2 min gelees

2 Kor 5

Een ding weet ons verseker. Ons lewe op aarde is maar tydelik, soos 'n tent wat enige oomblik afgeslaan kan word. Wanneer dit gebeur lewe ons verder in die hemel. Ons hemelse lewe is vas en stewig soos 'n gebou. Dit het geen einde nie, is nie deur mense nie, maar deur God gemaak.

Ons lewe op aarde is 'n versugting en verlange na die hemelse lewe, waaraan elkeen wat deel van Jesus is, deel sal kry.

Ons tydelike lewe op die aarde is moeilik. Dit het 'n einde en gee ons genoeg rede om te kla. Ons wag egter vir die dag dat ons tentlewe met Goddelike lewe vervang sal word en ons nooit weer sal sterf nie.

Hy wat ons hiervoor voorberei, is God self wat sy Gees vir ons gegee het as waarborg dat dit só sal gebeur. Daarom hou ons goeie moed, al woon ons nog in ons liggame, weg van die Here af.

Ons lewe hier op aarde nie deur wat ons oë sien nie, maar deur dit wat ons glo. Ons sal veel eerder by die Here woon as in ons liggame. Dit is waarna ons uitsien!

Ons probeer om Hom in alles tevrede te stel, of ons nog in ons liggame woon of alreeds by Hom is. Ons moet almal voor Christus as regter verskyn. Hy sal elkeen van ons vergoed vir dit wat ons gedoen het terwyl ons in ons liggame gewoon het, of dit goed is of sleg.

Dit is om die Here te eer dat ons mense probeer oortuig. God ken ons soos ons is en ek hoop dat julle ons ook ken soos ons is. Dit is nie nodig om ons weer aan julle bekend te stel nie. Om die waarheid te sê, julle kan trots wees op wat ons uiterlik bereik het. Dit is julle verweer teenoor diegene vir wie uiterlike dinge belangriker is as die innerlike.

Want as ons in geestesvervoering is, is dit om God te eer. En as ons verstandelik nugter is, is dit ter wille van julle.

Dit is Christus se liefde wat ons dryfveer is. Sy liefde bestaan daarin dat Hy vir almal gesterf het en dat almal saam met Hom gesterf het.

Hy het vir hulle gesterf sodat die wat lewe nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Jesus Christus wat vir hulle gesterf het en weer lewend gemaak is.

Wanneer ons nou na iemand kyk, sien ons nie meer sy menslikheid raak nie net soos ons nou nie meer Christus se menslikheid raaksien nie. Want as iemand deel van Christus geword het, het hy 'n nuwe skepping geword. Sy ou menslikheid is verby, hy het totaal en al nuut geword.

Dit alles is God se werk. Hy het vrede gemaak tussen ons en Hom deur Jesus Christus. Hierdie boodskap van vrede, wat Hy aan ons toevertrou het, is dat God deur Christus vrede met die wêreld gemaak het deur hulle hulle sonde kwyt te skel.

Hierdie boodskap van vrede het Hy aan ons toevertrou. Ons tree dan op as gevolmagtigde boodskappers van Christus. Dit is so goed asof God self direk met julle praat. Ons smeek julle ter wille van Christus: Aanvaar die vrede wat God met julle wil sluit! God het Jesus, wat nooit sonde geken het nie, in ons plek as sondaar behandel. Daarom kan Hy ons nou behandel asof ons nooit sonde gedoen het nie!

LAAI KOPIE AF