1 min gelees

Psalm 103


'n Lied wat Dawid geskryf het.


Ek sal die Here aanbid met alles wat binne-in my is!

Ek sal sy heilige naam aanbid!

Ek sal die Here aanbid met alles wat binne-in my is!

Ek sal nooit enige iets vergeet van die goeie wat die Here vir my doen nie.


Hy vergewe alles - ja alles - wat ek verkeerd gedoen het.

Hy maak my gesond van siektes.

Hy keer my om 'n sinlose lewe te hê.

Hy behandel my soos 'n koning en oorlaai my met goedheid en guns.

Hy gee my 'n lewe vol goeie dinge.

Hy laat my voel of ek altyd jonk is.


Die Here laat reg geskied aan almal wat swaarkry.

Hy het vir Moses gewys wat vir Hom belangrik is, vir die Israeliete hoe magtig Hy is.

Die Here is Een wat omgee met onvoorwaardelike liefde. Hy is geduldig en vol goedheid.


Hy sal nie vir altyd baklei nie en nie vir altyd kwaad bly nie.

Hy tree nie teenoor ons op soos wat ons met al ons sondes verdien nie. 

Hy straf ons nie oor alles wat ons verkeerd doen nie.


So hoog soos wat die hemel is bo die aarde, so baie is sy goedheid oor die wat Hom eer.

So ver soos die ooste van die weste is, so ver verwyder Hy alles wat ons verkeerd gedoen het.

Soos 'n pa omgee vir sy kinders, so gee die Here om vir dié wat Hom eer.


Die Here ken ons. Hy het ons uit stof gemaak en Hy weet dit. 

'n Mens is maar net soos 'n plant van die veld. Dit blom vir 'n oomblik, maar as die wind daaroor gewaai het, is die blom weg - so asof hy nooit bestaan het nie.

Daarteenoor is die Here vir altyd goed vir dié wat Hom eer en doen Hy reg aan hulle nageslag - vir dié wat in 'n verhouding met Hom lewe, want dit is wat Hy wil hê.


Sy troon is in die hemel en Hy is koning oor alles. Almal moet die Here aanbid!

Sy engele wat sterk en heldhaftig is en sy opdragte uitvoer, wat gehoorsaam is wanneer hulle sy stem hoor, hulle moet Hom aanbid!

Sy koninklike leërmag wat doen wat Hy begeer, hulle moet Hom aanbid!

Sy ganse skepping waaroor Hy regeer, hulle moet Hom aanbid!

Van almal en alles moet ek Hom aanbid!


LAAI 'N KOPIE AF