Openbaring 17-18
Hoofstuk 17
BABILON
Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het, met my kom praat.
"Kom", het hy gesê. "Ek gaan jou die straf van God wys wat oor die berugte prostituut gaan kom. Sy bly by baie waters. Die regeerders van die wêreld het saam met haar gedoen net wat hulle wil. Die mense op die aarde het so verslaaf geword aan haar sedeloosheid dat hulle onbeheerbaar gedoen het net wat hulle wil.”
Die Gees het my in 'n geestesvervoering laat kom en ek is deur 'n engel na 'n onherbergsame woestyn toe gevat. Daar het ek die prostituut gesien - 'n vrou wat op 'n helderrooi dierlike wese sit. Dit was die gewetenlose wese wat die wêreld deur die wêreld se regeerders regeer. Hy het die die draak, die Satan, verteenwoordig en was oortrek met slagspreuke wat God gevloek het.
Die vrou was uitgevat soos 'n prostituut in pers en helderrooi klere. Sy was skatryk en het juwele van goud, edelgesteentes en pêrels aan gehad. In haar hand het sy 'n pragtige goue beker gehad. Dit was vol van al haar afskuwelike dade.
Op haar voorkop, sigbaar vir almal, was haar naam, "Die Groot Babilon". Dit het 'n dieper betekenis. Dit wys dat sy die oorsprong is van al die onsedelikheid en bandeloosheid op die aarde. Sy is die oorsaak dat mense net doen wat hulle wil.
Ek het gesien dat die vrou soveel gelowiges vermoor het, mense wat ander van Jesus vertel het, dat sy soos 'n dronke onbeheerbaar geword het. Ek het baie oor haar gewonder.
Die engel sê toe vir my: "Hoekom wonder jy oor die vrou? Ek sal jou vertel wat die betekenis is van die vrou en van die gewetenlose wese wat haar gedra het, wat sewe koppe en tien horings het. Die wese wat jy gesien het, kom met tussenposes te voorskyn. Hy het al vroeër verskyn, maar is nie op die oomblik sigbaar nie. Hy kom uit die onderwêreld en sy uiteinde is om vir altyd te vrot."
“Die mense wat op die aarde bly, wie se name nie alreeds met die skepping van die wêreld in die boek van die lewe geskryf is nie, sal hulle verwonder aan die wese wanneer hulle hom sien, omdat hy met tussenposes te voorskyn kom. Hy het al verskyn, is nie nou sigbaar nie, maar sal weer verskyn."
"Om dit te verstaan moet 'n mens slim en wys wees. Die sewe koppe is sewe berge vanwaar die vrou haar invloed laat geld. Die berge staan vir sewe regeerders. Dit is die volle getal, alle heersers, van alle tye. Die eerste aantal het al regeer, 'n ander een heers nou, die laaste moet nog kom. Hy sal net 'n kort rukkie regeer."
"Die agtste heerser sal die gewetenlose wese self wees. Sy heerskappy begin saam met die sewende heerser. Al heers hy, is hy op pad na sy bestemming toe - om vir altyd te vrot. Dan is daar nog ander kleiner heersers. Hulle word uitgebeeld deur die tien horings. Hulle sal saam met die wese regeer, maar net vir kort tydjies. Hierdie regeerders het een en dieselfde doel, om hulle mag en gesag tot die wese se beskikking te stel sodat hy deur hulle kan regeer."
"Hierdie heersers sal teen die Lam oorlog maak. Die Lam en die wat saam met Hom is, dié wat God na Hom toe geroep het, wat Hy vir hom uitgesoek het en wat Hom bly vertrou, sal die heersers oorwin, want die Lam het die oppergesag oor die heersers en konings van die aarde."
Hy het vervolg: "Die waters wat jy gesien het waar die vrou bly, is volke en stamme, nasies en tale. Die tien horings wat jy gesien het, die regeerders wat in onderdanigheid aan die wese regeer, sal saam met die wese teen die prostituut draai en haar haat, kaal uittrek en verstoot. God het hulle dit laat doen, want dit was sy plan. Die regeerders doen alles wat die wese wil hê en laat hom toe om deur hulle te regeer. So sal dit aanhou totdat dit wat God gesê het, sal gebeur."
"Die vrou wat jy gesien het, is die hoof magsentrum wat oor die regeerders van die wêreld gesag uitoefen."
Hoofstuk 18
BABILON SE EINDE
Hierna het ek 'n sterk engel uit die hemel sien kom. Sy koninklike glans het die aarde verlig.
Hy het baie hard geroep. "Die groot Babilon, die magsentrum van die wêreld, het tot 'n val gekom! Dit het 'n woonplek vir duiwels geword, 'n plek waar demone saamkom en allerhande aaklige en haatlike roofvoëls nes maak."
"Sy het tot 'n val gekom omdat al die nasies saam met haar vir God kwaad was en net gedoen het wat hulle wil. Die regeerders van die aarde het ook saam met haar net gedoen wat hulle wil. Die sakemanne het ryk en magtig geword uit haar rykdom."
Ek het 'n ander stem uit die hemel gehoor wat sê: "My volk, gaan weg van haar af. Julle moet niks met met haar sondes te doen hê nie anders sal julle ook deel hê aan die straf wat sy gaan ontvang. Want haar sondes is so baie dat dit tot aan die hemel reik. God onthou alles wat sy verkeerd gedoen het. Julle moet haar in eie munt terugbetaal vir dit wat sy aan julle gedoen het. Betaal haar dubbel terug vir wat sy gedoen het."
"Tot die mate wat sy vir haarself eer toegedig het en in haar rykdom haar verlustig het, tot dié mate moet julle haar pynig totdat sy daarvan huil. Sy het by haarself gedink: ‘Ek heers alleen, sonder 'n man. Ek sal nooit 'n weduwee se smart beleef nie.' Daarom sal die ellende haar op een dag gelyktydig tref - dood en smart en honger. Sy sal met vuur verbrand word. Dit is die magtige Here God se straf vir haar."
Die regeerders van die aarde wat saam met haar gedoen het net wat hulle wil en deur haar ryk geword het, sal oor haar huil en treur wanneer hulle sien hoe sy verbrand word. Hulle sal hulleself van haar distansieer omdat hulle bang is dat dit met hulle ook sal gebeur. Hulle sal oor haar huil en sê: "Babilon, die grote magsentrum, ons kry jou só jammer, want in 'n oomblik het jou einde gekom!"
Die sakemanne van die aarde sal oor haar huil en hartseer wees, want haar einde sal die einde van alle handel beteken. Die mark vir edelmetale, goud, silwer, pêrels en ander edelgesteentes sal in duie stort. Niemand sal meer fyn veelkleurige linne en sy koop nie.
Hout- en staalhandelaars sal met hulle voorraad opgeskeep sit. Skrynwerkers en beeldhouers se produkte van kosbare hout, koper, yster en marmer sal opgehoop staan.
Die kruiemark, kruideniers- en vleismark sal tot stilstand kom. Kaneel, reukwerk, salf en wierook, wyn en olyfolie, fynmeel en koring, beeste en skape sal in krale staan sonder kopers. Motors en vragmotors sal nie kopers kry nie. Selfs mensehandel sal tot stilstand kom. Die vrugte wat almal so geniet het, sal nêrens te kry wees nie. Alles wat blink en skitter sal uitgedien wees, vir altyd.
Die sakemanne wat deur die magsentrum ryk geword het, sal hulleself van haar distansieer omdat hulle bang is dat dieselfde lot hulle ook kan tref.
Terwyl hulle hartseer huil, sal hulle sê: "Dit is 'n tragedie dat die groot magsentrum met al haar rykdom in 'n oomblik tot niet gegaan het! Sy het haar altyd so pragtig aangetrek met veelkleurige fyn linne en haar versier met kosbare goue juwele vol edelgesteentes en pêrels."