Brief aan die Christene in Galasië
Hoofstuk 1
My naam is Paulus. Ek is ‘n amptelike boodskapper wat nie deur mense gestuur is nie, maar deur Jesus Christus en God die Vader self. Die boodskap wat ek bring, kom met die gesag van Jesus Christus en van God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het.
Ek en al die broers by my - God is ons Vader - skryf hierdie brief aan julle, ons medegelowiges in die gemeentes van Galasië.
Mag die onvoorwaardelike liefde van God die Vader en van Jesus Christus, ons Koning, julle deel wees en mag julle Sy vrede ervaar.
Onthou: Jesus Christus het Homself as losprys gegee om vir ons sondes te betaal. Dit het Hy gedoen om ons los te maak van die invloed en houvas van die huidige wêreld wat onder die mag van die duiwel is.
Dit is wat ons God en Vader vir ons wil hê. Hoe wonderlik is Hy, ons Vader! Hy verdien dit om vir altyd aanbid te word! Dit is die waarheid.
‘N ANDER BOODSKAP?
Wat my verbaas, wat ek nie verstaan nie - verduidelik dit asseblief vir my! - is dat julle so gou julle rug op God en sy liefde draai. God, die Vader, het dit tog duidelik gemaak dat Hy julle as sy kinders aanvaar omdat Jesus vir julle sondes betaal het. Maar nou slaan julle dit in die wind en verkies dit om ‘n ander boodskap te glo. Daar is geen ander boodskap nie!
Al wat gebeur is dat ander mense met julle koppe wil smokkel. Hulle wil die goeie nuus, dat die Vader julle sondes vergewe net omdat Jesus daarvoor betaal het, verdraai.
Ek kan dit nie sterk genoeg beklemtoon nie. Daar is net één boodskap. Enige een wat ‘n ander boodskap bring - of dit ekself of selfs ‘n engel uit die hemel is - vervloek is hy! Ek herhaal: vervloek is hy!
Vir wie probeer ek beïndruk deur so heftig te wees? Mense? God? Is daar mense in wie se guns ek wil wees?Soos julle wat ander mense se guns soek en agter hulle aanloop? As ek mense se guns wou wen, sou ek ontrou wees aan my Koning, Jesus Christus.
GOD SE BOODSKAP
Ek wil hê dat julle - julle wat saam met my kinders van die Vader is - een ding duidelik moet weet: die boodskap wat ek bring is nie ‘n menslike boodskap nie. ‘n Mens het dit nie uitgedink nie. Ek het dit nie by ‘n mens gehoor of geleer nie. Nee, ek het dit by Jesus Christus self geleer.
Laat ek julle herinner aan my lewensverhaal. Dan sal julle verstaan dat ek my boodskap nie by mense nie, maar by Jesus self gekry het.
Ek het die gemeentes van God genadeloos vervolg en probeer uitroei. As Jood het ek uitgeblink onder my tydgenote. Ek het my veral beywer vir die behoud van die Joodse wet en tradisies.
Maar God het van my geboorte af ander planne met my gehad! Hy het my vir Hom afgesonder vir ‘n spesiale doel. Sy doel met my is dat die mense wat Hom nie ken nie, sy Seun in my lewe sou sien en Hom deur my sou leer ken! Ek moes sy boodskapper wees wat die wat Hom nie ken nie van Jesus vertel.
Nadat Hy my geroep het (terwyl ek oppad Damaskus toe was om die Christene daar te vervolg), het ek nie mense geraadpleeg nie. Ek is dadelik Arabië toe en vandaar weer terug Damaskus toe. Eers drie jaar later het ek Jerusalem toe gegaan. Daar het ek twee weke by Petrus gebly en Jakobus, Jesus se broer, ontmoet. Ek het nie een van die ander dissipels van Jesus, wat nou ook sy boodskappers was, gesien nie.
Wat ek vir julle skryf is die waarheid! Die boodskap wat ek bring, het ek by geen mens geleer nie! God is my getuie!
Daarna het ek in die streke van Sirië en Silisië rondgereis. Die Christelike gemeentes in Judea het my nie geken nie. Ek was nooit by hulle om iets by hulle te leer nie. Hulle het net gehoor, dat ek wat vroeër die gemeentes vervolg het en die Christelike geloof wou uitroei, nou dieselfde boodskap uitdra. En hulle het God aanbid oor wat Hy in my lewe gedoen het.
Hoofstuk 2
Ek het eers veertien jaar later Jerusalem toe gegaan. Dit was in opdrag van Jesus self. Barnabas en Titus was saam met my. Daar het ek het aan die gelowiges en aan die leiers van die gemeente my boodskap, wat ek al die jare aan die ongelowiges gebring het, verduidelik. Ek wou by hulle hoor of hulle met my boodskap saamstem en of ek dalk êrens iets verkeerd verstaan het.
Maar dit het op ‘n konflik uitgeloop. Daar was valse broers wat op ons gespioeneer het. Hulle wou hê dat ons, behalwe om net in Jesus te glo, ook weer die Joodse wette moes nakom. En dit nadat Jesus ons daarvan vry gemaak het!
Aan hulle kon en het ons nie ‘n oomblik toegegee nie, want die waarheid moes bly staan vir julle: dat God ons lief het net omdat Jesus vir ons betaal het en nie omdat ons ook nog wette onderhou nie! Gelukkig is Titus, wat as Griek nie besny was nie, toe ook nie besny nie, soos wat die Joodse wette vereis.
Die belangrikes in die gemeente was tevrede met my boodskap en het niks daarby gevoeg nie. Nie dat hulle belangrikheid vir my saak maak nie, want God kyk nie na ‘n mens se belangrikheid nie.
Om die waarheid te sê, hulle het besef dat God aan my die boodskap vir die nie-Jode gegee het, net soos Hy dit aan Petrus vir die Jode gegee het. God het my as sy boodskapper onder die leiers van die gemeente bevestig toe hulle besef dat Hy dieselfde wonderwerke deur my gedoen het as wat Hy deur Petrus gedoen het.
Toe hulle God se onvoorwaardelike liefde vir my besef, het die leiers, Jakobus en Cefas (Petrus se Joodse naam) en Johannes aan my en Barnabas die regterhand gegee om te sê dat hulle ons erken as hulle medewerkers om die boodskap van Jesus uit te dra, ons na die nie-Jode en hulle na die Jode. Ons moes net probeer om die arm Joodse Christene te help. Dit het ons ook altyd probeer doen.
Tog was die stryd vir die enigste ware boodskap nog nie verby nie. Toe Petrus later in Antiochië by die hoofsaaklik nie-Joodse gemeente kom besoek aflê, moes ek hom voor almal teregwys toe hy skielik sy neus opgetrek het vir die nie-Joodse Christene.
Hy het die nie-Joodse Christene aanvanklik heeltemal aanvaar. Maar toe Joodse Christene, wat volgelinge van Jakobus in Jerusalem was, in Antiochië aankom, het Petrus homself skielik eenkant gehou - bang vir wat die Joodse Christene van hom sou dink! Die ander Jode het hulle ook eenkant begin hou. Selfs Barnabas is deur hulle skynheiligheid op sleeptou geneem.
Toe ek sien dat hulle begin afwyk van die ware boodskap, het ek Petrus voor almal trompop aangevat.
“Jy is ‘n gebore Jood, Petrus, en tog onderhou jy nie die Joodse wette nie. Hoe wil jy dan nou die Christene wat nie gebore Jode is nie, dwing om die Joodse wette en gebruike na te kom?”
“Ons weet tog almal dat ‘n mens nie deur God aanvaar word omdat hy die Joodse wette nakom nie, maar net omdat hy op Jesus vertrou.”
“Selfs ons wat gebore Jode is en nie sondaars uit die heidene nie, het in Christus geglo, want dit is al manier om deur God aanvaar te word. Selfs ons probeer nie eers om die wet na te kom nie.”
“Ons weet tog almal dat geen mens, Jood of nie-Jood, deur God aanvaar word omdat hy die wet van Moses nakom nie.”
SAAM MET CHRISTUS GESTERF
As ons wat op Christus vertrou om deur God aanvaar te word, sondaars is, beteken dit dan dat Christus gekom het om die sonde te dien?
Nee, glad nie! Hy het nie gekom om die sonde te dien nie, maar om my vry te maak van die wet. Daarom kan ek nie aan die een kant sê dit is nie nodig om die wet te hou nie, maar tog aan die ander kant probeer om die wet te onderhou nie. Dan is ek ‘n oortreder van die wet.
Die kruks van die saak is dat die wet my as sondaar ter dood veroordeel (omdat ek die wet oortree het) sodat ek as “dooie” nie meer die wet kan onderhou nie. Die wet is nie meer op my, as “dooie”, van toepassing nie! Al wat vir my oorbly is om in ‘n lewende verhouding met God te lewe.
Die wet het my ter dood veroordeel om saam met Christus gekruisig te word. Ek het saam met Hom aan die kruis gesterf. Ek is dood, ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my.
Maar ek leef dan nog! Ja, as mens leef ek nog, maar ek leef nie meer om die wet te onderhou nie. Nou lewe ek in die geloof - ek vertrou Christus om in my te lewe, Hy wat my so lief gehad het dat Hy vir my gesterf het.
Sonder God se onvoorwaardelike liefde sou ek niks wees nie. As Hy my sou aanvaar omdat ek die wet onderhou, dan het Christus verniet gesterf.