1 min gelees

Brief aan die Christene in Rome

Romeine 6

Wat is ons gevolgtrekking van alles waaroor ons tot dusver gepraat het? Sal ons meer sonde doen sodat God se onvoorwaardelike liefde meer kan word?

Nee, dit is onmoontlik om meer sonde te doen! Ons het doodgegaan vir die sonde. Ons kan nie daarmee aanhou nie!

Dit moet julle weet: ons almal wat deel van Christus Jesus geword het, het ook aan sy dood deel gekry. Toe ons deel van Hom geword het, is ons saam met Hom begrawe in sy dood.

Die Vader se doel met dit alles is dat net soos Christus uit die dood opgewek is deur sy koninklike glans, ons ook so 'n nuwe lewe kan leef.

Want ons wat een met Hom geword het, het nie net deel gekry aan sy dood nie, maar sal ook deel kry aan sy opstanding.

Dit weet ons: ons ou sondige mens is saam met Christus gekruisig sodat ons geneigdheid om sonde te doen tot 'n einde kon kom en ons nie meer sonde sou doen nie.

Hy wat gesterf het, het vir sy sonde betaal. Omdat ons dan saam met Christus gesterf het, is ons seker dat ons ook saam met Hom sal lewe. Ons weet dat Christus, nadat Hy uit die dood opgestaan het, nie weer kan sterf nie. Die dood het geen vat meer op Hom nie!

Want met die dood wat Hy gesterf het, het Hy eens en vir altyd vir die sondes betaal. En die lewe wat Hy lewe, lewe Hy tot eer van God!

Besef daarom dat julle dood is ten opsigte van die sonde, maar dat julle lewe ten opsigte van God. Dit alles omdat julle deel is van Christus Jesus ons Here.


Moet daarom nie die sonde toelaat om om nog steeds oor julle baas te speel nie. Moenie aan julle liggame, wat in elk geval besig is om te dood te gaan, se begeertes toegee nie.

Moenie julle liggame vir die sonde gee deur te doen wat verkeerd is nie. Inteendeel, gee julleself oor aan God, want julle het uit die dood lewend geword. En stel julle liggame tot beskikking van God deur te doen wat reg is.

Die sonde is nie meer julle baas nie. Hy is net baas oor dié wat die wet en Tien Gebooie probeer nakom. Maar julle het deel gekry aan God se onvoorwaardelike liefde. Hier het die sonde geen seggenskap nie.

Beteken dit nou dat ons maar kan sonde doen omdat ons nie meer die wet hoef na te kom nie, maar deel gekry het aan God se onvoorwaardelike liefde? Nee, nooit nie!

Weet julle nie dat julle slawe is van dié een aan wie julle gehoorsaam is nie? Dié wat na die sonde luister, is sy slawe en dit lei tot die dood. Maar as julle aan God gehoorsaam is, aanvaar Hy julle as sy eie.

Maar ons dank God oor julle. Julle het die sonde soos slawe gedien, maar nou het julle met volle oortuiging gehoorsaam geword aan die voorbeeld wat ons julle gestel het en dit wat ons julle vertel het. Dit het julle van die sonde bevry sodat julle nou slawe geword het wat doen wat reg is.

Ek praat menslikerwys hieroor sodat julle dit kan verstaan. Julle het voorheen julle liggame gebruik om te doen wat vieslik is en het gedoen net wat julle wou.

So moet julle nou julle liggame gebruik om te doen wat reg is sodat julle toegewyd aan God kan lewe.

Toe julle die sonde gedien het, was julle los van God. Wat het dit julle gebaat om die dinge te doen waaroor julle julle nou skaam? Dit het tog net daartoe gelei dat julle vir altyd geestelik dood sou wees.

Maar nou is julle bevry van die houvas van die sonde en doen julle dit wat God wil hê. Dit lei tot 'n lewe wat aan God toegewyd is en om uiteindelik altyd by God te wees.

Die rente wat die sonde betaal is die dood, maar die liefdesgeskenk wat God gee is om altyd saam met Hom te lewe. Dit geld almal wat een geword het met Christus Jesus.


LAAI HIER 'N KOPIE AF

Kommentaar
* Die e-pos sal nie op die webwerf gepubliseer word nie.