Openbaring 20
1000 JAAR
Ek het 'n engel uit die hemel sien kom. Hy het die sleutel van die afgrond in sy een hand en 'n groot ketting in sy ander hand gehad.
Hy het die draak gegryp, die slang wat in die paradys was, die duiwel wat Satan genoem word en hom met die ketting vasgemaak vir 'n duisend jaar - 'n baie lang, maar vasgestelde tyd.
Hy het hom oor die afgrond gegooi, hom toegesluit en die afgrond bokant hom verseël. Daar moes hy bly sodat hy vir die hele duisend jaar nie die nasies kon verlei nie. Daarna moet hy vir 'n kort tydjie losgelaat word.
Daarna het ek trone gesien en mense wat daarop sit. Hulle werk was om die nasies te oordeel. Hulle is die mense wat doodgemaak is omdat hulle ander van Jesus vertel het en God se boodskap gebring het. Hulle is ook dié wat die gewetenlose wese en sy beeld nie aanbid het nie en sy sigbare identiteitsmerk nie aanvaar het nie. Hulle het uit die dood opgestaan en as konings saam met Christus die duisend jaar regeer.
Die ongelowiges wat gesterf het, het nie deel gehad aan hierdie eerste opstanding of aan die duisend jaar nie. Net dié wat op Jesus bly vertrou het, het daarin gedeel.
Baie gelukkig is elkeen wat deel het aan hierdie eerste opstanding. Hulle is sonder sonde en word glad nie geraak deur die tweede dood, die finale doodstraf, wat onherroeplik is nie. Hulle sal opstaan om vir 'n duisend jaar, 'n baie lang tyd, God en Christus te aanbid as priesters en saam met Christus te regeer as konings.
SATAN FINAAL OORWIN
Wanneer die duisend jaar verby is, sal die Satan uit sy tronk vrygelaat word. Hy sal die heidennasies van orals op die aarde bymekaarmaak om saam met hom oorlog te voer. Hulle is soos die Gog en die Magog wat altyd gereed was om teen God oorlog te maak.
Hulle is ontelbaar baie, soos die sand van die see. Hulle het opgetrek oor die breedte van die aarde en het die heiliges wat vir God afgesonder is en die geliefde stad, Jerusalem, omsingel.
Daarop het God vuur uit die hemel op hulle laat reën en hulle verbrand.
Die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swael gegooi saam met die dierlike wese en die profeet wat voorgegee het om God se boodskap te bring. Hulle sal daar aanhoudend, sonder ophou, vir altyd gepynig word.
FINALE OORDEEL
Ek het 'n groot wit troon gesien en Een wat daarop sit. Die hemel en die aarde, die hele skepping, het vir altyd verdwyn. Dit kon nie voor Hom staande bly nie.
Ek het almal wat gesterf het voor God sien staan. Elkeen se boek is oopgemaak, ook die "Boek van die Lewe". God het die wat gesterf het, geoordeel volgens dit wat in elkeen se boek opgeskryf is, volgens dit wat elkeen gedoen het.
Almal wat gesterf het was daar - die wat in die see verdrink het en die wat in die doderyk gewag het. Elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. God het die dood en die doderyk in die poel van vuur gegooi. Dit het gebeur toe die wat God geoordeel het, vir die tweede keer doodgaan. Finaal.
Elkeen wie se naam nie opgeskryf was in die "Boek van die Lewe" nie, is in die poel van vuur gegooi. Elkeen wie se naam in die "Boek van die Lewe" geskryf is, het God vrygespreek van van dit wat hulle gedoen het.