2 min gelees

Brief aan die Christene in Rome

Romeine 15


Ons wat 'n sterk geloof het, moet dié help wat sukkel om te glo. Ons geloof is nie vir onsself nie, maar vir ander. Elkeen van ons moet na die een langs ons omsien. Ons moet dit wat tot sy voordeel is, voorop stel sodat hy gebou kan word.

So het Christus ook nie sy eie belange voorop gestel nie. Soos dit geskryf is: "Die skandes van dié wat U belaster, het op my neergekom." Alles wat vroeër in die Skrif geskryf is, is geskryf sodat ons daaruit kan leer. Dit wil ons bemoedig om hoopvol aan te hou glo.

En mag God julle aanmoedig sodat julle kan aanhou om eensgesind te wees. Dit is wat die Here Jesus Christus vir ons wil hê. Hy wil hê dat ons sy Vader uit een hart en een mond aanbid. Net soos Christus ons as sy eie aangeneem het, moet julle mekaar ook aanneem, want dan eer ons God.

Ons moet onthou dat Jesus Christus besny is sodat God sy beloftes aan die voorvaders kon nakom. Hy is ook besny sodat die heidene God kan dank dat dit nie Christus se besnydenis is waardeur hulle aanvaar is nie, maar Christus se liefde vir hulle.

So is dit geskryf: "Saam met die nasies sal ek U aanbid en tot God se eer lofliedere sing." Daar staan ook: "Laat die nasies bly wees saam met Sy volk." En: "Loof die Here alle nasies en prys Hom alle volke!"

Jesaja sê ook: "Uit die nageslag van Isaï sal Een kom om oor die nasies te regeer. Hy sal vir hulle 'n hoopvolle toekoms gee."

Mag die God wat ons met hoop vervul julle ook vul met volkome blydskap en vrede deur die geloof wat Hy julle gee. Dan sal julle 'n toekoms vol verwagting hê wat die Heilige Gees julle kragtiglik gee!


Wat my betref is ek heeltemal oortuig dat julle, broers, goeie mense is en besef dat dit die beste is om vir mekaar om te gee.

Nogtans het ek dit gewaag om julle tereg te wys en daaraan te herinner om altyd te doen wat reg is. Ek doen dit want God se onverdiende liefde het my die opdrag gegee om Jesus Christus aan die heidene bekend te stel.

Ek bring die goeie nuus van God sodat die heidene wat dit aanvaar 'n offer kan wees wat Hom te vrede stel, 'n offer wat deur die Heilige Gees gereinig is.

Ek het rede om trots te wees oor al die dinge wat Christus Jesus gedoen het in gehoorsaamheid aan God. Ek praat egter net oor dit wat Christus deur my gedoen het om die heidene tot aanvaarding van die goeie boodskap te bring. Oor wat ekself gedoen het, bly ek liewer stil.

Ek praat eerder oor die boodskap wat Christus deur my gebring het en dit wat Hy deur my gedoen het. Deur die Gees van God het Hy wondertekens en wonderwerke gedoen sodat ek my werk kon klaarkry om die goeie nuus van Jerusalem af tot by Illirikum te vertel.

Dit was my eer om die goeie nuus te bring na mense wat nog nie van Christus gehoor het nie. Ek wou nie werk waar ander al gewerk het nie.

So staan dit geskryf: "Hulle wat nog nie van Hom vertel is nie, sal Hom sien. Hulle wat nog nie van Hom gehoor het nie, sal sy boodskap verstaan."

Dit is wat my verhinder het om na julle toe te kom. Maar my werk hier rond is nou klaar en ek wou al baie lankal na julle toe kom. Ek beplan om op my reis na Spanje 'n rukkie by julle te vertoef. Dan kan julle my verder help op my reis nadat ek vir 'n tyd by julle gebly het.

Ek moet nou egter eers Jerusalem toe gaan om die finansiële bydraes van die heiliges in Macedonië en Agaje vir die arm heiliges daar te vat. Dit was hulle eie besluit om te help. Ek dink dit is reg so, want hulle het geestelik baat gevind by die heiliges in Jerusalem. Nou is hulle dit verskuldig om met finansiële hulp iets terug te gee.

As ek klaar is met hierdie werk en die geld veilig aan hulle besorg het, sal ek by julle aankom oppad Spanje toe. Ek sal dan kom en julle seën met die volle seën van die goeie nuus van Christus.

In die Naam van ons Here Jesus Christus en op grond van die liefde wat die Heilige Gees vir ons het, vra ek julle, broers, om saam met my tot God te bid.

Vra Hom dat die onbekeerde Jode in Judea my nie kwaad sal aandoen nie en dat die Jerusalemse gelowiges die geld wat ek vir hulle bring met dankbaarheid sal aanvaar. Dan sal ek, as dit God se wil is, met blydskap na julle kan kom en ons mekaar kan verkwik!

Die God wat vrede gee, sal met julle almal wees! Amen.


LAAI HIER 'N KOPIE AF

Kommentaar
* Die e-pos sal nie op die webwerf gepubliseer word nie.