1 min gelees

WEET JULLE DAN NIE?

Wie het die see se water in sy handpalm geweeg?
Wie het die wydte van die hemel met sy hand gemeet?
Wie het in 'n emmer die grond van die aarde gedra?
Wie het die berge en die heuwels geweeg met 'n weegskaal?

Wie het die Gees van die Here gewys watter pad om te vat?
Wie was sy onderwyser om Hom onderrig te gee?
By wie het Hy raad gevra?
Wie het Hom insig gegee en geleer wat reg is?
Wie het Hom kennis gegee sodat Hy alles kan verstaan?

Let mooi op. In vergelyking met Hom is die nasies soos 'n druppel aan die emmer. Soos 'n stoffie op die weegskaal.
Let mooi op. Hy tel die eilande op soos 'n stoffie. Die Libanon het nie genoeg hout of diere om vir Hom offers te bring nie.

In sy oë is al die nasies soos niks. Hy dink aan hulle as 'n nietigheid, asof hulle nie bestaan nie. Met wie wil julle God dan vergelyk? Wie kan julle langs Hom laat staan?

'n Goue beeld dalk? Een wat 'n ambagsman gegiet en 'n goudsmid oorgetrek het met goud en silwer? Dalk 'n houtbeeld wat die armes kan bekostig? 'n Stuk hout wat nie maklik verweer of maklik omval nie?

Weet julle nie? Het niemand julle dit vertel nie? Is julle nie ingelig oor hoe alles begin het nie? Het julle nie agtergekom dat die aarde in 'n leë ruimte draai nie?

Die Here sit bokant die wentelbaan van die aarde. Die mense op aarde lyk vir Hom soos sprinkane. Hy span die blou lug uit soos 'n dun doek en slaan dit op soos 'n tent om in te bly.

Hy maak die regeerders tot niet. Die heersers van die aarde laat Hy van die toneel verdwyn. Skaars is hulle aan bewind, skaars is hulle gevestig, of Hy blaas op hulle en hulle verdroog. Die stormwind waai hulle soos kaf weg.

"Met wie wil julle My vergelyk? Wie wil julle langs My laat staan?", sê die Heilige God. "Kyk op na die sterre en let mooi op wat julle sien!"

Wie het dit alles geskape? Hy laat die sterre uittrek soos 'n leermag. Hy ken elkeen se naam. Sy krag en almag hou hulle op hulle plek sodat nie een vermis word nie.

Hoekom sê jy dan, Jakob, en kla jy, Israel: "Die Here weet nie wat met my gebeur nie. Hy is nie daar om my te help nie."

Weet jy dit nie? Het jy niemand jou dit vertel nie? Die Here is God vir altyd. Hy is die Een wat die aarde soos 'n bal geskep het. Hy word nie moeg of uitgeput nie. Sy verstand kan nie gemeet word nie.

As jy moeg is, maak Hy jou weer sterk. As jy voel jy het nie meer krag nie, gee Hy jou nuwe krag.

Jong mense word moeg en uitgeput. Jong manne val oor hulle voete. Maar as jy tyd vat om op die Here te wag, en alles van Hom verwag, gee Hy jou nuwe krag.

Jy sal soos 'n arend op windstrome sweef, jy sal hardloop en nie moeg word nie, ver stap en nie uitgeput raak nie.

Jes 40:12-31

LAAI 'N KOPIE HIER AF