Brief aan die Christene in Rome
Romeine 5
God het ons as sy eie aanvaar omdat ons in Hom glo. Daarom het ons nou vrede by God deur dit wat ons Here Jesus Christus vir ons gedoen het. Deur Hom het ons nou, deurdat ons glo, deel gekry aan God se onvoorwaardelike liefde.
Hierdie liefde anker ons terwyl ons wag om deel te kry aan God se koninklike glans. Hoe wonderlik gaan dit nie wees nie!
Dit is nie al wat wonderlik is nie. Ons verbly ons ook nou in ons swaarkry. Want ons weet dat ons swaarkry, volharding by ons kweek. En volharding maak ons geestelik fiks om aan te hou hoop. En dit waarop ons hoop sal definitief gebeur want God waarborg dit deur sy liefde vir ons wat Hy tot oorlopens toe deur die Heilige Gees in ons harte gestort het.
Want toe ons nog hulpeloos was, het Christus op die regte vir ons gesterf. Iemand sal miskien nog vir 'n goeie mens sterf, maar nie maklik vir 'n slegte mens nie. Tog het God sy liefde vir ons daarin bewys dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
Hoeveel te meer sal ons van God se toorn vrykom noudat Hy ons as sy eie aanvaar het deur die bloed van sy Seun?
Toe ons nog vyande van God was, het Hy met ons vrede gemaak deur die dood van sy Seun. Hoeveel te meer sal ons deel in God se reddingsplan nou dat Hy lewe!
Dit is nie al wat vir ons wonderlik is nie. God self is die wonderlikste, Hy wat met ons vrede gemaak het deur ons Here Jesus Christus!
Deur een mens, Adam, het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood. So het die dood tot alle mense deurgedring omdat almal gesondig het.
Sonde was van die begin af daar, lank voor die Wet van Moses gekom het. En al kan niemand sonder 'n wet verantwoordelik gehou word vir hulle oortredings nie, het almal tog gesterf, van Adam af tot Moses, selfs al het hulle nie so erg soos Adam gesondig nie.
Adam was egter 'n voorbeeld van Hom wat sou kom. Daar is egter belangrike verskille tussen Adam en Christus.
Deur die sonde van die een mens Adam het baie gesterf. Maar die onvoorwaardelike liefde van die een mens Christus het die liefdesgeskenk van God vir baie mense nog meer gemaak.
Nog 'n verskil is dat Adam se één sonde veroorsaak het dat baie mense veroordeel is. Aan die ander kant het die sondes van baie gelei tot die één liefdesgeskenk van God wat baie mense vrygespreek het van hulle sondes.
Die gevolg van Adam se één sonde was dat die dood 'n houvas op almal gekry het. Die gevolg van God se één liefdesgeskenk, waardeur Hy mense as sy eie aanvaar, is dat hulle in oorwinning lewe deur die Één, Jesus Christus.
Laat ek dit herhaal. Soos deur die één oortreding van Adam alle mense onder God se oordeel gekom het, net so het Jesus se één daad God tevrede gestel sodat alle mense deur God aanvaar kan word om saam met Hom te lewe.
Soos deur die ongehoorsaamheid van die één mens baie mense sondaars geword het, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die één, Jesus, baie mense deur God aanvaar word.
Die wet van Moses het later bygekom om die oortredinge meer te maak en waar die oortredinge meer geword het, het God se onvoorwaardelike liefde nog meer geword.
Uiteindelik is die houvas wat die sonde deur die dood op ons gehad het, vervang met die houvas van God se onvoorwaardelike liefde. Hierdeur aanvaar Hy ons as sy eie sodat ons vir altyd saam met Hom kan lewe deur dit wat ons Here Jesus Christus vir ons gedoen het.