Brief aan die Christene in Rome
Hoofstuk 12
Broers, omdat God vir julle omgee, doen ek 'n beroep op julle. Gee julle liggame vir Hom. Doen daarvan afstand soos 'n mens van 'n lewende offer afstand doen. Dit is wat Hy wil hê. Dit is die manier om Hom te dien.
En moenie soos die mense van hierdie wêreld lyk nie, maar word verander deur al hoe meer soos God oor alles te dink. Dan sal julle agterkom wat vir Hom belangrik is - alles wat goed, reg en sonder kwaad is.
Op grond van God se onverdiende liefde waaraan ek deel het, sê ek vir julle almal: Moenie meer van jouself dink as wat jy behoort te dink nie. Wees beskeie en op jou plek in Christus se liggaam volgens die God jou geloof gegee het.
Omdat ons deel is van Christus is ons één liggaam, maar ons is verskillende liggaamsdele met verskillende funksies. Ons vorm almal saam een liggaam en is mekaar se liggaamsdele.
As liggaamsdele het ons verskillende funksies soos God se onverdiende liefde dit aan elkeen van ons gegee het.
Aan een is dit gegee om profeties God se boodskap te bring - volgens die mate wat God hom geloof daarvoor gee. Aan 'n ander om te dien soos wat dit nodig is.
Vir 'n ander gee God dit om onderrig te gee. Of om die wat moed verloor te bemoedig.
Ander weer moet met vrygewigheid sorg dat almal genoeg het. Die leiers onder julle moet ywerig wees in die leiding wat hulle gee. Die wat ander versorg, moet dit doen met blydskap.
Moenie skynheilig wees in julle liefde vir mekaar nie, vermy wat sleg is en waardeer wat goed is. Wees vriendelik teenoor mekaar met broederliefde. Wees 'n voorbeeld vir mekaar en respekteer mekaar.
Wees ywerig in wat julle doen. Doen dit met volle oorgawe. Dien die Here. Wees bly dat julle 'n toekoms het, al moet julle nou swaarkry met geduld klaarkry. Hou aan om te bid.
Help julle medegelowiges wat swaar kry. Wees gasvry. Spreek seën uit oor dié wat julle kwaad aandoen, seën hulle en moenie hulle vloek nie.
Wees betrokke by mekaar. Wees bly saam met dié wat bly is en huil saam met dié wat huil.
Moenie met mekaar stry nie. Moenie belangrik probeer wees nie, maar hou julle nederig. Moenie eiewys wees nie.
Moenie iemand in eie munt probeer terugbetaal nie. Sien die goeie in almal raak en leef, sover julle kan, in vrede met alle mense.
Julle moet julle nie op ander wreek nie, geliefdes van God. As iemand jou kwaad aandoen, moenie met wraakgedagtes daarop reageer nie.
Onthou wat geskryf is: "Ek sal wraak neem, sê die Here. Ek sal toesien dat geregtigheid geskied."
As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet. As hy dors het, gee hom iets om te drink. Op hierdie manier sal jy hom laat bloos van skaamte.
Moenie toegee aan die kwaad dat dit jou oorheers nie. Inteendeel, oorwin die kwaad deur te doen wat goed is.