2 min gelees

Brief aan die Christene in Rome
Hoofstuk 1

Ek, Paulus, skryf hierdie brief aan almal in Rome vir wie God lief is en wat Hy bestem het om aan Hom te behoort.

Ek is 'n dienaar van Jesus Christus. God het my aangestel en afgesonder as sy amptelike boodskapper om sy goeie nuus te vertel.

Hy het hierdie goeie nuus vroeër by monde van die profete belowe en hulle het dit neergeskryf.

Die goeie nuus gaan oor sy Seun wat as mens gebore is uit die nageslag van Dawid. Die Heilige Gees het Hom op 'n kragtige manier bekend gestel as die Seun van God toe Hy, Jesus Christus ons Here, uit die dood laat opstaan het.

Sy onvoorwaardelike liefde het ons sy boodskappers gemaak. Dit is ons taak om, uit dankbaarheid vir wat Hy gedoen het, mense onder al die heidene aan te spoor om Hom te vertrou. Julle is deel van dié wat Hom vertrou, want Jesus Christus het julle daarvoor bestem.

Ons groet julle. Mag julle die onvoorwaardelike liefde en die vrede van God ons Vader en ons Here Jesus Christus, in julle lewe ervaar!

Die eerste ding wat ek altyd doen is om deur Jesus Christus vir God dankie te sê vir julle almal. Want almal oraloor hoor dat julle in Hom glo en op Hom vertrou.

Ek dien God deur mense die goeie nuus van sy Seun te vertel. Dit is iets wat ek met my hele hart doen. Hy weet dat ek sonder ophou aan julle dink en Hom altyd smeek vir 'n geleentheid om na julle toe te kom, as dit is wat Hy wil hê.

Ek verlang daarna om julle te sien en om 'n geskenk van die Heilige Gees vir julle te gee sodat julle kan aanhou om op God te vertrou. Wat ek bedoel, is dit - ek wil na julle toe kom sodat ons mekaar kan bemoedig om aan te hou om op God te vertrou.

Ek wil hê julle moet weet, my broers, dat ek dikwels planne gehad het om na julle toe te kom. My planne het nog nie uitgewerk nie. Ek sou graag nog ander daar by julle wou oortuig om in Jesus te glo. Dit is immers my taak onder die heidene.

Ek is dit teenoor almal verskuldig om hulle van Jesus te vertel, of dit Grieke of nie-Grieke is, wyse of dwase mense. Daarom verlang ek daarna om ook aan die mense in Rome van Jesus te vertel.

Want ek skaam my nie oor die goeie dinge wat Christus vir ons gedoen het nie. Dit is God se kragtige manier waarop Hy elkeen red wat op Hom vertrou. Dit geld in die eerste plek vir die wetsonderhoudende Jode, maar ook vir alle ander mense.

In dit wat Christus gedoen het, sien ons hoe enige persoon in 'n regte verhouding met God kan kom - net deur op Jesus te vertrou. So eenvoudig is dit.

Daar staan geskryf: "Elkeen wat op God vertrou, sal deur Hom aanvaar word. Om op God te vertrou, is wat dit beteken om werklik te lewe."

Ons kan duidelik sien dat God kwaad is vir alle mense wat sonder Hom lewe en net doen wat verkeerd is. Hulle probeer die waarheid wegsteek onder alles wat hulle verkeerd doen.

Hierdie mense ignoreer die feit dat God homself duidelik in hulle en aan hulle bekend gemaak het.

Hy het sy onsigbare krag en goddelikheid sedert die skepping duidelik sigbaar gemaak in alles wat Hy doen. Almal kan dit sien en verstaan sodat hulle geen verskoning het om Hom nie te erken nie.

Alhoewel hulle Hom uit sy skeppingswerk ken, het hulle Hom nie as God erken of vereer nie. Hulle was vol "slim" redenasies, maar dit was dwaasheid wat hulle net verder verblind het om God nie raak te sien nie.

Hulle het gemaak of hulle slim is, maar eintlik is hulle dwaas. Dit is net dwase wat die glansende koningskap van die ewige God probeer uitbeeld in tydelike menslike of dierlike beelde.

Daarom kan ons God se woede uit die hemel duidelik sien in hulle lewe. In sy woede het Hy hulle oorgegee aan hulle sondige begeertes om hulle liggame met mekaar te onteer.

In plaas daarvan dat hulle geglo het dat God werklik bestaan, het hulle verkies om 'n leuen te glo. Hulle het die Skepper verruil vir dit wat Hy gemaak het. Hulle het eerder sy handewerk vereer en gedien as die Skepper wat vir altyd geprys moet word. So is dit en so sal dit altyd wees.

In sy woede het God hulle oorgegee aan hulle skandelike begeertes. Vroue het die natuurlike seksuele omgang tussen man en vrou verruil vir onnatuurlike omgang met mekaar.

Mans het dieselfde gedoen. Hulle het die seksuele omgang met die vrou laat staan en hulle seksuele wellus met mekaar bevredig. Mans het met mans seks gehad - wat 'n skande! - en daardeur God se straf oor hulleself gebring.

Omdat hierdie mense God nie in die minste in berekening gebring het nie, het Hy hulle daaraan oorgegee om alles te doen wat verkeerd is.

Hulle het gehoereer, was boos en vol jaloesie en het alles begeer wat hulle oë sien. Hulle het geweld liefgehad, baklei, bedrieg, gemoor. Hulle was vir almal kwaad en het van ander kwaad gepraat en geskinder. Hulle wou nie met ander vrede maak nie. Hulle het God gehaat, was trots op hulleself en het groot gepraat. Hulle was goed daarmee om verkeerde dinge uit te dink. Hulle was ongehoorsaam aan hulle ouers, sonder enige wysheid en insig. Jy kon nooit op hulle staat maak nie. Hulle het vir niemand anders omgegee nie.

Hulle is mense wat God se bepalings goed ken. Hulle weet dat die wat sulke dinge doen die dood as straf sal ontvang. Nogtans hou hulle aan om dit alles te doen en praat ander goed wat dit ook doen.

LAAI HIER 'N KOPIE AF

Kommentaar
* Die e-pos sal nie op die webwerf gepubliseer word nie.