Brief aan die Christene in Rome
Romeine 16
Ek vra julle om ons suster Febe hartlik te ontvang. Sy werk in die gemeente in Kengrië. Aanvaar haar as iemand wat deel is van die Here. Dit is hoe 'n mens optree as jy gered is.
Help haar asseblief in enige iets waarin sy hulp mag nodig hê, want sy het baie gelowiges onder haar beskerming geneem, vir my ook.
Nou vir almal wat julle groete moet sê.
• Sê asseblief vir Priskilla en Aquila ek stuur groete. Hulle het saam met my en Christus Jesus gewerk en hulle lewe vir my op die spel geplaas. Dit is nie ek alleen wat hulle baie dankbaar is nie, maar ook al die gemeentes uit die heidene.
• Stuur ook my groete vir die gemeente wat by hulle huis bymekaar kom.
• Groet ook Epenetus, vir wie ek lief is. Hy was die eerste een in Agaje om Christus te aanvaar.
• Groet Maria. Sy het baie gedoen om ons te help.
• Groet Adronikus en Junias, my Joodse broers wat saam met my in die tronk was, van wie die apostels baie dink en wat nog vóór my Christene geword het.
• Groet Amplias, vir wie ek lief is en wat ook deel is van Christus.
• Groet Urbanus wat saam met ons gewerk het in Christus se diens.
• Groet Stochis vir wie ons almal lief is.
• Groet Apélles wat moeilike tye deurgemaak het ter wille van Christus.
• Groet Aristobúlus se gesin en huishouding.
• Groet Heródion, wat soos ek ook 'n Jood is.
• Groet die lede van die familie van Narcíssus wat deel van die Here geword het.
• Groet Triféna en Trifósa, vroue wat ywerig werk vir die saak van die Here.
• Groet Pérsis, ons suster vir wie ons lief is en wat sonder ophou die Here se saak bevorder.
• Groet Rufus, wat spesiaal is vir die Here, en sy ma wat ook vir my 'n ma is.
• Groet Asínkritus, Flegon, Hermas, Pátrobas, Hermes en die broers wat by hulle is.
• Groet Filólogus en Julia, Néreus en sy suster en Olímpas en almal daar by hulle wat deur die bloed van Jesus gereinig.
Groet mekaar met 'n broederlike soen.
Al die gemeentes van Christus stuur vir julle groete.
Broers, julle moet fyn oplet na die wat verdeeldheid probeer bring en dit wat julle geleer het verkeerd probeer bewys. Vermy hulle.
Sulke mense dra nie ons Here Jesus op die hart nie en soek net hulle eie belang. Hulle is vriendelik en kom met mooi praatjies, maar is net daarop uit om dié wat nie goed ingelig is nie, te mislei.
Julle is gehoorsaam aan dit wat julle geleer het. Almal weet daarvan. Vir my is dit 'n bron van vreugde. Onderskei dit wat goed is en doen dit, maar bly weg van dit wat sleg is.
Die God wat vrede gee, sal die Satan binnekort onder julle voete vernietig. Die onverdiende liefde van ons Here, Jesus Christus, behoort aan julle almal. Amen.
Timótheüs wat saam met my werk, stuur groete vir julle. So ook Lúcius en Jason en Sosípater, my mede Jode.
Ek, Tértius, wat die brief geskryf het, groet julle in die Naam van die Here. Gajus, by wie ons en die hele gemeente tuis is, groet julle ook.
Erástus, die finansiële bestuurder van die stad, en die broer Quartus groet julle. Die onverdiende liefde van die Here Jesus Christus is met julle almal! Amen.
God is in staat om julle te versterk - dit is die goeie nuus wat Jesus Christus gebring het en ek vertel het. Vir eeue is dit geheim gehou, maar nou is dit bekend gemaak dat die heidene ook gered kan word. Dit lees ons in die Skrifte.
God het beveel dat dit aan al die heidene bekend gemaak word sodat hulle deur gehoorsaamheid op God kan vertrou.
Hierdie enigste wyse God moet saam met Jesus Christus geprys word vir altyd! Amen.