Openbaring 1-3
DIE SEWE BRIEWE
Hoofstuk 1
Hierdie profetiese boek gaan oor dit wat God aan Jesus Christus gegee het om aan sy dienaars te wys wat gou, voor die einde van die wêreld, gaan gebeur.
Hy het sy engel gestuur om dit alles vir sy dienaar Johannes te wys. Johannes vertel hier van alles wat God gesê het, wat Jesus Christus hom vertel het en alles wat hy gesien het. Gelukkig is elkeen wat hierdie profetiese boek lees of hoor wat daarin staan en dit in sy binneste bewaar. Die tyd dat dit alles gebeur, is voor die deur.
Ek, Johannes, skryf hierdie boek aan die sewe gemeentes in Asië wat alle gemeentes van alle tye verteenwoordig. Mag julle altyd God se onverdiende liefde en vrede ervaar!
Hierdie liefde en vrede kom van die ewige Vader, wat nou daar is, nog altyd daar was en altyd daar sal wees. Dit kom van die sewe Geeste wat voor sy troon is, die Heilige Gees, waardeur Hy regeer. Dit kom van Jesus Christus, wat getrou alles vertel, die eerste een wat uit die dood gebore is en wat die oppergesag het oor die regeerders van die aarde!
Omdat Hy het ons liefgehad het, het hy ons sondes afgewas met sy bloed. Hy het ons konings gemaak wat regeer en priesters wat offers bring aan sy God en Vader. Aan Hom behoort die koninklike glans en die krag vir altyd! So is dit en so sal dit altyd wees.
Kyk, Hy kom sigbaar op die wolke. Elke mens sal Hom sien, ook die wat Hom aan die kruis vasgespyker het. Almal op die aarde, van alle tye, sal van spyt oor Hom huil wanneer Hy kom. Ja, so is dit en so sal dit altyd wees!
"Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde van alles", sê die Here, "die Ewige Een, wat nou daar is, nog altyd daar was en altyd daar sal wees."
Ek is julle broer Johannes wat saam met julle deel het aan Jesus Christus se verdrukking, sy koninkryk en sy volharding. Ek was op die eiland Patmos om alles te hoor wat God wou sê en wat Jesus Christus wou vertel.
Op die opstandingsdag van die Here was ek in die teenwoordigheid van die Gees. Ek het agter my 'n klipharde stem gehoor. Hy het vir my gesê:
"Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde van alles. Skryf wat jy sien in 'n boek en stuur dit na die sewe gemeentes in Asië. Dit is 'n boodskap vir alle gemeentes van alle tye. Stuur dit na Efese, Smirna, Pérgamus, Thiatíre, Sardis, Filadelfía en Laodicéa.”
Toe ek omdraai om te sien wie dit is wat met my praat, sien ek sewe waardevolle goue lampe. Tussen die sewe lampe sien ek Iemand staan wat soos 'n mens lyk. Hy het 'n lang kleed aan wat tot op sy voete hang. Om sy bors was 'n breë goue belt.
Sy hare was spierwit soos wol, soos sneeu, en sy oë het soos vuurvlamme gelyk. Sy voete het soos gloeiende koper geblink. Sy stem het geklink soos die gedruis van kabbelende water. In sy regterhand het Hy sewe sterre gehou. Dit wat Hy gesê het, was so skerp soos 'n swaard met twee snykante. Sy gesig het van koninklike glans gestraal soos die son wat op sy helderste skyn.
Toe ek Hom sien, het ek lam geword en soos 'n dooie voor sy voete geval. Hy het met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: "Moenie bang wees nie. Ek was in die begin daar en sal aan die einde nog daar wees. Ek leef vir altyd. Ek was dood, maar kyk na My, Ek leef, vir altyd. So is dit en so sal dit vir altyd wees."
"Ek het die sleutels wat die doderyk oop en toe sluit. Ek het gesag oor die dood. Skryf op dit wat jy sien, dit wat nou gebeur en dit wat nog in die toekoms gaan gebeur."
"Die betekenis van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het en van die sewe goue lampe, is dit: die sewe sterre is die leiers van die sewe gemeentes en die sewe lampe wat jy gesien het en wat lig in God se tempel gee, is die sewe gemeentes."
Hoofstuk 2
ÉFESE
"Skryf aan die leier van die gemeente in Éfese: Dit sê Hy wat die leiers in sy regterhand vashou en tussen die gemeentes rondgaan."
'Ek weet alles wat jy doen. Jy werk sonder ophou en het 'n afkeer aan die kansvatters wat sê dat God hulle as apostels gestuur het. Jy het hulle uitgevang dat hulle daaroor lieg. Ek weet dat jy onder moeilike omstandighede moed hou en aanhou om My te dien sonder om moeg te word.'
'Maar daar is iets in jou lewe waarmee Ek nie tevrede is nie. Jy het so besig geword om My te dien dat Ek nie meer jou eerste liefde is nie. Onthou hoe lief jy vir My was aan die begin. Verander jou lewe en doen weer wat jy aan die begin gedoen het. As jy nie jou lewe verander nie, sal ek gou na jou toe kom en jou gemeente van jou af wegvat.'
'Iets wat Ek van jou waardeer is dat jy die seksuele losbandigheid van die Nikolaïte haat. Ek haat dit ook.'"
'Hierdie boodskap is vir elkeen wat 'n oor het om te hoor. Luister na dit wat die Gees vir die gemeentes sê.'
'Elkeen wat luister en doen wat die Gees sê, sal Ek van My lewe gee in God se hemelse paradys.'
SMIRNA
"Skryf aan die leier van die gemeente in Smirna. Dit sê die Een wat van die begin af daar is en aan die einde nog daar sal wees, wat dood was, maar lewend geword het."
'Ek weet alles wat jy doen, hoe swaar jy kry en hoe arm jy is. Eintlik is jy skatryk! Ek weet van die Jode wat leuens oor My versprei. Hulle sinagoge is niks anders as 'n aanbiddingsplek van die Satan nie.'
'Moenie bang wees vir al die swaarkry wat jy gaan hê nie. Die duiwel gaan sommige van julle in die tronk gooi om julle te toets. Julle sal swaar kry, maar dit sal net vir 'n vasgestelde tyd wees. Wees aan My getrou, al moet jy doodgemaak word, en Ek sal jou 'n koningslewe gee.'
'Hierdie boodskap is vir elkeen wat 'n oor het om te hoor. Luister na dit wat die Gees vir die gemeentes sê.'
'Elkeen wat luister en doen wat die Gees sê, sal die straf van die ewige dood vryspring.'
PÉRGAMUS
"Skryf aan die leier van die gemeente in Pérgamus. Dit sê Hy wat die skerp swaard met twee snykante het - wat vlymskerp is in dit wat Hy sê.
'Ek weet alles wat jy doen en ken die plek waar jy bly. Dit is waar die Satan koning is. Jy hou aan My vas. Selfs toe Antipas daar by julle, waar die Satan bly, doodgemaak is, het jy nie opgehou om in My te glo nie. Jy het aangehou om mense van My vertel.'
'Daar is 'n paar dinge in jou lewe waarmee Ek nie tevrede is nie. Jy laat mense toe om die dwalinge van Bileam te volg. Hulle eet afgodsoffers en beoefen seksuele wandade, soos Balak destyds gedoen en Israel verlei het. Jy duld ook mense wat die dwaalleer van die Nikolaïete aanhang. Hulle leer seksuele losbandigheid en Ek haat dit.'
'Hou op hiermee, anders sal Ek gou na jou toe kom en self met hulle afreken deur die skerp dinge wat Ek sê.' 'Hierdie boodskap is vir almal, vir elkeen wat 'n oor het om te hoor. Luister na dit wat die Gees vir die gemeentes sê.'
'Aan elkeen wat luister en doen wat die Gees sê, sal Ek van die manna in God se hemelse tempel, van Myself, gee om te eet.' 'Ek sal spesiaal vir elkeen 'n spierwit klippie gee met 'n nuwe naam daarop geskryf. Niemand sal weet wat dié naam is nie, behalwe hy wat die klippie van My ontvang.'
THIATÍRE
"Skryf aan die leier van die gemeente in Thiatíre. Dit sê die Seun van God wie se oë soos vuurvlamme deur alles kyk, wie se voete soos glansende koper is.”
'Ek weet alles wat jy doen. Ek ken jou liefdesdiens, jou geloof, jou volharding en jou werke en dat dit al hoe meer word.'
'Daar is 'n paar dinge in jou lewe waarmee Ek nie tevrede is nie. Jy laat die profetes Isébel toe om in die gemeente onderrig te gee en my dienaars te verlei om aan seksuele rituele deel te neem en offers te eet wat vir afgode geoffer is.'
'Ek het haar tyd gegee om haar prostitusie te laat staan, maar sy het nie. Kyk wat gaan gebeur. Ek gaan haar aan 'n siekbed oorgee. En almal wat aan haar seksuele aktiwiteite deelneem, gaan Ek aan groot ellende oorgee, tensy hulle hulle lewenswyse verander.'
'Haar kinders gaan Ek sekerlik doodmaak sodat al die gemeentes, van alle tye, sal weet dat Ek alles weet wat aangaan en dat elkeen sy verdiende loon sal kry.'
'Van julle almal in Thiatíre, wat nie Isébel se leringe en lewenswyse volg nie en nie die "diep geheime van Satan", soos hulle dit noem, leer ken het nie, vra Ek niks meer nie. Hou net die waarheid vas totdat Ek kom.'
'Elkeen wat luister en doen wat die Gees sê en wat tot die einde toe onthou wat Ek gedoen het, sal Ek mag gee oor die nasies. Soos my Vader my mag oor die nasies gegee het, sal hulle die nasies met 'n ysterhand regeer en soos 'n kleipot stukkend slaan. En Ek sal die môrester, Myself, aan hulle gee.'
'Hierdie boodskap is vir almal, vir elkeen wat 'n oor het om te hoor. Luister na dit wat die Gees vir die gemeentes sê.'
SARDIS
"Skryf aan die leier van die gemeente in Sardis. Dit sê Hy wat die volheid van die Heilige Gees het en die leiers in sy hand vashou.
'Ek weet alles wat jy doen. Almal dink dat jy lewe, maar eintlik is jy geestelik dood.'
'Word wakker uit jou slaap en hou hulle aan die lewe wat oorgebly het en ook al amper dood is. Dit wat jy doen, is glad nie vir God aanvaarbaar nie.'
'Onthou hoe die goeie nuus aan jou vertel is en jy dit aanvaar het. Verander jou lewe! As jy nie wakker word nie sal Ek skielik na jou toe kom, so onverwags soos 'n dief. Jy sal nie weet wanneer Ek kom nie.'
'Daar is 'n paar mense in Sardis wie se klere nog skoon is. Hulle het hulleself nie met sonde besmet nie. Hulle sal orals saam met My gaan, sondeloos in spierwit klere. Hulle is dit werd.'
'Elkeen wat luister en doen wat die Gees sê, se sondes sal met spierwit klere bedek word. Ek sal hulle name nooit uit die boek van die lewe uitvee nie. In dié boek is die name opgeskryf van almal wat vir altyd saam met My sal lewe. Ek sal my Vader en sy engele gedurig aan hulle herinner.'
'Hierdie boodskap is vir almal, vir elkeen wat 'n oor het om te hoor. Luister na dit wat die Gees vir die gemeentes sê.'
FILADELFÍA
"Skryf aan die leier van die gemeente in Filadelfía. Dit sê die Heilige, die Een wat werklik bestaan, wat die sleutel van Dawid het. Wat Hy oopsluit, kan niemand toemaak nie, wat Hy toesluit kan niemand oopmaak nie."
'Ek weet alles wat jy doen. Jy sal sien, Ek het vir jou 'n deur oopgemaak wat niemand kan sluit nie. Al is jy swak, het jy nogtans alles onthou wat Ek gesê het en My voor mense erken.'
'Let op. Daar is dié van die sinagoge van die Satan, wat sê dat hulle Jode is, maar dit nie is nie. Hulle lieg daaroor. Ek sal maak dat hulle na jou toe kom en voor jou voete kom neerbuig en erken dat Ek jou lief het.'
'Ek het jou gesê om aan te hou en nie moed op te gee nie. Omdat jy dit doen, sal Ek jou beskerm in die tyd wanneer al die mense op die aarde getoets word.'
'Let op! Ek kom voor die einde van hierdie wêreld aanbreek. Hou vas dit wat jy het sodat niemand jou koningskap van jou kan wegvat nie.'
'Elkeen wat luister en doen wat die Gees sê, sal Ek 'n besondere en permanente plek in God se hemeltempel gee. Ek sal op hom die naam van my God skryf en die naam van die stad van my God, die nuwe hemelse Jerusalem, en ook My nuwe naam.'
'Hierdie boodskap is vir almal, vir elkeen wat 'n oor het om te hoor. Luister na dit wat die Gees vir die gemeentes sê.'
LAODICÉA
"Skryf aan die leier van die gemeente in Laodicéa. Dit sê die Amen, Hy wat getrou net die waarheid praat, wat van die begin van die skepping van God af daar is."
'Ek weet alles wat jy doen. Jy is nie koud nie en ook nie warm nie. Was jy eerder maar koud! Maar nou, omdat jy nie koud of warm is nie, maar so neutraal, sal Ek jou soos louwater uit my mond spoeg.'
'Jy is selfvoldaan. Jy sê: 'Ek is ryk en welaf. Ek kort niks nie.' Maar jy weet nie dat jy eintlik geestelik ellendig en jammerlik, arm en blind, en kaal is nie.'
'Kom na my toe en kom koop dit wat jy kortkom. Kom koop gesuiwerde goud - 'n lewe wat deur toetsing gereinig is. Dit is ware rykdom.'
'Kom koop by My wit klere, my vergifnis, en trek dit aan. Dit sal die skande van jou sondes bedek. En koop die salwing van die Heilige Gees wat jou oë sal oopmaak en jou insig sal gee.'
'Dit is omdat Ek jou liefhet dat Ek jou teregwys en dissiplineer. Moenie traag wees nie. Doen wat Ek sê!'
'Jy sal my by die deur sien staan en klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en ons sal saam 'n feesmaal hou.'
'Elkeen wat luister en doen wat die Gees sê, sal Ek saam met my op my troon laat sit en regeer. Ek het ook gedoen wat my Vader sê en het saam met Hom op sy troon gaan sit om te regeer.'
'Hierdie boodskap is vir almal, vir elkeen wat 'n oor het om te hoor. Luister na dit wat die Gees vir die gemeentes sê.'