10 min gelees

Brief aan die Christene in Galasië


Hoofstuk 1

My naam is Paulus. Ek is ‘n amptelike boodskapper wat nie deur mense gestuur is nie, maar deur Jesus Christus en God die Vader self. Die boodskap wat ek bring, kom met die gesag van Jesus Christus en van God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het.

Ek en al die broers by my - God is ons Vader - skryf hierdie brief aan julle, ons medegelowiges in die gemeentes van Galasië.

Mag die onvoorwaardelike liefde van God die Vader en van Jesus Christus, ons Koning, julle deel wees en mag julle Sy vrede ervaar.

Onthou: Jesus Christus het Homself as losprys gegee om vir ons sondes te betaal. Dit het Hy gedoen om ons los te maak van die invloed en houvas van die huidige wêreld wat onder die mag van die duiwel is.

Dit is wat ons God en Vader vir ons wil hê. Hoe wonderlik is Hy, ons Vader! Hy verdien dit om vir altyd aanbid te word! Dit is die waarheid.

Wat my verbaas, wat ek nie verstaan nie - verduidelik dit asseblief vir my! - is dat julle so gou julle rug op God en sy liefde draai. God, die Vader, het dit tog duidelik gemaak dat Hy julle as sy kinders aanvaar omdat Jesus vir julle sondes betaal het. Maar nou slaan julle dit in die wind en verkies dit om ‘n ander boodskap te glo. Daar is geen ander boodskap nie!

Al wat gebeur is dat ander mense met julle koppe wil smokkel. Hulle wil die goeie nuus, dat die Vader julle sondes vergewe net omdat Jesus daarvoor betaal het, verdraai.

Ek kan dit nie sterk genoeg beklemtoon nie. Daar is net één boodskap. Enige een wat ‘n ander boodskap bring - of dit ekself of selfs ‘n engel uit die hemel is - vervloek is hy! Ek herhaal: vervloek is hy!

Vir wie probeer ek beïndruk deur so heftig te wees? Mense? God? Is daar mense in wie se guns ek wil wees?Soos julle wat ander mense se guns soek en agter hulle aanloop? As ek mense se guns wou wen, sou ek ontrou wees aan my Koning, Jesus Christus.

Ek wil hê dat julle - julle wat saam met my kinders van die Vader is - een ding duidelik moet weet: die boodskap wat ek bring is nie ‘n menslike boodskap nie. ‘n Mens het dit nie uitgedink nie. Ek het dit nie by ‘n mens gehoor of geleer nie. Nee, ek het dit by Jesus Christus self geleer.

Laat ek julle herinner aan my lewensverhaal. Dan sal julle verstaan dat ek my boodskap nie by mense nie, maar by Jesus self gekry het.

Ek het die gemeentes van God genadeloos vervolg en probeer uitroei. As Jood het ek uitgeblink onder my tydgenote. Ek het my veral beywer vir die behoud van die Joodse wet en tradisies.

Maar God het van my geboorte af ander planne met my gehad! Hy het my vir Hom afgesonder vir ‘n spesiale doel. Sy doel met my is dat die mense wat Hom nie ken nie, sy Seun in my lewe sou sien en Hom deur my sou leer ken! Ek moes sy boodskapper wees wat die wat Hom nie ken nie van Jesus vertel.

Nadat Hy my geroep het (terwyl ek oppad Damaskus toe was om die Christene daar te vervolg), het ek nie mense geraadpleeg nie. Ek is dadelik Arabië toe en vandaar weer terug Damaskus toe. Eers drie jaar later het ek Jerusalem toe gegaan. Daar het ek twee weke by Petrus gebly en Jakobus, Jesus se broer, ontmoet. Ek het nie een van die ander dissipels van Jesus, wat nou ook sy boodskappers was, gesien nie.

Wat ek vir julle skryf is die waarheid! Die boodskap wat ek bring, het ek by geen mens geleer nie! God is my getuie!

Daarna het ek in die streke van Sirië en Silisië rondgereis. Die Christelike gemeentes in Judea het my nie geken nie. Ek was nooit by hulle om iets by hulle te leer nie. Hulle het net gehoor, dat ek wat vroeër die gemeentes vervolg het en die Christelike geloof wou uitroei, nou dieselfde boodskap uitdra. En hulle het God aanbid oor wat Hy in my lewe gedoen het.

Hoofstuk 2

Ek het eers veertien jaar later Jerusalem toe gegaan. Dit was in opdrag van Jesus self. Barnabas en Titus was saam met my. Daar het ek het aan die gelowiges en aan die leiers van die gemeente my boodskap, wat ek al die jare aan die ongelowiges gebring het, verduidelik. Ek wou by hulle hoor of hulle met my saamstem en of ek dalk êrens iets verkeerd verstaan het.

Maar dit het op ‘n konflik uitgeloop. Daar was valse broers wat op ons gespioeneer het. Hulle wou hê dat ons, behalwe om net in Jesus te glo, ook weer die Joodse wette moes nakom. En dit nadat Jesus ons daarvan vry gemaak het!

Aan hulle kon en het ons nie ‘n oomblik toegegee nie, want die waarheid moes bly staan vir julle: dat God ons lief het net omdat Jesus vir ons betaal het en nie omdat ons ook nog wette onderhou nie! Gelukkig is Titus, wat as Griek nie besny was nie, toe ook nie besny nie, soos wat die Joodse wette vereis.

Die belangrikes in die gemeente was tevrede met my boodskap en het niks daarby gevoeg nie. Nie dat hulle belangrikheid vir my saak maak nie, want God kyk nie na ‘n mens se belangrikheid nie.

Om die waarheid te sê, hulle het besef dat God aan my die boodskap vir die nie-Jode gegee het, net soos Hy dit aan Petrus vir die Jode gegee het. God het my as sy boodskapper onder die leiers van die gemeente bevestig toe hulle besef dat Hy dieselfde wonderwerke deur my gedoen het as wat Hy deur Petrus gedoen het.

Toe hulle God se onvoorwaardelike liefde vir my besef, het die leiers, Jakobus en Cefas (Petrus se Joodse naam) en Johannes aan my en Barnabas die regterhand gegee om te sê dat hulle ons erken as hulle medewerkers om die boodskap van Jesus uit te dra, ons na die nie-Jode en hulle na die Jode. Ons moes net probeer om die arm Joodse Christene te help. Dit het ons ook altyd probeer doen.

Tog was die stryd vir die enigste ware boodskap nog nie verby nie. Toe Petrus later in Antiochië by die hoofsaaklik nie-Joodse gemeente kom besoek aflê, moes ek hom voor almal teregwys toe hy skielik sy neus opgetrek het vir die nie-Joodse Christene.

Hy het die nie-Joodse Christene aanvanklik heeltemal aanvaar. Maar toe Joodse Christene, wat volgelinge van Jakobus in Jerusalem was, in Antiochië aankom, het Petrus homself skielik eenkant gehou - bang vir wat die Joodse Christene van hom sou dink! Die ander Jode het hulle ook eenkant begin hou. Selfs Barnabas is deur hulle skynheiligheid op sleeptou geneem.

Toe ek sien dat hulle begin afwyk van die ware boodskap, het ek Petrus voor almal trompop aangevat.

“Jy is ‘n gebore Jood, Petrus, en tog onderhou jy nie die Joodse wette nie. Hoe wil jy dan nou die Christene wat nie gebore Jode is nie, dwing om die Joodse wette en gebruike na te kom? Ons weet tog almal dat ‘n mens nie deur God aanvaar word omdat hy die Joodse wette nakom nie, maar net omdat hy op Jesus vertrou.”

“Selfs ons wat gebore Jode is en nie sondaars uit die heidene nie, het in Christus geglo, want dit is al manier om deur God aanvaar te word. Selfs ons probeer nie eers om die wet na te kom nie.”

As ons wat op Christus vertrou om deur God aanvaar te word, sondaars is, beteken dit dan dat Christus gekom het om die sonde te dien?

Nee, glad nie! Hy het nie gekom om die sonde te dien nie, maar om my vry te maak van die wet. Daarom kan ek nie aan die een kant sê dit is nie nodig om die wet te hou nie, maar tog aan die ander kant probeer om die wet te onderhou nie. Dan is ek ‘n oortreder van die wet.

Die kruks van die saak is dat die wet my as sondaar ter dood veroordeel (omdat ek die wet oortree het) sodat ek as “dooie” nie meer die wet kan onderhou nie. Die wet is nie meer op my, as “dooie”, van toepassing nie! Al wat vir my oorbly is om in ‘n lewende verhouding met God te lewe.

Die wet het my ter dood veroordeel om saam met Christus gekruisig te word. Ek het saam met Hom aan die kruis gesterf. Ek is dood, ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my.

Maar ek leef dan nog! Ja, as mens leef ek nog, maar ek leef nie meer om die wet te onderhou nie. Nou lewe ek in die geloof - ek vertrou Christus om in my te lewe, Hy wat my so lief gehad het dat Hy vir my gesterf het.

Sonder God se onvoorwaardelike liefde sou ek niks wees nie. As Hy my sou aanvaar omdat ek die wet onderhou, dan het Christus verniet gesterf.

Hoofstuk 3

Hoe kan julle so dom wees, Galasiërs? Wie het so ‘n, amper okkultiese, houvas op julle gekry dat julle die waarheid so miskyk? Jesus Christus is so duidelik soos ‘n skildery aan julle voorgehou, asof Hy voor julle oë gekruisig is.

Antwoord my net één vraag. Het julle die Gees ontvang omdat julle die wet nagekom het, of omdat julle gehoor het dat julle net op Jesus hoef te vertrou?

Is julle so dom? Julle het in afhanklikheid van die Gees gelewe, maar probeer om nou weer alles met eie menslike pogings te verkry.

Al het julle baie swaar gekry, het God aan julle die Gees gegee en wonderwerke onder julle gedoen. Dit het Hy gedoen nie omdat julle gehoorsaam was aan die wet nie, maar omdat julle gehoor het dat julle net in vertroue op Jesus hoef te lewe!

Soos Abraham... omdat Hy op God vertrou het, het God hom geag asof hy alles reg gedoen het! Net so word almal wat op God vertrou, geag as die nageslag van Abraham.

Ons lees in die Bybel dat God die heidene wat in Hom glo as sy eie sou aanvaar. Hierdie goeie nuus is al aan Abraham gebring: “In jou sal God al die volke van die aarde seën.”

Daarom, vandag, word almal, Jode en nie-Jode, wat soos Abraham op God vertrou, as Abraham se nageslag gereken en saam met die gelowige Abraham geseën.

Daarteenoor, is almal wat die wet van Moses probeer nakom, vervloek. So staan dit geskrywe: “Vervloek is elkeen wat nie alles doen wat in die wetboek vereis word nie.”

Niemand kan deur onderhouding van die wet vir God aanvaarbaar wees nie. Daar is net een manier om vir Hom aanvaarbaar te wees - dit is om op Hom te vertrou. Net dan deel jy in die lewe wat Hy vir ons bedoel het.

Om die wet na te kom, het niks met vertroue te doen nie, maar met jou gehoorsaamheid aan die bepalings van die wet. As jy alles sou kon doen wat die wet vra, dan sou jy kon deel hê aan die lewe wat God vir ons bedoel het, maar...

Christus het gekom om ons te bevry van die vloek van die wet toe Hy aan die kruis in ons plek vervloek is. So is dit geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang.”

Christus het in ons plek die vloek van die wet gedra sodat die nie-Jode die seën kan ontvang wat God aan Abraham en sy nageslag beloof het. Die nie-Jode ontvang dit omdat hulle deur hulle vertroue op die Christus, deel van Christus geword het. Dit is hoe ons die seën wat God belowe het, kan ontvang. Hierdie seën is die Gees.

My broers, hierdie nuus is só belangrik dat ek dit met nog ‘n voorbeeld verduidelik.

‘n Testament tree in werking wanneer die testamentmaker sterf. Daarna kan niemand dit tot niet maak of verander nie.

God het aan Abraham ‘n testament gegee waardeur Hy aan hom ‘n erfporsie belowe het. Hierdie erfporsie is nie aan al Abraham se nakomelinge beloof nie, maar net aan één, naamlik aan Christus.

430 jaar later het God deur Moses die wet gegee. Hierdie wet het nie die testament wat God aan Abraham gegee het, verander of die beloofde erfporsie gekanselleer nie, want die testament het reeds vóór die wet in werking getree. Dit het gebeur met Abraham se besnydenis wat ‘n verwysing was na Christus se dood.

‘n Mens kan tog nie deur ‘n wet erf nie, maar net deur ‘n testament. God het sy erfporsie nie deur die wet nie, maar deur ‘n testament aan Abraham belowe - sonder dat hy dit verdien het.

Die wet is belangrik - dit is deur die bemiddeling van engele en Moses gegee. Maar, waarvoor is dit dan gegee, as ons nie daaruit kan erf nie? Dit is ná die testament gegee om die baie sondes teen te werk totdat die Christus aan wie God die belofte van Abraham gegee het, sou kom.

God is één. Hy het nie iemand nodig om vir Hom tussenbeide te tree nie. Maar ons het iemand nodig om vir ons by God tussenbeide te tree.

Is die wet dan teenstrydig met die testament? Nee, dit is iets heeltemal anders.

Die wet kan nie, soos die testament, vir ons die belofte gee waardeur ons vir God aanvaarbaar kan wees en in sy Goddelike lewe kan deel nie.

Volgens die Bybel het die sonde so ‘n totale houvas dat die belofte wat God aan Abraham gemaak het net op een manier aan die gelowiges gegee kon word, naamlik deurdat hulle op Jesus Christus vertrou.

Die wet het sy funksie gehad. Voordat die tyd aangebreek het dat ons net op Christus hoef te vertrou, het die wet ons soos in ‘n tronk in bewaring gehou. Dit moes ons beskerm totdat God dit bekend sou maak dat ons net op Christus hoef te vertrou.

Die wet moes ons dus soos ‘n onderwyser leer dat ons net deur vertroue in Christus deur God aanvaar kan word.

Noudat die tyd aangebreek het dat ons net in Christus hoef te glo, het ons nie meer ‘n onderwyser nodig nie.

Julle almal, Jood en nie-Jood, is nou kinders van God deurdat julle op Christus Jesus vertrou. En deur julle geloofsvertroue het julle almal een met Hom geword. Julle het Hom soos ‘n jas aangetrek.

Nou is daar nie meer ‘n Jood of ‘n nie-Jood nie, ‘n slaaf of vryman nie, man of vrou nie. Nou het almal een geword met die Messias, Jesus.

En as julle een met Hom geword het, dan is julle die nageslag van Abraham. Dan erf julle saam met Hom soos God dit in die testament aan Abraham beloof het.

Hoofstuk 4

Laat ek dit weereens verduidelik. ‘n Minderjarige wat uit ‘n boedel erf, word deur voogde en bestuurders bestuur. Hy is maar net soos ‘n gewone werknemer, al besit hy alles. Eers wanneer die tyd aanbreek wat sy vader in die testament bepaal het, ontvang hy sy erfporsie.

So was dit ook met ons. Terwyl ons onder toesig van die wet was, moes ons leef in onderdanigheid aan die wettiese reëls van hierdie wêreld.

Maar op die bestemde tyd het God sy Seun gestuur om ons vry te maak van die verpligting om die wet te onderhou.

Hy is as mens gebore in onderdanigheid aan die wet om ons wat in onderdanigheid aan die wet moes leef, daarvan te bevry.

Hy het dit gedoen sodat ons ons erfporsie kan ontvang, naamlik om God se kinders te word.

Omdat julle nou kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte gegee. En dié Gees roep namens julle tot die Vader: “Pappa!” Daarom is jy nie meer ‘n werknemer nie, maar ‘n kind. En as kind is jy, deur dit wat Christus gedoen het, God se erfgenaam.

Vroeër, toe julle God nog nie geken het nie, het julle afgode gedien. Maar nou dat julle God ken, of laat ek eerder sê, nou dat God julle ken, hoekom leef julle nou weer soos vroeër? Julle begin weer om volgens wette en reëls te lewe. Dit is ‘n treurige en armsalige lewenswyse!

Julle hou feesvieringe vir dae, maande en jare, asof dit belangrik is. Dit lyk my ek het verniet aan julle die boodskap gebring dat ons net in Christus hoef te glo!

Julle is my broers, kinders van God. Ek pleit by julle: verander en word soos ek, want ek verstaan hoe julle is. Daar was tog ‘n goeie gesindheid tussen ons. Soos aan die begin toe ek, terwyl ek met oogprobleme gesukkel het, die eerste keer aan julle die goeie nuus van God se liefde vertel het.

Julle het nie op my neergekyk omdat my oë swak was nie, maar julle het my ontvang asof ek ‘n engel was, ja asof ek die Messias self was.

Julle het gedink ek is iemand besonders. My indruk was dat julle, as dit moontlik was, julle oë sou uithaal en vir my sou gee.

En nou? Nou dat ek julle die waarheid vertel, maak dit van my julle vyand?

Die probleem is die ander mense wat alles moontlik doen om julle te verlei sodat julle vir hulle moeite kan doen. Vir ‘n goeie saak kan julle maar moeite doen, of ek by julle is of nie.

Julle is vir my soos kinders. Die pyn wat ek oor julle ervaar is soos ‘n vrou se kraampyne. Ek het een begeerte, dat ‘n mens weer Christus duidelik in julle sal sien.

Ek wens ek was nou by julle. Dan sou ek met julle geraas het, want ek weet nie meer watter kant toe met julle nie!

Julle wat Moses se wet wil onderhou, luister dan tog na wat die wet sê.

In die wet staan daar dat Abraham twee seuns gehad het. Die een is gebore uit Hagar, ‘n slavin. Die ander een is gebore uit sy vrou Saraï, ‘n vry mens.

Die een uit die slavin is gebore volgens die menslike planne wat Abraham en sy vrou Saraï gemaak het om vir hom ‘n erfgenaam te verkry.

Die een uit Saraï, die vrye, is gebore as gevolg van die belofte wat God aan Abraham gemaak het dat hy ’n seun sou hê.

Hierdie twee vroue is voorbeelde van twee verbonde wat God met sy volk gemaak het.

Die slavin, Hagar, is ‘n voorbeeld van die verbond wat God op Sinaï gemaak het toe Hy die wet aan Moses gegee het. (Hagar is die Arabiese naam vir die berg Sinaï, waar God die wet gegee het.) Hierdie verbond se “kinders” leef soos slawe in onderdanigheid aan die wet.

Hagar en haar kinders kan ook vergelyk word met die huidige aardse Jerusalem. Hulle is almal in slawerny onderworpe aan die wet.

Maar die hemelse Jerusalem, wat vergelyk kan word met die verbond van God met Abraham, is los van die wet. En ons almal, Joodse en nie-Joodse Christene, behoort aan hierdie hemelse Jerusalem.

Van Saraï is geskryf: “Verbly jou, onvrugbare wat nie kinders het nie. Roep hardop van blydskap, jy wat nooit geboortepyne ervaar het nie. Jy sal meer kinders hê as sy wat getroud is.”

Isak is gebore omdat God aan Abraham ’n belofte gemaak dat Saraï ‘n seun sou hê. So is dit ook met ons. Hy het beloof dat ons sy kinders sal wees as ons ten volle op Jesus vertrou.

Net soos Isak destyds deur Hagar se seun vervolg is, so is dit nou nog. Net so word ons, wat op Jesus vertrou, vervolg deur die wat die wet probeer onderhou.

Ons lees verder in die Bybel dat Hagar en haar seun uit Abraham se familie verstoot is, want die seun van die slavin mag nooit saam met die seun van die vry mens erf nie.

Daarom, broers, is ons wat op Christus vertrou nie kinders van die slavin, die wet, nie, maar van die vrye, die belofte.

Hoofstuk 5

Christus het ons vrygemaak van wetsonderhouding. Hou dan nou vas aan hierdie vryheid! Moenie toelaat dat iemand weer die slawejuk van wetsonderhouding op julle skouers lê nie!

Luister mooi na wat ek, Paulus, vir julle sê. As julle julle laat besny, sal Christus vir julle van geen waarde wees nie. Ek sê dit weer aan elkeen wat hom laat besny dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou.

Julle wat wil hê dat God julle moet aanvaar omdat julle die wet onderhou, julle is losgemaak van Christus. Julle kan nie meer aanspraak maak op God se onvoorwaardelike liefde nie!

Ons, inteendeel, verwag om deur God aanvaar te word omdat ons op Jesus vertrou en die Gees in ons bly. As jy een met Christus is, maak dit nie saak of jy ‘n wetsonderhoudende Jood of ‘n onbesnede heiden is nie. Al wat saak maak is of jy geloof het in die liefde van God.

Julle het goed begin. Wie is dit wat julle nou laat twyfel in die waarheid? Dit kom nie van God af wat julle vir Homself wil hê nie. Onthou, twyfel saai twyfel en naderhand twyfel almal aan die waarheid.

Ek vertrou die Here dat julle ook soos ek sal dink. Maar dié een wat die verwarring onder julle saai, sal daarvoor gestraf word, wie dit ookal is.

Hoekom dink julle, my broers, word ek nog vervolg? Is dit omdat ek mense aanmoedig om besny te word?

Nee, dit is omdat ek mense aanmoedig om te glo dat Christus aan die kruis alles vir hulle gedoen het om as God se kinders aanvaar te word. Maar dié wat dit self probeer regkry deur wetsonderhouding, kry dit glad nie reg om Christus se kruis te aanvaar nie.

Ag, as die wat julle opsweep om besny te word, hulleself eerder maar wou stukkend sny.

Kinders van God, God wil hê dat julle vrygemaak van die wet moet lewe. Moet net nie julle vryheid misbruik om julle menslike drange te bevredig nie. Inteendeel, bewys julle liefde aan mekaar!

Deur mekaar lief te hê, onderhou julle in elk geval die wet. “Jy moet jou naaste lief hê soos jouself”, is tog waaroor die hele wet gaan.

Om mekaar lief te hê, is beter as om onder mekaar te stry en te baklei. Niemand baat tog daarby nie.

My boodskap is, inteendeel, om alles wat julle doen in afhanklikheid van die Gees te doen. Dan sal julle nooit julle menslike begeerlikhede bevredig nie.

Julle menslike begeerlikhede en dit wat die Gees wil hê, staan direk teenoor mekaar. Al wil julle die goeie doen, kry julle dit nie reg nie. Maar as julle die Gees toelaat om julle te lei, is julle vry van die heerskappy van die wet.

Ons menslike begeertes is alom bekend. Verhoudings met ander getroudes, prostitusie, seksuele vuilheid, en bandeloosheid. Om afgode te dien of met okkultiese bedrywighede besig te wees. Om vir almal en alles kwaad te wees, rusie te maak en te baklei. Selfs moord te pleeg. Om op ander jaloers te wees en hulle goed te begeer. Om in onvrede, in twis en verdeeldheid te lewe. Om dronk te wees en deel te hê aan ‘n gesuipery en al sulke vieslikhede. Ek sê julle nou, en ek het dit al gesê, dat dié wat sulke dinge doen, nie in die hemel sal kom nie.

Dit wat die Gees in ‘n mens se lewe doen, is ‘n vrug met baie geure. Om lief te hê, bly te wees en vrede te hê. Om vriendelik te wees, aan te hou as dinge moeilik raak, om goed te doen, getrou te wees, ‘n sagte hart te hê en selfbeheersing aan die dag te lê. Teen dit alles is die wet in elk geval nie.

Dié wat deel is van Christus, het hulle menslike drange en begeertes doodgemaak toe hulle saam met Christus aan die kruis gesterf het.

Dit is die Gees wat ons laat lewe. Laat ons dan alles wat ons doen in afhanklikheid van die Gees doen. Ons moenie ons eie belangrikheid najaag en ander afbreek omdat ons op hulle jaloers is nie.

Hoofstuk 6

Kinders van God, as een van julle in een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei so iemand ophelp met sagtheid. Moenie raas nie, inteendeel, pasop dat jy self nie aan die versoeking toegee nie. Help mekaar, want dit is wat Christus van ons vra.

Moenie te veel van jouself dink, terwyl jy eintlik niks is nie. Beoordeel eerder wat jy doen, en dan sal jy dalk rede hê om trots te wees. Beoordeel net jou eie doen en late en nie iemand anders s’n nie. Elkeen is net verantwoordelik vir sy eie doen en late.

Die van julle wat lering oor Jesus ontvang, gee aan julle leraars van al die goeie wat julle ontvang.

Moenie jouself om die bos lei nie. God is nie Iemand waarmee jy kan speel nie. Wat jy saai, dit sal jy ook oes.

As iemand volgens sy menslike begeertes lewe, sal sy menslike begeertes hom in die hel laat beland. Maar as iemand in afhanklikheid van die Gees lewe, sal die Gees hom vir altyd in God se teenwoordigheid laat lewe.

Moenie moeg word om goed te doen nie. As ons daarmee aanhou, sal dit op die regte tyd vir ons ‘n oes oplewer. Doen goed aan almal wanneer die geleentheid hom voordoen, maar veral aan julle medegelowiges.

Hier skryf ek nou self in groot letters wat ek kan sien.

Almal wat wil roem op hulle eie menslike prestasies, sit groepsdruk op julle om julle te laat besny. Dan hoef julle nie ter wille van Christus se kruis vervolg te word nie.

Die wat hulle laat besny, hou self ook nie die wet nie. Hulle wil net hê dat julle julle moet laat besny sodat hulle oor hulle invloed op julle kan spog.

Maar wat my betref, mag ek nooit trots wees op myself nie. Mag ek my net verwonder oor die kruis van ons Koning Jesus Christus. Deur sy kruis is ek saam met Hom gekruisig en daarom dood vir die wêreld en sy wettiese sisteme. Deur sy kruis is die wêreld ook vir my gekruisig - dood.

As jy deel van Christus is, maak dit glad nie meer saak of jy besny is of nie. Al wat enige waarde het, is of God van jou ’n nuwe mens gemaak het!

Mag God se vrede en liefde deel van almal, wat volgens hierdie beginsel lewe, se lewens wees. Hulle is die ware volk van God.

Ek vertrou dat julle nie die lewe vir my moeiliker sal maak nie. Ek het al baie kere liggaamlik gely vir ons Koning Jesus Christus.

Mag die onvoorwaardelike liefde van ons Koning Jesus Christus met julle gees wees, kinders van God. Dit is die waarheid.


LAAI HIER 'N KOPIE AF

Kommentaar
* Die e-pos sal nie op die webwerf gepubliseer word nie.