Openbaring 21:1-22:5
DIE NUWE JERUSALEM - DIE BRUID VAN DIE LAM
Ek het 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, 'n nuwe skepping, want die eerste hemel en die eerste aarde, die ou skepping, het ophou bestaan. En die see, al die volke en nasies en tale van vroeër, het nie meer bestaan nie.
Ek, Johannes, het met my eie oë die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien afkom vanuit God se hemelse woonplek. Sy was aangetrek soos 'n bruid wat vir haar bruidegom versier is.
Ek het 'n harde stem uit die hemel hoor sê: "Let goed op! Die plek waar vir God offers gebring word, is nou vir almal toeganklik. Hy sal by hulle bly, en hulle sal sy volk wees. God sal self tussen hulle bly as hulle God.”
“God sal al die trane van hulle oë afvee. Daar sal nie meer dood wees nie. Mense sal nie meer hartseer wees en huil of swaarkry nie, want die ou skepping het tot 'n einde gekom.”
Hy wat op die troon sit, het gesê: "Gee aandag! Ek maak alles nuut." Hy het aan my gesê: "Skryf op, want dit wat jy hoor is waar en betroubaar." Hy het vir my gesê: "Al die ou dinge is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin van alles en die einde van alles."
"Aan elkeen wat dors het, sal Ek van myself gee om te drink, verniet. Ek is die fontein van die water wat lewe gee. Hy wat tot die einde toe op My vertrou, sal alles ontvang wat Ek beloof het. Ek sal vir hom 'n God wees, en hy sal vir My 'n seun wees."
“Maar die wat bang geword het, die wat My nie vertrou het nie, die wat gruwelike dade gedoen het, die moordenaars en hoereerders, die wat hulle met okkultiese bedrywighede besig gehou het, die wat afgode aanbid het en soos die duiwel voortdurend gelieg het — hulle uiteinde is in die poel wat brand met vuur en swael. Hulle sterf vir 'n tweede keer.”
Een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste oordele, het na my toe gekom en vir my gesê: "Kom hierheen, kom kyk na die bruid, die vrou wat met die Lam, Jesus, gaan trou."
Hy het my in 'n geestesvervoering weggevat na 'n groot en hoë berg en my die groot stad gewys, Jerusalem, wat aan God toegewy is en wat uit God se hemelse woonplek afkom - die bruid van die Lam! Die stad, die bruid, het geskitter met God se koninklike glans. Sy het gestraal soos 'n baie kosbare glashelder jaspis-steen.
Die stad, die bruid, was veilig binne 'n groot en hoë muur. Sy bestaan uit die volle getal gelowiges uit Israel - twaalf poorte met die name van die stamme van Israel daarop geskryf. 'n Engel wat afgesonder is om elke stam te dien, het by elke poort gestaan.
Die gelowiges uit Israel het uit al die windrigtings gekom. Uit die ooste waar drie poorte was, uit die noorde waar drie poorte was, uit die suide waar drie poorte was, en uit die weste waar drie poorte was.
Die bruid het ook bestaan uit al die gelowiges van die gemeentes ná Christus se opstanding. Hulle is verteenwoordig deur die twaalf apostels en die Lam wie se name op die twaalf fondasies van die stadsmuur was.
Die een wat met my gepraat het, het 'n goue maatband gehad en die grootte van die stad gemeet. Die stad was enorm groot, want dit het uit baie mense bestaan. Dit was 'n volmaakte kubus. Die lengte, breedte en hoogte was dieselfde, twaalf duisend kilometer.
Hy het ook die muur gemeet. Dit was twaalf maal twaalf, oftewel een-duisend-vier-honderd-vier-
Die stadsmuur en sy fondamente het uit allerhande edelstene bestaan. Die stad self was van suiwer goud wat soos 'n skoon spieël geblink het. Die bruid is so kosbaar soos goud en glansend, sondeloos, skoon.
Die fondamente van die stadsmuur is met allerhande edelstene versier: die eerste fondament met opaal, die tweede met saffier, die derde met agaat, die vierde met smarag, die vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, die agtste met beril, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, die elfde met hiasint en die twaalfde met ametis.
Die bruid se prag en skoonheid was ook te sien in die twaalf poorte wat elkeen uit een pêrel bestaan het en die straat van goud wat so suiwer was soos deurskynende glas. Die stad het nie 'n plek van aanbidding gehad nie, want die Here God, die Al-magtige, en die Lam is die aanbiddingsplek van die bruid.
Die stad het nie 'n son of 'n maan nodig gehad om haar te verlig nie, want die koninklike glans van God het die bruid verlig. En die Lam self was haar lig. Almal wat uit die verskillende nasies gered is, sal in die lig van God se koninklike glans lewe. Die konings en regeerders van die aarde wat gered is, sal met hulle koninklike glans die bruid versier.
Bedags - want daar sal nie meer nag wees nie - sal die poorte nooit gesluit wees nie. Al die gelowiges van die verskillende nasies sal daar inkom en die bruid versier met hul prag en praal. Niemand wat sonde doen of gruwelike dade pleeg of leuens vertel, sal deel wees van die bruid nie. Net dié wie se name in die boek van die Lam geskryf is.
Hy het vir my 'n rivier met skoon water wat lewe gee, gewys. Dit was 'n beeld van die Gees van God. Die water was silwerskoon en het uit die troon, die heerskappy, van God en die Lam, gevloei. In die middel tussen die straat en die rivier was die boom wat lewe gee, wat in die ou paradys was en 'n beeld van Christus is. Hy dra elke maand vrugte. Sy blare het die nasies van hulle sondes genees.
Niemand sal ooit weer raas met iemand wat deel is van die bruid nie. God en die Lam is haar Koning en sy sal hulle dien. Sy sal die Bruidegom sien soos Hy is en sy naam sal duidelik as eiendomsmerk op haar voorkop wees en op elkeen wat deel van haar is.
Nag en donkerte sal daar nooit weer wees nie. Die bruid sal nie 'n lamp of sonlig nodig hê nie. Die Here God sal hulle lig wees. Hulle sal soos konings vir altyd regeer!