4 min gelees

Openbaring 4-7

DIE EERSTE SES SEËLS 


Hoofstuk 4

'N DEUR IN DIE HEMEL

Na hierdie dinge het ek 'n oop deur in die hemel gesien. Jesus, wat met my aan die begin gepraat het, het hardop vir my gesê: "Kom op hierheen. Ek gaan jou wys wat nog gaan gebeur."

Dadelik het die Gees my 'n troon in die hemel laat sien en Iemand wat daarop sit. Hy het geskitter soos kleurvolle edelgesteentes. Rondom die troon was 'n reënboog wat soos 'n edelgesteente geglinster het. Rondom die troon was daar vier-en-twintig trone waarop vier-en-twintig oudstes gesit het. Hulle was sondeloos, met spierwit klere aan, en het regeer met goue krone op hulle koppe. Hulle het al die gelowiges van Israel en van die gemeentes by God verteenwoordig.

Van die troon af het stemme gekom wat soos weerligte en donderslae geklink het. Voor die troon was die volheid van die Heilige Gees wat soos sewe fakkels gebrand het. Verder aan die voorkant van die troon was God se koninkryk soos 'n see van glas, so helder soos kristal.

Aan elke kant en direk langs die troon was daar 'n lewende wese wat orals alles kon sien. Hierdie vier lewende wesens het God se skepping verteenwoordig. Die eerste lewende wese het so sterk soos 'n leeu gelyk, die tweede lewende wese so mak soos 'n kalf. Die derde lewende wese het so slim soos 'n mens gelyk en die vierde lewende wese so vinnig soos 'n vlieënde arend.

Die vier lewende wesens kon in enige rigting beweeg en oral alles sien. Hulle het sonder ophou, dag en nag, Hom wat op die troon sit aanbid en gesê: "Heilig, heilig, heilig, drie maal heilig, is die Here wat God is, die Al-magtige! Hy is die Een wat nog altyd daar was, elke dag daar is en altyd daar sal wees.

Wanneer die vier lewende wesens Hom wat op die troon sit en vir altyd lewe, aanbid met eerbetoning en danksegging, val die vier-en-twintig oudstes neer voor Hom wat op die troon sit. Hulle gooi dan hulle krone in onderdanigheid voor die troon neer en aanbid Hom wat vir altyd lewe:

"U is die een wat werd is, Here, om al die koninklike glans, eer en krag te ontvang. U het alles geskape en dit was U wil dat alles bestaan."

Hoofstuk 5

In die regterhand van Hom wat op die troon sit het ek 'n boekrol gesien. Dit was aan die voor- en agterkant vol geskryf met God se oordele en met sewe seëls heeltemal geseël. Ek het 'n sterk engel gesien wat hardop roep: "Wie kan die seëls breek en die boekrol oopmaak?" Hulle kon niemand kry om die boekrol oop te maak en te lees wat daarin geskryf is nie, nie in die hemel of op die aarde of in die heelal nie.

Dit het my baie ontstel en ek het hardop gehuil omdat niemand die boekrol kon oopmaak om te lees wat daarin geskryf is nie. Toe sê een van die oudstes vir my: "Moenie huil nie. Die leeu uit die stam van Juda, die nakomeling van Dawid, Hy het oorwin en mag die boekrol oopmaak en sy seëls breek."

Ek het gekyk en 'n lam gesien wat lyk asof hy geslag is. Hy staan, lewendig, in die middel van die troon, die vier lewende wesens en die oudstes - in die middelpunt van God se heerskappy. Al het dit gelyk of geslag is, was Hy baie sterk met sewe horings en sewe oë wat alles sien. Die sewe oë is die Heilige Gees wat God oor die hele aarde uitgestuur het.

Die Lam het gekom en die boek uit die regterhand van Hom wat op die troon sit, gevat. Toe Hy die boek vat, val die vier lewende wesens en die vier-en-twintig oudstes voor die Lam neer, elkeen met siters en goue bakke vol wierook. Die wierook is die gebede van die heiliges wat vir God afgesonder word.

Toe sing hulle 'n nuwe lied: "U is die enigste een wat werd is om die boek te vat en oop te maak. U is die Lam wat geslag is om met u bloed ons vir God te koop sodat ons uit alle mense sy eiendom kan wees. U het ons konings gemaak om op aarde te regeer en priesters om vir ons God offers te bring."

Terwyl ek kyk, sien ek ontelbare engele rondom die troon, die lewende wesens en die oudstes. Hulle het hardop gesê: "Die Lam wat geslag is, is werd om die krag en rykdom, wysheid en sterkte, eer, koninklike glans en lofprysing te ontvang!"

Die hele skepping, alles wat in die hemel, op die aarde, in die see en in die heelal is, het ek hoor sê: "Aan Hom wat op die troon regeer en aan die Lam behoort alle lofprysing, eer, koninklike glans en krag vir altyd!" Die vier lewende wesens het gesê: "Só is dit en so sal dit altyd wees!" En die vier-en-twintig oudstes het neergeval in aanbidding voor Hom wat vir altyd lewe.

Hoofstuk 6

EERSTE SEËL

Ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopbreek. Een van die vier lewende wesens het gesê, so hard soos 'n donderslag: "Kom kyk!" Ek het gekyk en 'n wit perd gesien. Sy ruiter het 'n boog in sy hand gehad. God het hom aangestel as 'n koning en hy het almal en alles oorwin.

TWEEDE SEËL

Toe die Lam die tweede seël oopbreek, sê die tweede lewende wese vir my: "Kom kyk!" 'n Ander perd het uitgekom, 'n vuurrooie. God het sy ruiter die mag gegee om onvrede op aarde te saai sodat mense mekaar sou doodmaak. Daarvoor het hy 'n groot swaard ontvang.

DERDE SEËL

Toe die Lam die derde seël oopbreek, sê die derde lewende wese vir my: "Kom kyk!" Toe sien ek 'n swart perd. Sy ruiter het 'n weegskaal in sy hand gehad. Ek het 'n stem gehoor tussen die vier lewende wesens. Dit het vir hom gesê: "Meet versigtig die koring en die gars af en moenie die olie en die wyn mors nie."

VIERDE SEËL

Toe die Lam die vierde seël oopbreek, sê die vierde lewende wese vir my: "Kom kyk!" Ek het gekyk en 'n vaal perd gesien. Sy ruiter se naam is "Die Dood" en al die dooies het agter hom aangegaan. God het aan hulle mag gegee om 'n kwart van die wêreldbevolking dood te maak deur oorloë, hongersnode, pessiektes en wilde diere van die veld.

VYFDE SEËL

Toe Hy die vyfde seël oopbreek, sien ek onder die offerplek die martelare wat vermoor is omdat hulle God se boodskap gebring en ander van Hom vertel het. Hulle het hardop geroep: "Hoe lank nog, heilige en ware Koning, voordat U die mense op die aarde oordeel en ons dood wreek?"

God het vir elkeen van hulle 'n spierwit kleed aangetrek omdat hulle sondes vergewe is en vir hulle gesê om net nog 'n kort rukkie geduldig te wees. Die ander martelare, hulle medewerkers en broers, moes ook eers vermoor word.

SESDE SEËL

Ek het gesien toe Hy die sesde seël breek en groot kosmiese kragte loslaat. Die aarde is rondgegooi soos ‘n bal, die son het sy lig verloor en die maan het 'n bloedrooi skynsel gekry. Dit het gelyk asof 'n swart sak oor die son getrek is.

Hemelliggame het op die aarde geval soos navye van 'n vyeboom wat deur 'n sterk wind geruk word. Die wolkehemel het verdwyn, soos 'n boekrol wat opgerol word, en al die eilande en berge is deur die aardskudding uit hulle plekke verskuif.

Die regeerders op die aarde, die belangrikes en die rykes, die weermag bevelvoerders, die invloedrykes, die werkgewers en werknemers, hulle almal het vreesbevange in grotte en skeure in die berge weggekruip.

Hulle het vir die kranse en die rotse gesê: "Val op ons en steek ons weg sodat Hy wat op die troon sit ons nie sien en die woede van die Lam ons inhaal nie. Want die groot dag van afrekening het aangebreek en wie sal die Lam se woede oorleef?"

Hoofstuk 7

DIE VERSEËLDES

Hierna het ek vier engele in die vier windrigtings van die aarde gesien. Hulle het die vier winde van die aarde vasgehou sodat daar 'n windstilte op die aarde en oor die see was. Ek het nog 'n engel van die oostekant af sien kom met die seël van die God wat vir altyd lewe.

Hy het met 'n harde stem geroep na die vier engele aan wie God mag gegee het om die aarde en die see met natuurrampe te beskadig. Hy het vir hulle gesê: "Wag eers voordat julle die aarde of die see of die plantegroei beskadig. Ons moet eers die dienaars van ons God op hulle voorkoppe verseël."

Ek het gehoor hoeveel verseël moet word - die volle getal van God se volk, honderd-vier-en-veertig duisend. Uit elke stam die volle getal, twaalfduisend, verseëldes.

Uit die stam van Juda die volle getal verseëldes; uit die stam van Ruben die volle getal verseëldes; uit die stam van Gad die volle getal verseëldes; uit die stam van Aser die volle getal verseëldes; uit die stam van Náftali die volle getal verseëldes; uit die stam van Manasse die volle getal verseëldes; uit die stam van Símeon die volle getal verseëldes; uit die stam van Levi die volle getal verseëldes; uit die stam van Íssaskar die volle getal verseëldes; uit die stam van Sébulon die volle getal verseëldes; uit die stam van Josef die volle getal verseëldes; uit die stam van Benjamin die volle getal verseëldes.

Hierna het ek gekyk en 'n groot skare mense gesien uit alle nasies, stamme, volke en tale - 'n ontelbare groot skare. Hulle het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle was sondeloos met spierwit klere aan en palmtakke van vrede in hulle hande. Hulle het hardop geroep: "Dit is ons God wat op die troon sit en die Lam wat ons verlos het!"

Al die engele wat rondom die troon en die oudstes en die vier lewende wesens gestaan het, het op hulle gesigte voor die troon neergeval en God aanbid. Hulle het gesê: "Dit is so en dit sal altyd so wees. Die lofprysing, die koninklike glans en die wysheid, die dank en die eer, die krag en die sterkte behoort vir altyd aan onse God! Dit is so en sal altyd so wees."

Toe het een van die oudstes my gevra: "Wie is dit wat die wit klere aan het? Waar kom hulle vandaan?" Ek het hom geantwoord: "U weet waarvandaan." 

Hy sê vir my: "Hulle kom uit die groot verdrukking. Hulle het hulle hulleself gewas in die bloed van die Lam en is nou sondeloos soos die spierwit klere wat hulle aan het. Daarom is hulle in God se teenwoordigheid en aanbid Hom dag en nag in sy tempel. Hy wat op die troon sit, sal hulle beskerm."

"Hulle sal nooit weer honger of dors kry nie. Die son of enige hitte sal hulle nie brand nie, want die Lam wat die sentrale plek in God se koningskap het, sal hulle soos sy kudde versorg en by waterfonteine bring wat lewe gee. Hulle sal nooit weer huil nie, want God sal self al die trane van hulle oë afvee."

LAAI 'N KOPIE HIER AF