2 min gelees

Openbaring 15-16


DIE SEWE LAASTE OORDELE

Ek het nog 'n groot en wonderlike teken in God se hemelse woonplek gesien, sewe engele met die sewe laaste oordele. Hulle moes finaal uitvoering gee aan al God se woede.

Ek het die koninkryk van God gesien. Dit het gelyk soos 'n see van glas met vuurvlamme in. By die see van glas het dié gestaan wat die Satan se gewetenlose wese oorwin het. Dit is hulle wat die wese, sy beeld, sy identiteitsteken en sy naam, wat 'n getal is, oorwin het. In die oorwinnaars se hande was siters wat God hulle gegee het.

Hulle het die lied van Moses, God se dienaar, en die lied van die Lam gesing. "Groot en wonderlik is alles wat U doen, Here God, die Al-magtige. Wat U doen is reg en waar. U is Koning van almal wie se sondes vergewe is. Almal moet U eer en met koninklike respek behandel. U alleen is heilig. Al die nasies sal kom en in aanbidding voor U buig, omdat almal kan sien dat U doen wat reg is."

Hierna het ek gesien dat die hemelse tempel, die hemelse aanbiddingsplek, oopgemaak is. Hierdie plek van aanbidding was die tent waarin die ark met die "Tien Gebooie" was. Sewe engele met die sewe laaste plae het uit die plek van aanbidding gekom. Hulle het skoon en blink klere aangehad en om hulle borste was goue beelde vasgemaak.

Een van die vier lewende wesens, verteenwoordigers van die skepping wat by God se troon is, het aan die sewe engele sewe goue weegskale gegee. Die skale was vol van God se woede, dié God wat vir altyd lewe.

God se koninklike glans en mag het die plek van aanbidding vol rook gemaak. Niemand kon daar ingaan voordat die sewe laaste plae van die sewe engele afgehandel was nie. Ek het 'n harde stem uit die plek van aanbidding gehoor wat vir die sewe engele sê: "Gaan gooi die weegskale van God se woede op die aarde uit."

DIE EERSTE OORDEEL

Toe het die eerste een sy weegskaal op die aarde uitgegooi en daar het vreeslike swere uitgeslaan op dié mense wat die Satan se gewetenlose wese se identiteitsteken het en sy beeld aanbid het.

DIE TWEEDE OORDEEL

Die tweede engel het sy weegskaal op die see uitgegooi en dit het bloed geword, soos van 'n dooie mens. Alles in die see het gesterf.

DIE DERDE OORDEEL

Die derde engel het sy weegskaal uitgegooi op die riviere en waterfonteine, en dit het bloed geword. 

Ek het die engel wat aangestel is oor die vars water, hoor sê: "Here, U wat van altyd af lewe, die Heilige Afgesonderde Een, U het reg geoordeel. Hulle het die bloed van die mense wat aan u afgesonder is en van die profete vergiet. U het aan hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien."

Ek het 'n ander een uit die offerplek gehoor: "Ja, Here God, U wat alles kan doen, U oordele is waar en reg.”

DIE VIERDE OORDEEL

Die vierde engel het sy weegskaal op die son uitgegooi en die son het die mense op aarde geskroei. Die son se strale het so warm geword dat hulle God gevloek het wat die plaag gestuur het. Nogtans het hulle hulle nie tot God bekeer en sy koningskap erken nie.

DIE VYFDE OORDEEL

Die vyfde engel het sy weegskaal uitgegooi op die koninkryk van die gewetenlose wese en sy heerskappy het onsigbaar geword. Sy volgelinge het soveel pyn ervaar dat hulle hulle tonge gebyt het om verligting te kry. Hulle het God in sy hemelse woonplek gevloek as gevolg van die pyn en swere. Tog het hulle nie hulle lewenswyse verander en hulle tot God bekeer nie.

DIE SESDE OORDEEL

Die sesde engel het sy weegskaal uitgegooi oor die groot Eufraatrivier en dit het opgedroog. Die pad deur die rivier is herbou sodat die regeerders in die ooste na die weste kon deurkom.

Ek het uit die bek van die Satan en uit die mond van die wese, wat namens hom regeer, en uit die mond van die profeet wat valslik voorgee dat sy boodskap van God af kom, drie demoniese geeste sien kom. Hulle het soos paddas gelyk.

Hierdie demoniese geeste het wonders gedoen en al die regeerders van die aarde bymekaar laat kom vir die wêreldoorlog op die dag wat God die Al-magtige daarvoor bepaal het.

["Kyk, Ek kom so onverwags soos 'n dief. Gelukkig is elkeen wat wakker bly en die klere wat Ek hom gegee het om sy sondes toe te maak, oppas. Anders kan hy sonder klere wees en sal almal sy sondes sien."]

Die demoniese geeste het al die aardse regeerders bymekaar laat kom op die plek wat in Hebreeus 'Armageddon' genoem word.

DIE SEWENDE OORDEEL

Die sewende engel het sy weegskaal in die lug uitgegooi en 'n harde stem het uit die plek van aanbidding in God se hemelse woonplek gekom, van God se troon af: "Die einde is hier!"

En daar was stemme wat so hard soos donderslae en bliksemstrale geklink het en 'n groot aardbewing het die aarde geskud. So iets het niemand nog ooit op die aarde gesien nie — 'n geweldige groot aardbewing.

Dit het die mag van die wêreld se magsentrum in drie gebreek en die stede, die magsentrums, van die nasies inmekaar laat val, want God is daaraan herinner om Babilon, die magsentrum van die wêreld, te straf met sy opgehoopte woede.

Die aardbewing het die eilande in die see en die berge in die niet laat verdwyn. Baie groot hael, elk omtrent 50 kg swaar, het uit die hemel op die mense geval. Die mense het God daaroor gevloek omdat die plaag baie groot was.

KLIEK HIER VIR 'N KOPIE