4 min gelees

Openbaring 8-11

Hoofstuk 8

DIE SEWENDE SEËL

Toe die Lam die sewende seël van die boekrol met God se oordele oopbreek, het daar 'n eerbiedige stilte in die hemel gekom, omtrent 'n halfuur lank.

DIE SEWE TROMPETTE

Ek het gesien hoe aan die sewe engele wat voor God staan, sewe trompette gegee is.

DIE GOUE WIEROOKBAK – DIE GEBEDE VAN DIE HEILIGES

'n Ander engel het met 'n goue wierookbak by die offerplek gaan staan. Baie wierook is aan hom gegee. Hy het dit saam met die gebede van die heiliges, hulle wat deur die bloed van die Lam geheilig is, op die goue offerplek voor die troon neergesit.

Die engel het die wierook aan die brand gesteek en dit het met die gebede van die heiliges gemeng en 'n lieflike geur het voor God opgestyg. God het die gebede beantwoord en die engel het die wierookbak met vuur van die offerplek volgemaak en dit op die aarde uitgegooi. Daar was harde stemme, donderslae en weerligte. Aardbewings het die aarde geskud.

Hierna het die sewe engele hulle gereed gemaak om die trompette te blaas.

DIE EERSTE TROMPET

Die eerste engel het sy trompet geblaas. 'n Mengsel van hael, vuur en bloed is op die aarde gegooi. 'n Derde van die bome en al die groen gras het verbrand.

DIE TWEEDE TROMPET

Die tweede engel het geblaas. Iets soos 'n brandende meteoriet is in die see gegooi. 'n Derde van die see het doodgegaan, dit het soos bloed geword. 'n Derde van die seelewe het gesterf en 'n derde van die skepe het gesink.

DIE DERDE TROMPET

Die derde engel het geblaas. 'n Groot ster wat soos 'n fakkel brand het uit die ruimte op die varswaterbronne geval. Die naam van die ster was "Bitterheid". 'n Derde van die vars water het bitter geword en baie mense het daarvan gesterf.

DIE VIERDE TROMPET

Die vierde engel het geblaas. Die son, maan en sterre het vir agt ure elke dag donker geword. Agt ure per dag en agt ure snags was dit pikdonker.

Ek het 'n engel sien vlieg in die middel van die hemel en gehoor hoe hy met 'n harde stem sê: "Ellende, ellende, ellende wag vir die wat op die aarde woon wanneer die laaste drie engele hulle trompette blaas!”


Hoofstuk 9

DIE VYFDE TROMPET
DIE EERSTE ELLENDE

Die vyfde engel het sy trompet geblaas. 'n Ster het uit die hemelruim op die aarde geval. God het die ster die diep gat na die dooies se onderwêreld laat oopval. Toe die ster die diep gat van die onderwêreld oopval, het bolle swart rook uit die gat gekom, soos rook van 'n groot vuur. Die rook het die son en die lug donker gemaak.

Uit die rook het 'n demoniese leërmag soos 'n sprinkaanplaag gekom. God het hulle verbied om enige groen gras of enige iets wat groen is te eet, ook boomblare. Hy het hulle beveel om alle mense te pynig wat nie met sy seël op hulle voorkoppe verseël is nie. Dit is almal van wie dit duidelik is dat hulle nie aan God behoort nie.

Die demone moet hulle vyf maande lank vir 'n vasgestelde tyd pynig, maar mag hulle nie doodmaak nie. Die pyn is soos wanneer 'n skerpioen 'n mens steek. Dit sal só seer wees dat die mense wens hulle kan sterf, maar hulle sal nie sterf nie. Hulle sal wens om gou dood te gaan, maar die dood sal wegbly.

Die sprinkane is oorlogsugtig soos perde wat gereed is vir oorlog en het 'n verwaandheid asof hulle konings is. Hulle het vroom voorgegee om mense te wees met menslike gesigte en vrouehare, maar hulle byt was so aggressief soos 'n leeu s'n. Niemand kon hulle iets aandoen nie, want hulle was gepantser met iets soos ysterharnasse.

Hulle was baie intimiderend. Hulle het 'n groot geraas gemaak soos baie pantservoertuie wat op pad is oorlog toe. Die wapens aan hulle agterkante, waarmee hulle die mense seergemaak het, was soos skerpioene se angels. Hulle is toegelaat om die mense net vir 'n beperkte tyd te pynig met hulle wapens.

Die demone se aanvoerder is die duiwel se hoofengel van die onderwêreld. In Hebreeus is sy naam "Abaddon" en in Grieks "Apollos".

Dit was die eerste "Ellende" wat die engel aangekondig het. Maar pasop, daar kom nog twee!

DIE SESDE TROMPET
DIE TWEEDE ELLENDE

Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Op die goue offerplek voor God se troon is daar vier horings wat God se krag uitbeeld. Tussen die horings het iemand vir die sesde engel met die trompet gesê: "Laat die vier engele los wat by die Eufraatrivier gewag het."

Die vier engele wat gewag het vir hierdie presiese oomblik, is losgelaat om 'n derde van die mensdom dood te maak. Hulle was die aanvoerders van 'n ontsaglike groot leër van biljoene soldate. Ek het gehoor hoeveel daar is.

Die leër se pantserkarre en hulle bestuurders was gekamoefleer in vuurrooi, donkerblou en swaelgeel kleure. Die pantserkarre het soos alle wapentuig wreedaardig gelyk. Uit hulle voorkante het vuur, rook en swael geskiet. Hierdie drie wapens, die vuur, rook en swael het 'n derde van die mensdom doodgemaak.

Die pantserkarre se wapens waarmee hulle skade aangerig het, was aan hulle voor- én agterkante gemonteer. Hulle agterkante is soos geweerlope wat mense gepynig het.

Die ander mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het nie hulle lewenswyse verander en hulle tot God bekeer nie. Hulle het aangehou om demone te aanbid. Hulle het vir hulleself afgode gemaak om op te vertrou, gode van goud, silwer, koper, klip en hout, wat nie kan sien of hoor of loop nie. Hulle het hierdie gode aanbid. Hulle aangehou om moord en diefstal te pleeg en nie opgehou met okkultisme en seksuele onsedelikheid nie.


Hoofstuk 10

DIE GOEIE NUUS VAN GOD SE FINALE OORDEEL

Toe het ek 'n ander sterk engel uit God se hemelse woonplek sien kom. Hy was omring met 'n wit wolk, God se teenwoordigheid, en bokant sy kop was 'n reënboog, die teken van God se onvoorwaardelike liefde. Sy gesig het geblink soos die son en sy bene pilare wat soos vuur geskitter het. In sy hand het hy 'n oop boekie gehad.

Hy het met sy regtervoet op die see en met sy linkervoet op die land gaan staan en met 'n harde stem geroep soos 'n leeu wat brul. Toe hy uitroep, het sewe donderslae geslaan. Toe die sewe donderslae slaan, wou ek dit neerskryf, maar ek het 'n stem uit die hemel hoor sê: “Hou geheim wat die sewe donderslae beteken. Moet dit nie neerskryf nie.”

Die engel wat ek op die see en die land sien staan het, het toe sy regterhand na die hemel opgelig en gesweer by Hom wat vir altyd lewe, wat die hemel en wat daarin is, die land en wat daarop is, die see en wat daarin is, gemaak het.

Hy het gesê: "Ek sweer dat min tyd oor is! Die oomblik is naby dat die engel die sewende trompet gaan blaas. Dan sal God se plan met alles, wat tot nou toe nog onduidelik was, duidelik word. Dit was die goeie nuus wat Hy aan sy dienaars, die profete, bekend gemaak het.

Die stem van Jesus wat ek uit die hemel gehoor het, het toe weer met my gepraat en vir my gesê: “Gaan vat die oop boek in die hand van die engel wat op die see en die land staan."

Ek het na die engel toe gegaan en hom gevra om die boekie vir my te gee. Hy sê toe vir my: “Vat dit en eet dit op. Dit smaak lekker, soos soet heuning, maar dit laat 'n naar gevoel in jou maag."

Ek het toe die boekie uit die hand van die engel gevat en dit opgeëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, het my maag naar geword. Dit het 'n smaaklike boodskap gehad, maar die uiteinde daarvan was bitter sleg.

Toe sê hulle vir my: “Gaan vertel weer vir die mense God se boodskap. Dit wat in die die boekie staan wat jy geëet het, is God se oordeel wat oor baie volke, nasies, tale en regeerders gaan kom."


Hoofstuk 11

GOD SE BOODSKAPPERS

Iemand het my 'n maatstaf gegee wat soos 'n koning se septer lyk en gesê: "Meet die tempel, die plek waar God aanbid word, die offerplek en die mense wat daar aanbid. Dit is waar God sy heerskappy uitoefen."

"Maar die voorhof, wat buitekant die tempel is, moet jy nie meet nie. Laat dit heeltemal buite rekening. Dit is aan die ongelowiges oorgegee. Hulle sal God se stad daar met hulle ongeloof besoedel, maar net vir twee-en-veertig maande, 'n vasgestelde tyd."

"Ek sal my twee getuies stuur om vir drie en 'n half jaar, 'n vasgestelde tyd, my boodskap vir hulle te bring. Die boodskap wat hulle bring is die waarheid. Hulle sal rouklere aanhê, want dit is 'n smartlike boodskap."

"My twee getuies is die twee olyfbome en die twee lampe wat altyd voor die Here van die aarde staan. Die olyfbome se olie hou die lampe aan die brand. Die twee lampe is dié gemeentes wat my boodskap bring en wat toegerus is met die olie van die Heilige Gees. Hulle is altyd in my teenwoordigheid."

"As iemand hulle kwaad wil aandoen, vernietig hulle hulle vyande se aanvalle met vurige antwoorde van die Heilige Gees. So moet elkeen stil gemaak word wat hulle kwaad wil aandoen."

"Hulle kan die hemel toesluit sodat niemand gedurende die hele tyd wat hulle God se boodskap bring, toegang tot God en sy seën sal kry nie. Hulle kan ook al die water in bloed verander sodat mense geestelik dors ly. Hulle mag ook, soos hulle wil, die aarde met allerhande plae tref om die lewe vir die mense baie moeilik te maak."

Wanneer hulle klaar hulle werk gedoen het, sal 'n gewetenlose dierlike wese uit die onderwêreld kom. Hy sal teen die getuies veg, hulle oorwin en hulle stilmaak. Hulle stilte sal tot in die middel van die groot stad Jerusalem, waar hulle die Here gekruisig het, gehoor word. Die stad is 'n voorbeeld van Sodom se goddeloosheid en Egipte se afgodediens.

Mense van oor die hele aarde, van al die volke, stamme, tale en nasies, sal vir 'n kort tydjie, drie en 'n half dae, hoor dat hulle stil is en sal dit aan almal vertel. Die mense op die aarde sal baie bly wees dat hulle stil is. Hulle sal mekaar gelukwens, want die twee profete het hulle geteister met dit wat hulle gesê en gedoen het.

Ná die drie en 'n half dae, 'n baie kort tyd, het God hulle stilte verbreek. Hulle het opgestaan en almal wat hulle gesien het, het baie bang geword. 'n Harde stem het hulle geroep: "Kom op hierheen!" Hulle het toe in 'n wolk van God se teenwoordigheid na die hemel toe opgevaar terwyl hulle vyande toekyk.

Op daardie oomblik is die aarde geskud met 'n groot aardbewing en 'n tiende van elke stad wat goddeloos was en afgode gedien het, het inmekaar geval en die inwoners het gesterf. Sewe duisend mense, die volle bestemde getal, het in die aardbewing omgekom. Dié wat oorgebly het, was so bang dat hulle aan God in die hemel eer gegee het.

Dit was die tweede "Ellende" wat die engel aangekondig het. Pasop, die derde kom gou!

DIE SEWENDE TROMPET
DIE DERDE ELLENDE

Die sewende engel het sy trompet geblaas. In die hemel het stemme hard uitgeroep: "Die koningskap oor die hele wêreld heen behoort aan ons Here en aan die Christus wat Hy aangestel en toegerus het met die Heilige Gees. Hy sal vir altyd as koning heers!"

Die vier-en-twintig oudstes wat op hulle trone voor God sit, het met hulle gesigte na die grond toe gekniel en God aanbid en gesê: "Dankie, Here, U wat God is, die Al-magtige, wat nou daar is, nog altyd daar was en altyd daar sal wees, dat U nou met groot mag heers! Die heidennasies was woedend, maar nou het die tyd aangebreek vir U om hulle te oordeel."

"Die einde van die tyd het gekom. Die dooies word geoordeel. U dienaars die profete en al die gelowiges, die wat U eer, klein en groot, ontvang nou die beloning omdat hulle aangehou het om U te vertrou. Die wat die aarde vernietig het, word nou vernietig."

Toe het God se hemelse tempel oopgegaan en het dit weer toeganklik geword. Ek kon die ark van die verbond, wat in die tempel is, sien. Weerligstrale het geblits, donderslae het gedreun en die aarde het geskud terwyl groot haelkorrels val.

LAAI 'N KOPIE HIER AF