Brief aan die Christene in Rome
Romeine 13
Elke mens moet gehoorsaam wees aan die regering wat oor hom regeer, want geen regering kan enige mag uitoefen as God dit nie vir hom gegee het nie.
Elke regering wat daar is, is deur God gegee. As jy jou teen jou regering versit, versit jy jou teen God se instelling. Daarvoor sal God jou oordeel.
'n Mens hoef nie vir 'n regering bang te wees as jy goed doen nie, net as jy kwaad doen. Doen wat goed is, en jy hoef nie jou regering te vrees nie. Inteendeel, hy sal jou daarvoor erkenning gee.
Jou regering is daar om God te dien tot jou voordeel. Maar as jy kwaad doen, vrees dan, want hy het die wapens om jou te straf. Hierin voer hy God se gesag uit om namens God dié wat kwaad doen te straf.
Wees daarom onderdanig aan jou regering. Dan sal hy jou nie straf nie en jy sal met 'n skoon gewete kan leef.
Dit is ook hoekom julle belastings betaal. Dit is jou regering se werk om in gehoorsaamheid aan God belasting te vorder.
Betaal aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan dié wat belasting ontvang; tolgeld aan dié wat tolgeld vorder; vrees aan dié wat gevrees moet word; en eerbied aan dié wat eerbied toekom.
Julle moet nie mekaar geld skuld nie. Al wat julle mekaar moet skuld is om mekaar lief te hê. Hy wat 'n ander liefhet, het die bedoeling van die Tien Gebooie nagekom.
Alles wat die wet sê, kan in een sin saamgevat word: Jy moet die een hier langs jou so lief hê as wat jy jouself het.
Dit is tog wat die wet bedoel met...
• Jy moet nie aan jou vrou ontrou wees nie.
• Jy mag nie iemand doodmaak nie.
• Jy mag nie steel nie.
• Jy mag nie lieg nie.
• Jy mag nie begeer nie.
• En watter ander gebod daar mag wees.
As jy iemand liefhet, sal jy hom nie kwaad aandoen nie en doen jy in elk geval dit wat die wet wil hê.
Dit is nou belangriker as ooit om mekaar lief te hê. Ons kan sien wat om ons aangaan. Dit is tyd om uit die slaap wakker te word. Die wederkoms van Jesus is nou nader as toe ons Hom leer ken het.
Die nag het ver gevorder, dit is al amper dag. Laat ons ophou met die konkelwerk van die nag en gereed wees vir die daglig wat gaan aanbreek.
Doen die dinge waarvoor 'n mens jou nie skaam nie, wat die toets van daglig kan deurstaan.
Laat staan die partytjies en drinkery en seksuele losbandigheid. Moenie agter jou sondige begeertes aanloop nie. Hou op om met mekaar te stry en om op mekaar jaloers te wees.
Trek eerder die Here Jesus soos 'n kledingstuk aan en laat geen ruimte om julle menslike begeertes te bevredig nie.