Brief aan die Christene in Galasië
Hoofstuk 3
GELOOF IN DIE PLEK VAN WETSONDERHOUDING
Hoe kan julle so dom wees, Galasiërs? Wie het so ‘n, amper okkultiese, houvas op julle gekry dat julle die waarheid so miskyk? Jesus Christus is so duidelik soos ‘n skildery aan julle voorgehou, so asof Hy voor julle oë gekruisig is.
Antwoord my net één vraag. Het julle die Gees ontvang omdat julle die wet nagekom het, of omdat julle gehoor het dat julle Jesus net hoef te vertrou?
Is julle so dom? Julle het in afhanklikheid van die Gees gelewe, maar probeer om nou alles weer met eie menslike pogings te verkry.
Al het julle baie swaar gekry, het God aan julle die Gees gegee en wonderwerke onder julle gedoen. Dit het Hy gedoen nie omdat julle gehoorsaam was aan die wet nie, maar omdat julle gehoor het dat julle net in vertroue op Jesus hoef te lewe!
Soos Abraham... omdat Hy op God vertrou het, het God hom geag asof hy alles reg gedoen het! Net so word almal wat op God vertrou, geag as die nageslag van Abraham.
Ons lees in die Bybel dat God die heidene wat in Hom glo as sy eie sou aanvaar. Hierdie goeie nuus is al aan Abraham gebring: “In jou sal God al die volke van die aarde seën.”
Daarom, vandag, word almal, Jode en nie-Jode, wat soos Abraham op God vertrou, as Abraham se nageslag gereken en saam met die gelowige Abraham geseën.
Daarteenoor, is almal wat die wet van Moses probeer nakom, vervloek. So staan dit geskrywe: “Vervloek is elkeen wat nie alles doen wat in die wetboek vereis word nie.”
Niemand kan deur onderhouding van die wet vir God aanvaarbaar wees nie. Daar is net een manier om vir Hom aanvaarbaar te wees - dit is om op Hom te vertrou. Net dan deel jy in die lewe wat Hy vir ons bedoel het.
Om die wet na te kom, het niks met vertroue te doen nie, maar met wat jy doen in gehoorsaamheid aan die bepalings van die wet. As jy alles sou kon doen wat die wet vra, dan sou jy kon deel hê aan die lewe wat God vir ons bedoel het, maar...
Christus het gekom om ons te bevry van die vloek van die wet toe Hy aan die kruis in ons plek vervloek is. So is dit geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang.”
Christus het in ons plek die vloek van die wet gedra sodat die nie-Jode die seën kan ontvang wat God aan Abraham en sy nageslag beloof het. Die nie-Jode ontvang dit omdat hulle deur hulle vertroue op die Christus, deel van Christus geword het. Dit is hoe ons die seën wat God belowe het, ontvang. Hierdie seën is die Gees.
‘N WETTIGE TESTAMENT
My broers, hierdie nuus is só belangrik dat ek dit met nog ‘n voorbeeld verduidelik.
‘n Testament tree in werking wanneer die testamentmaker sterf. Daarna kan niemand dit tot niet maak of verander nie.
God het aan Abraham ‘n testament gegee waardeur Hy aan hom ‘n erfporsie belowe het. Hierdie erfporsie is nie aan al Abraham se nakomelinge beloof nie, maar net aan één, naamlik aan Christus.
430 jaar later het God deur Moses die wet gegee. Hierdie wet het nie die testament wat God aan Abraham gegee het, verander of die beloofde erfporsie gekanselleer nie, want die testament het reeds vóór die wet in werking getree. Dit het gebeur met Abraham se besnydenis wat ‘n verwysing was na Christus se dood.
‘n Mens kan tog nie deur ‘n wet erf nie, maar net deur ‘n testament. God het sy erfporsie nie deur die wet nie, maar deur ‘n testament aan Abraham belowe - sonder dat hy dit verdien het.
Die wet is belangrik - dit is deur die bemiddeling van engele en Moses gegee. Maar, waarvoor is dit dan gegee, as ons nie daaruit kan erf nie? Dit is ná die testament gegee om die baie sondes teen te werk totdat die Christus aan wie God die belofte van Abraham gegee het, sou kom.
God is één. Hy het nie iemand nodig om vir Hom tussenbeide te tree nie. Maar ons het iemand nodig om vir ons by God tussenbeide te tree.
Is die wet dan teenstrydig met die testament? Nee, dit is iets heeltemal anders.
Die wet kan nie, soos die testament, vir ons die belofte gee waardeur ons vir God aanvaarbaar kan wees en in sy Goddelike lewe kan deel nie.
Volgens die Bybel het die sonde so ‘n totale houvas dat die belofte wat God aan Abraham gemaak het net op een manier aan die gelowiges gegee kon word, naamlik deurdat hulle op Jesus Christus vertrou.
Die wet het sy funksie gehad. Voordat die tyd aangebreek het dat ons net op Christus hoef te vertrou, het die wet ons soos in ‘n tronk in bewaring gehou. Dit moes ons beskerm totdat God dit bekend sou maak dat ons net op Christus hoef te vertrou.
Die wet moes ons dus soos ‘n onderwyser leer dat ons net deur vertroue in Christus deur God aanvaar kan word.
Nou dat die tyd aangebreek het dat ons net in Christus hoef te glo, het ons nie meer ‘n onderwyser nodig nie.
Julle almal, Jood en nie-Jood, is nou kinders van God deurdat julle op Christus Jesus vertrou. En deur julle geloofsvertroue het julle almal een met Hom geword. Julle het Hom soos ‘n jas aangetrek.
Nou is daar nie meer ‘n Jood of ‘n nie-Jood nie, ‘n slaaf of vryman nie, man of vrou nie. Nou het almal een geword met die Messias, Jesus.
En as julle een met Hom geword het, dan is julle die nageslag van Abraham. Dan erf julle saam met Hom soos God dit in die testament aan Abraham beloof het.