Brief aan die Christene in Galasië
Hoofstuk 5
VRY VAN WETSONDERHOUDING - HOU DAARAAN VAS!
Christus het ons vrygemaak van wetsonderhouding. Hou dan nou vas aan hierdie vryheid! Moenie toelaat dat iemand weer die slawejuk van wetsonderhouding op julle skouers lê nie!
Luister mooi na wat ek, Paulus, vir julle sê. As julle julle laat besny, sal Christus vir julle van geen waarde wees nie. Ek sê dit weer aan elkeen wat hom laat besny dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou.
Julle wat wil hê dat God julle moet aanvaar omdat julle die wet onderhou, julle is losgemaak van Christus. Julle kan nie meer aanspraak maak op God se onvoorwaardelike liefde nie!
Ons, inteendeel, verwag om deur God aanvaar te word omdat ons op Jesus vertrou en die Gees in ons bly. As jy een met Christus is, maak dit nie saak of jy ‘n wetsonderhoudende Jood of ‘n onbesnede heiden is nie. Al wat saak maak is of jy geloof het in die liefde van God.
Julle het goed begin. Wie is dit wat julle nou laat twyfel in die waarheid? Dit kom nie van God af wat julle vir Homself wil hê nie. Onthou, twyfel saai twyfel en naderhand twyfel almal aan die waarheid.
Ek vertrou die Here dat julle ook soos ek sal dink. Maar dié een wat die verwarring onder julle saai, sal daarvoor gestraf word, wie dit ookal is.
Hoekom dink julle, my broers, word ek nog vervolg? Is dit omdat ek mense aanmoedig om besny te word? Nee, dit is omdat ek mense aanmoedig om te glo dat Christus aan die kruis alles vir hulle gedoen het om as God se kinders aanvaar te word. Maar dié wat dit self probeer regkry deur wetsonderhouding, kry dit glad nie reg om Christus se kruis te aanvaar nie.
Ag, as die wat julle opsweep om besny te word, hulleself eerder maar wou stukkend sny!
LEWE DEUR DIE GEES
Kinders van God, God wil hê dat julle vrygemaak van die wet moet lewe. Moet net nie julle vryheid misbruik om julle menslike drange te bevredig nie. Inteendeel, bewys julle liefde aan mekaar!
Deur mekaar lief te hê, onderhou julle in elk geval die wet. “Jy moet jou naaste lief hê soos jouself”, is tog waaroor die hele wet gaan.
Om mekaar lief te hê, is beter as om onder mekaar te stry en te baklei. Niemand baat tog daarby nie.
My boodskap is, inteendeel, om alles wat julle doen in afhanklikheid van die Gees te doen. Dan sal julle nooit julle menslike begeerlikhede bevredig nie.
Julle menslike begeerlikhede en dit wat die Gees wil hê, staan direk teenoor mekaar. Al wil julle die goeie doen, kry julle dit nie reg nie. Maar as julle die Gees toelaat om julle te lei, is julle vry van die heerskappy van die wet.
Ons menslike begeertes is alom bekend.
Dit wat die Gees in ‘n mens se lewe doen, is ‘n vrug met baie geure.
Teen dit alles is die wet in elk geval nie.
Dié wat deel is van Christus, het hulle menslike drange en begeertes doodgemaak toe hulle saam met Christus aan die kruis gesterf het.
Dit is die Gees wat ons laat lewe. Laat ons dan alles wat ons doen in afhanklikheid van die Gees doen. Ons moenie ons eie belangrikheid najaag en ander afbreek omdat ons op hulle jaloers is nie.