Brief aan die Christene in Rome
Romeine 4
Wat was die posisie van ons voorouer Abraham? As God hom aanvaar het omdat hy iets reg gedoen het, sou hy by mense daarop trots kon wees, maar nie by God nie.
Wat staan in die Skrif? Abraham het in God geglo en daarom het God hom as sy eie aanvaar.
Julle weet tog dat iemand wat werk betaling daarvoor ontvang. Hy werk nie vir 'n geskenk nie. Daarteenoor, hy wat nie werk nie maar net glo in Hom wat die goddelose as sy eie aanvaar, word deur God aanvaar net omdat hy glo.
Dit is ook wat Dawid sê wanneer hy die mense gelukkig ag wat deur God aanvaar word sonder dat hulle iets daarvoor hoef te doen.
"Baie gelukkig is dié mense wie se kwaad vergewe is, wie se sondes weggevat is. Baie gelukkig is die persoon wie se sondes die Here nie teen hom hou nie."
Wie is hierdie gelukkiges? Is dit net die besnede Jode of ook die onbesnede heidene? Wanneer ons sê dat God Abraham aanvaar het omdat Abraham in Hom geglo het - was dit toe hy besny was of onbesnede? Dit was toe hy nog onbesnede was!
Die besnydenis was die uiterlike teken en waarborg wat God hom gegee het dat Hy hom aanvaar omdat Hy in God geglo het toe hy nog nie besny was nie. So het hy die voorouer geword van almal wat sou glo al is hulle nie besny nie en wat daarom ook deur God aanvaar sou word.
Maar Abraham het ook die voorouer geword van die wat soos hy besny sou word én soos hy sou glo terwyl hy nog nie besny was nie.
God het aan Abraham en sy nageslag belowe dat hy die wêreld as erfdeel sou ontvang. Hierdie belofte het God gegee nie omdat hulle die Tien Gebooie of die wet nagekom het nie, maar omdat hulle in Hom geglo het en daarom deur Hom aanvaar is.
Want as hulle deur wetsonderhouding die wêreld as erfenis kon verkry, dan hoef ons nie te glo nie en is God se belofte dat Hy ons aanvaar omdat ons glo waardeloos.
Die wet is daar sodat God die mens kan straf vir sy sonde. As daar nie 'n wet was nie, sou daar ook nie oortreding wees nie.
God aanvaar mense net omdat hulle Hom vertrou en Hy hulle onvoorwaardelik lief het. Dit is wat Hy beloof het en dit geld vir die hele nageslag van Abraham. Dit geld nie net vir die Jode wat die wet ontvang het nie, dit geld ook almal wat soos Abraham God op sy beloftes neem.
So staan dit geskryf: "Ek het jou 'n Vader van baie nasies gemaak." Dit is Abraham in die teenwoordigheid van die God op wie hy vertrou het. Hy het geglo dat God die dooies lewend maak en dit wat nog nie bestaan nie in die lewe roep asof dit lankal bestaan het.
Hy het sonder om op te hou hoop geglo dat hy die vader van baie volke sou word, want dit is wat God hom beloof het: "Só sal jou nageslag wees."
Sonder om te begin twyfel, het hy, toe al honderd jaar oud, nie sy eie ou liggaam of die ou moederskoot van Sara in ag geneem nie.
Hy het nie deur ongeloof aan God se belofte begin twyfel nie. Inteendeel, sy geloof het sy ou liggaam versterk omdat hy God aanbid het as die Een - hiervan was hy ten volle oortuig - wat in staat is om te doen wat Hy beloof het. Omdat hy God só ten volle vertrou het, het God hom as sy eie aangeneem.
Dat God hom as sy eie aanvaar het, is nie net ter wille van hom opgeskryf nie, maar ook ter wille van ons wat God as sy eie sal aanvaar - ons wat glo in Hom wat ons Here Jesus uit die dood opgewek het. Hy is gekruisig ter wille van ons sondes en opgewek sodat ons deur God aanvaar kan word.