1 min gelees

Openbaring 22:6-21


KOM HERE JESUS!

Die engel sê toe vir my: "Dit wat jy gehoor het, is die waarheid en sal gebeur. Die Here God, wat sy Gees aan die profete gee om sy boodskap te bring, het sy engel gestuur om vir sy diensknegte te wys wat binnekort gaan gebeur."

Jesus sê toe self: "Let op! Ek kom binnekort! Baie gelukkig is elkeen wat dit wat in hierdie profetiese boek geskryf is, in sy binneste bewaar."

Dit is ek, Johannes, wat dit alles gehoor en gesien het. Toe ek dit alles gehoor en gesien het, het ek in aanbidding op my knieë neergeval voor die voete van die engel wat dit alles vir my gewys het.

Maar hy sê vir my: "Pasop! Moenie! Ek is maar net 'n medewerker van jou en van almal wat op Jesus vertrou, van die profete en almal wat die inhoud van hierdie boek in hulle binneste bewaar. God is die een wat aanbid moet word!"

Hy het verder gesê: "Almal moet hoor wat in hierdie profetiese boek geskryf is, want die einde van die tyd is voor die deur. Nie dat dit iemand se lewe gaan verander nie, maar elkeen wat kwaad doen, gaan aanhou om kwaad te doen en elkeen wat vuil is van sonde, gaan vuil bly. Hy wat doen wat reg is, gaan aanhou doen wat reg is en hy wat skoon is van sonde, sal skoon bly."

Jesus se toe self weer: "Let op! Ek kom binnekort! En dan kom Ek met my beloning om elkeen te vergoed vir wat hy gedoen het. Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde van alles. Baie gelukkig is elkeen wat hulle vuil klere gewas het sodat hulle skoon is van alle sonde. Hulle mag eet van die boom wat lewe gee en deur die poorte in die stad ingaan. Hulle mag aan My deel kry en deel wees van my bruid."

"Maar buitekant die stad is die mense wat ander van die waarheid laat afdwaal het, mense wat ander bedrieg het en dié wat net gedoen het wat hulle wil. Saam met hulle is dié wat moord gepleeg en afgode aanbid het. Kortom, almal wat die leuen liefhet en daarvolgens lewe."

"Ek, Jesus, het my engel gestuur sodat die gemeentes dit alles kan hoor. Ek is die nageslag, die nakomeling van Dawid. Ek is die helder Môrester, wat die oggend van die nuwe skepping aankondig."

Die Gees en die bruid roep na die Bruidegom: "Kom!" Elkeen wat dit hoor, moet saam roep: "Kom!" En elkeen wat dors na die lewe, moet saam kom. Elkeen wat van die water wil hê wat lewe gee, moet kom drink. Dit is verniet!

Elkeen wat hoor wat in hierdie profetiese boek geskryf is, mag niks daaraan byvoeg nie. Anders sal God hom laat deel in die oordele waarvan in hierdie boek geskryf is. As iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegvat, sal God sy deel aan die boom van die lewe, die Lam, wegvat. God sal ook sy deel aan die heilige stad, die bruid, waarvan in hierdie boek geskryf is, wegvat.

Hy, die Christus, wat al hierdie dinge bekend maak, sê: "Ek kom verseker binnekort!"

"Dit is so en sal altyd waar wees! Ja, kom, Here Jesus!"

Die onverdiende liefde van ons Koning Jesus Christus sal by julle almal wees! Dit sal altyd so wees!

KLIEK HIER VIR 'N KOPIE