2 min gelees

Brief aan die Christene in Galasië


Hoofstuk 4


NIE WERKNEMERS NIE, MAAR KINDERS

Laat ek dit weereens verduidelik. ‘n Minderjarige wat uit ‘n boedel erf, word deur voogde en bestuurders bestuur. Hy is maar net soos ‘n gewone werknemer, al besit hy alles. Eers wanneer die tyd aanbreek wat sy vader in die testament bepaal het, ontvang hy sy erfporsie.

So was dit ook met ons. Terwyl ons onder toesig van die wet was, moes ons leef in onderdanigheid aan die wettiese reëls van hierdie wêreld.

Maar op die bestemde tyd het God sy Seun gestuur om ons vry te maak van die verpligting om die wet te onderhou. Hy is as mens gebore in onderdanigheid aan die wet om ons wat in onderdanigheid aan die wet moes leef, daarvan te bevry. Dit het Hy gedoen sodat ons ons erfporsie kan ontvang, naamlik om God se kinders te word.

Omdat julle nou kinders is, het God die Gees van Sy Seun in julle harte gegee. En dié Gees roep namens julle tot die Vader: “Pappa!” Daarom is jy nie meer ‘n werknemer nie, maar ‘n kind. En as kind is jy, deur dit wat Christus gedoen het, God se erfgenaam.

Vroeër, toe julle God nog nie geken het nie, het julle afgode gedien. Maar nou dat julle God ken, of laat ek eerder sê, nou dat God julle ken, hoekom leef julle nou weer soos  vroeër? Julle begin weer om volgens wette en reëls te lewe. Dit is ‘n treurige en armsalige lewenswyse!

Julle hou feesvieringe vir dae, maande en jare, asof dit belangrik is. Dit lyk my ek het verniet aan julle die boodskap gebring dat ons net in Christus hoef te glo!

Julle is my broers, kinders van God. Ek pleit by julle: verander en word soos ek, want ek verstaan hoe julle is. Daar was tog ‘n goeie gesindheid tussen ons. Soos aan die begin toe ek, terwyl ek met oogprobleme gesukkel het, die eerste keer aan julle die goeie nuus van God se liefde vertel het.

Julle het nie op my neergekyk omdat my oë swak was nie, maar julle het my ontvang asof ek ‘n engel was, ja asof ek die Messias self was. Julle het gedink ek is iemand besonders. My indruk was dat julle, as dit moontlik was, julle oë sou uithaal en vir my sou gee.

En nou? Nou dat ek julle die waarheid vertel, maak dit van my julle vyand?

Die probleem is die ander mense wat alles moontlik doen om julle te verlei sodat julle vir hulle moeite kan doen. Vir ‘n goeie saak kan julle maar moeite doen, of ek by julle is of nie.

Julle is vir my soos kinders. Die pyn wat ek oor julle ervaar is soos ‘n vrou se kraampyne. Ek het een begeerte, dat ‘n mens weer Christus duidelik in julle sal sien.

Ek wens ek was nou by julle. Dan sou ek met julle geraas het, want ek weet nie meer watter kant toe met julle nie!


TWEE VERBONDE

Julle wat Moses se wet wil onderhou, luister dan tog na wat die wet sê. In die wet staan daar dat Abraham twee seuns gehad het. Die een is gebore uit Hagar, ‘n slavin. Die ander een is gebore uit sy vrou Saraï, ‘n vry mens.

Die een uit die slavin is gebore volgens die menslike planne wat Abraham en sy vrou, Saraï, gemaak het om vir hom ‘n erfgenaam te verkry. Die een uit Saraï, die vrye, is gebore as gevolg van die belofte wat God aan Abraham gemaak het dat hy ’n seun sou hê.

Hierdie twee vroue is voorbeelde van twee verbonde wat God met sy volk gemaak het.

Die slavin, Hagar, is ‘n voorbeeld van die verbond wat God op Sinaï gemaak het toe Hy die wet aan Moses gegee het. (Hagar is die Arabiese naam vir die berg Sinaï, waar God die wet  gegee het.) Hierdie verbond se “kinders” leef soos slawe in onderdanigheid aan die wet.

Hagar en haar kinders kan ook vergelyk word met die huidige aardse Jerusalem. Hulle is almal in slawerny onderworpe aan die wet.

Maar die hemelse Jerusalem, wat vergelyk kan word met die verbond van God met Abraham, is los van die wet. En ons almal, Joodse en nie-Joodse Christene, behoort aan hierdie hemelse Jerusalem.

Van Saraï is geskryf: “Verbly jou, onvrugbare wat nie kinders het nie. Roep hardop van blydskap, jy wat nooit geboortepyne ervaar het nie. Jy sal meer kinders hê as sy wat getroud is.”

Isak is gebore omdat God aan Abraham ’n belofte gemaak dat Saraï ‘n seun sou hê. So is dit ook met ons. Hy het beloof dat ons sy kinders sal wees as ons ten volle op Jesus vertrou.

Net soos Isak destyds deur Hagar se seun vervolg is, so is dit nou nog. Net so word ons, wat op Jesus vertrou, vervolg deur die wat die wet probeer onderhou.

Ons lees verder in die Bybel dat Hagar en haar seun uit Abraham se familie verstoot is, want die seun van die slavin mag nooit saam met die seun van die vry mens erf nie. Daarom, broers, is ons wat op Christus vertrou nie kinders van die slavin, die wet, nie, maar van die vrye, die belofte.

LAAI HIER 'N KOPIE AF

Kommentaar
* Die e-pos sal nie op die webwerf gepubliseer word nie.