesus te glo.

Die hoofsaak is dus: God aanvaar 'n mens as sy eie net omdat hy glo en glad nie op grond van enige iets wat hy gedoen het om die wet te onderhou nie.

Is God net die God van die Jode en nie ook van die heidene nie? Hy is ook die God van die heidene. Want dit is een en dieselfde God wat die besnede Jode aanvaar omdat hulle in Jesus glo en die heidene wanneer hulle in Jesus glo.

Het die wet dan geen plek nie omdat ons net hoef te glo? Nee, glad nie! Die wet wys dat om te glo al manier is om deur God aanvaar te word.


LAAI HIER 'N KOPIE AF

Kommentaar
* Die e-pos sal nie op die webwerf gepubliseer word nie.