1 min gelees

Brief aan die Christene in Rome

Romeine 7


Julle behoort te weet, broers, want julle ken die wet, dat 'n mens net aan die wet onderhewig is solank as wat hy lewe.

'n Getroude vrou, byvoorbeeld, is net aan haar man gebonde solank as wat hy lewe. As hy sterf, is sy nie meer wetlik aan hom verbind nie.

As sy 'n ander man s'n word terwyl haar man lewe, pleeg sy egbreek. As haar man egter sterf, is sy vry van die wet en kan sy met iemand anders trou. Dan pleeg sy nie egbreek nie.

So is dit ook met julle, broers. Omdat julle deel is van Christus se liggaam en saam met Hom gesterf het, is julle dood ten opsigte van die wet. Die wet geld nie meer vir julle nie. Julle is nou vry om aan 'n ander te behoort, aan Hom wat uit die dood opgewek is. Dan kry God die eer vir dit wat ons in ons lewe doen.

Toe ons volgens ons menslike natuur gelewe het, het die wet sondige begeertes in ons wakker gemaak en het ons dinge gedoen wat tot niemand se voordeel was nie.

Maar nou is ons ontslae van die wet waaronder ons gebuk gegaan het, want ons het dit afgesterf. Nou lewe ons volgens die nuutheid van die Heilige Gees en nie meer volgens die oudheid van die wet met sy voorskrifte nie.

Kan ons die gevolgtrekking maak dat die wet sonde is? Nee, glad nie! Dit is deur die wet dat ek kan weet wat sonde is. Byvoorbeeld, dit is omdat die wet sê, "Jy mag nie begeer nie", dat ek die sonde van begeerlikheid ken.

Dit is die wet wat die sonde in my wakker gemaak het en allerhande begeertes gewek het. Want sonder die wet het die sonde geen aantrekkingskrag nie.

Toe daar nog nie 'n wet was nie, kon ek lewe. Maar toe die wet gekom het, het dit die sonde in my wakker gemaak en dit het my laat sterf.

Die Tien Gebooie wat vir my riglyne moes wees oor hoe om te lewe, het uiteindelik my dood veroorsaak. Deur die sonde het die wet my verlei en my laat sterf.

Ons moet dus tot die gevolgtrekking kom dat die wet van Moses heilig is en die Tien Gebooie heilig en reg en goed.

Is dit die wet, wat goed is, wat tot my dood gelei het? Weereens, nee! Dis die sonde wat tot my dood gelei het. Só erg is die sonde, dat selfs die wet dit nie kon verhinder om my te laat sterf nie. Die wet wys dus hoe erg die sonde eintlik is!

'n Verdere verskil is dat die wet goddelik is en ek menslik, uitgelewer aan die sonde. Ek het nie beheer oor my doen en late nie. As ek goed wil doen, kry ek nie reg nie, maar die verkeerde kry ek so maklik reg!

Net die feit dat ek probeer doen wat reg is, wys dat ek saamstem dat die wet goed is. Dat ek dit nie regkry om die goeie te doen nie, wys hoe diep gesetel die sonde in my is.

Ek weet dat in my, dit wil sê in my menslikheid, niks goed is nie. Ek wil graag goed doen, maar kry dit net nie reg nie! Die goeie wat ek wil doen, kry ek nie reg nie, en die kwaad wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.

As ek doen wat ek nie wil nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my bly.

Ek ontdek dus hierdie wetmatigheid in my: ek wil die goeie doen, maar as ek agterkom, het ek alreeds gedoen wat verkeerd is.

In my gees verlustig ek my in God se wet. Maar, in my liggaam voer 'n ander wetmatigheid die botoon. Hierdie wetmatigheid oorheers my innerlike mens wat lief is vir God se wet en hou my gevange deur die wetmatigheid van die sonde wat my liggaam oorheers.

Ek is 'n verlore mens! Wie sal my vrymaak van hierdie liggaam wat net wil sonde doen en my laat afstuur op die ewige dood?

Ek dank God dat Hy presies dit deur Christus Jesus ons Here kom doen het.

Daar is dus twee wetmatighede in my: my innerlike mens wat die wet van God wil nakom, en my liggaamlike mens wat die wetmatigheid van die sonde in my moet gehoorsaam.


LAAI HIER 'N KOPIE AF

Kommentaar
* Die e-pos sal nie op die webwerf gepubliseer word nie.