Brief aan die Christene in Rome
Hoofstuk 2
Alle mense is ewe skuldig in God se oë. Geen mens kan vir 'n ander een vinger wys nie. Om die waarheid te sê, jy veroordeel maar net jouself omdat jy dieselfde dinge doen.
God se veroordeling van mense is gebaseer op die waarheid. Ons veroordeling van ander is menslik en skynheilig want ons doen dieselfde dinge. Ons staan net so skuldig voor God soos alle ander mense.
Wanneer jy iemand anders veroordeel is jy eintlik verwaand en minag jy die rykdom van God se goedheid, verdraagsaamheid en geduld. Besef eerder dat God se goedheid jou die geleentheid gee om na Hom toe te kom.
Maar nou veroorsaak jou hardkoppigheid en onbekeerde gesindheid dat jy God al kwater maak. Op die dag van sy regverdige oordeel sal jy sy woede ontgeld!
God "sal elkeen vergoed volgens wat hy gedoen het." Vir dié wat aangehou het om goed te doen en só eer en glorie en onsterflikheid te vind, sal Hy dit gee om altyd by Hom te lewe.
Maar vir dié wat self-gesentreerd is, die waarheid van Jesus verwerp en als wat verkeerd is aanhang, wag daar Sy woede en vergelding.
Daar wag moeilikheid en angs vir elke mens wat kwaad doen, of jy 'n Jood is of nie. Vir dié wat goed doen wag daar eer en glorie en vrede, eerstens vir die Jode, maar ook vir enige iemand anders. Want God trek niemand voor nie.
Almal staan ewe skuldig voor God. Dié sonder Moses se wet sal sonder die wet verlore gaan. Dié wat Moses se wet het, sal deur die wet geoordeel word. Want dit is nie dié wat die wet het wat reg is in God se oë nie, maar dié wat doen wat die wet sê wat deur God aanvaar sal word.
[Om die waarheid te sê, die ongelowiges wat nie die wet van Moses het, doen baie keer wat die wet vereis. Daarmee wys hulle dat hulle 'n wet vir hulleself is.
Hulle wys dat die vereistes van die wet in hulle binneste geskryf staan. Hulle gewetes wys dit ook, want baie kere voel hulle skuldig oor wat hulle doen en ander kere voel hulle weer goed.]
Aan die einde sal God dit wat almal in die geheim gedoen het, beoordeel deur Jesus Christus. Dit is my boodskap.
Nou wat die Jode betref en diegene wat die wet van Moses probeer nakom. Julle beroep julle op julle nakoming van die wet en dat julle God ken. Julle sê dat julle weet wat God se wil is en wat die beste is vir elkeen omdat julle die wet ken.
Julle is oortuig dat julle leiers is vir geestelike blindes, 'n lig vir die onkundiges, 'n predikant vir die wat niks weet nie en 'n onderwyser is vir kinders. Julle matig julleself dit alles aan omdat julle dink dat julle in die wet die samevatting het van alle wysheid en kennis.
Julle dan wat ander leer, hoekom leer jy nie jouself nie? Jy wat preek dat 'n mens nie mag steel nie, het jy nog nooit iets gevat wat nie joune is nie?
Jy wat sê dat mense nie mag egbreek nie, het ky nog nooit 'n ander se man of vrou begeer nie? Jy wat 'n afsku in afgode het, maak jy nie partykeer staat op die geluksgodin nie?
Jy beroep jou op jou wetsonderhouding - onteer jy God nie deur die wet te breek nie? Dit is geskryf: "As gevolg van julle word God gespot onder die ongelowiges."