Openbaring 14:6-20
DIE EINDOORDEEL
Ek het 'n ander engel in die lug sien vlieg om die goeie nuus van God se finale oordeel aan al die mense op die aarde te bring, aan al die nasies, stamme, tale en volke. Hy het hardop geroep: "Eer God en erken sy glansende koningskap! Die tyd het aangebreek dat Hy die wêreld gaan oordeel. Aanbid Hom wat alles gemaak het, die hemel en aarde, die sout- en die vars water!"
'n Tweede engel het agter die eerste een aangevlieg en gesê: "Babilon, die magsentrum van die wêreld, se einde het aangebreek. Sy was kwaad vir God en het daarom gedoen net wat sy wil. Sy het al die nasies haar laat volg om vir God kwaad te wees en net te doen wat hulle wil."
'n Derde engel het agter hulle aan gevlieg en hardop geroep: "Elkeen wat die gewetenlose wese, wat namens die Satan op die aarde regeer, en sy beeld bewonder en sy identifikasie merk openlik op sy voorkop of hand het, sal onder God se woede deurloop. Dit is vir almal duidelik dat hulle net soos die wese dink en doen."
"God se naakte woede sal op hulle neerkom. Hulle sal, terwyl God se engele en die offerlam, Jesus Christus, toekyk, gepynig word met vuur wat brand en swaeldampe wat hulle vergiftig en verstik."
Die rook van die vuur waarmee hulle gepynig word, sal vir altyd opstyg, soos van 'n brandende ashoop af. Hulle wat Satan se gewetenlose wese bewonder het en as sy eiendom gemerk is, sal nooit tot rus kom nie.
Hier is dit nodig dat die wat vir God afgesonder word, moet aanhou om te doen wat God wil hê, naamlik om Jesus ten volle te vertrou.
Ek het 'n stem uit God se hemelse woonplek gehoor wat vir my sê: "Skryf dit neer. Gelukkig is die wat in hierdie tye aan hulleself dood is omdat hulle saam met Christus gesterf het." Die Heilige Gees bevestig dit: "Ja, sodat hulle kan ophou om self te werk om gered te word. Hulle selfwerksaamheid is vir altyd agter hulle."
Terwyl ek gekyk het, het ek 'n wit wolk gesien en 'n menslike gestalte wat op die wolk sit. Hy was 'n koning met 'n goue kroon op sy kop en 'n regter met 'n skerp sekel in sy hand.
'n Ander engel het uit die tempel, die plek van aanbidding, gekom en hardop na die een wat op die wolk sit, geroep: "Vat U sekel en oes. Die tyd het aangebreek vir U om U oes in te samel. Die menslike oes op die aarde het oorryp geword." Hy wat op die wolk sit, het met sy sekel sy oes, almal wat aan Hom behoort, oor die hele aarde afgeoes.
'n Ander engel het uit die plek van aanbidding in God se hemelse woonplek gekom. Hy het ook 'n skerp sekel gehad. Nog 'n engel, wat verantwoordelik was om vuur te maak, het uit die offerplek gekom. Hy het hardop geroep na die engel met die skerp sekel: "Oes met jou sekel die druiwe van die aarde se wingerde af, want die menslike druiweoes het ryp geword."
Die engel het met sy sekel die menslike wingerdoes op die aarde afgeoes. Hy het dit in die groot parskuip van God se woede gegooi. Die parskuip is buitekant die stad van God gepars. Die bloed van die mense in die parskuip het uitgeloop, eenduisend seshonderd kilometer ver en so diep dat dit tot by die toom van 'n perd gekom het.