1 min gelees

Spreuke 8

Jesus roep hardop. Die Heilige Gees bly nie stil nie.

By die hoë plekke langs die hoofpaaie, by die kruisings van die strate, staan Hy. By die ingange na die stad, by die deure van die huise, roep Hy hardop.

Ek roep na julle, manne, na julle, mans en vroue: Leer tog van die Heilige Gees, laat Hy julle onderrig! Dan sal julle kinders van God genoem word.

Luister na my! Ek praat net dit wat reg en tot julle voordeel is. Uit my mond kom die waarheid. Ek sal nooit saampraat met dié wat sonder God lewe nie.

Ek praat reguit, niks agteraf nie. Ek het nie bedekte bedoelings nie. Almal wat My lief het, verstaan en aanvaar dit.

Luister na my as ek jou teregwys en jou meer van my leer. Dit is meer kosbaar as silwer en gesuiwerde goud. Om van my te leer, is meer werd as edelgesteentes, as al die geld in die wêreld. Ek, Jesus, ken die Heilige Gees en is bekend met dit wat vir God reg is.

Om die Here te eer, is om te haat wat sleg is. Ek haat hoogmoed en trots. Ek haat dit wanneer mense doen wat sleg is en skynheilig is in wat hulle sê. My krag is daarin te vind dat Ek insig het in God se planne en sy manier van doen.

Regeerders op die aarde het my nodig om te regeer. Ek gee hulle insig in wat reg is. Al die leiers, die vernames en die regters is van my afhanklik.

Ek het dié lief wat my liefhet. Ek laat my vind deur dié wat my soek.

By my is rykdom en eer, dit wat waarde het - om reg te laat geskied. Dit wat by my gekry word, is beter as fyn goud, dit wat Ek gee, is beter as uitgesoekte silwer.

Ek doen wat reg is. Ek stap 'n reguit pad. Ek het één doel voor oê - om die wat my liefhet 'n ewige erfenis te gee, om hulle in my rykdom te laat deel.

Nog voor die begin van alles was dit Here se bedoeling dat Ek, Jesus, die eerste van sy skeppingsplan moes wees - voordat Hy enige iets anders gemaak het. Voordat daar tyd was, het Hy my gemaak, voordat die aarde bestaan het.

Nog voor daar oseane was, is Ek gebore. Ek is gebore toe borrelende fonteine nog nie bestaan het en daar nie berge of heuwels was nie. Nog vóór God die aarde of die velde of die woestyne gemaak het, was Ek daar.

Ek was daar toe Hy die hemele gemaak het, toe Hy 'n sirkel op die aarde getrek het vir die oseane. Toe Hy die wolke in die lug geskep het, die onderaardse waterbronne daargestel het, was Ek aan sy sy.

Toe Hy die see se grens vasgestel het sodat dit nie die aarde sou oorstroom nie, toe Hy die aarde in sy wentelbaan gestel het, was Ek die kunstenaar aan sy sy. Dag vir dag het Ek my verlustig in sy werk. Ek het voor Hom gespeel soos 'n opgewonde kind. Die aardbol was my speelplek, die mense wat Hy gemaak het my plesier.

Luister dan nou na my, julle wat deur God geskape is. Gelukkig is hulle wat aan my dink, my in gedagte hou. Luister na my teregwysing en leer daaruit. Moenie dit verwerp nie.

Gelukkig is die mens wat na my luister, wat dag vir dag op my wag, my elke dag verwag. Want hy wat my vind het die lewe gevind. Hy sal vir altyd met die guns van die Here leef. Maar hy wat my mis, mis die lewe. Almal wat my haat, het die dood lief.

KLIEK HIER VIR 'N KOPIE