1 min gelees

ONVERSTAANBARE LIEFDE

"Almal wat geestelik dors het, kom!
Hier is oorgenoeg water!
Almal wat geestelik arm is, kom!
Hier is genoeg vir julle om te eet!
Kom koop sonder om daarvoor te betaal, dit is alles verniet!"


"Hoekom betaal julle vir dit wat julle geestelike nie kan versadig nie?
Of werk julle vir dit wat nooit julle geestelike honger kan stil nie?"


"Al wat julle hoef te doen is om na My te luister en te hoor wat Ek sê.
Dan sal julle geestelike honger versadig word met die beste voedsel wat daar is!
Kom na My toe en hou julle ore naby my mond.
Luister na wat Ek sê en julle sal geestelik lewe!"


"Luister, Ek wil 'n ooreenkoms met julle sluit wat Ek nie sal verbreek nie: 'Ek sal dieselfde onvoorwaardelike liefde wat Ek vir Dawid gehad het, vir julle gee.'"

"Let op! Ek het Dawid 'n koning gemaak wat volke van My vertel het en oor nasies regeer het.
Let op! Ek sal maak dat julle nasies wat julle nie geken het nie, na julle toe sal roep.
En nasies wat julle nie geken het nie, na julle toe laat hardloop.
Dit alles omdat die Here julle God, die Toegewyde van Israel, julle soos Dawid met koninklike glans sal beklee."


Soek na die Here terwyl daar nog tyd is.
Bid tot Hom terwyl Hy nog beskikbaar is.
Laat dié een wat sonder Hom probeer lewe, sy lewe verander.
Laat elkeen wat kwaad doen, sy ingesteldheid verander.

Kom terug na die Here toe!
Dan sal Hy julle jammer kry.
Kom na God toe!
Dan sal Hy julle alles vergewe!

"Julle sal nie verstaan nie hoe Ek julle kan vergewe nie, sê die Here.
Julle dink anders as Ek.
Julle tree anders op as Ek.
Ons gedagtes en optredes verskil hemelsbreed."


"Net so verskil dit wat Ek sê van dit wat julle sê.
Wat Ek sê, gebeur.
Dit wat Ek sê, is soos die reën en sneeu wat uit die hemel op aarde val en die aarde benat.
Dit laat plante op aarde bot en groei, vir die bakker koring en vir elke mens voedsel.
So is dit met elke woord wat Ek sê.
Dit laat gebeur wat Ek wil hê moet gebeur."


"Hieraan sal julle dit weet dat dit wat Ek sê, gebeur.
Julle sal oorloop van vreugde en vrede.
Die berge en die heuwels sal saam met julle van vreugde juig!
Die bome van die veld sal van blydskap saam met julle hande klap!"


Dan sal dit wat vir julle moeilik was, maklik word.
Dit wat probleme was, sal oplossings word!
Dit alles sal wees tot eer van die Here.
Vir altyd sal Hy die erkenning daarvoor kry.

Jesaja 55:1-13

LAAI 'N KOPIE HIER AF