3 min gelees

DIE DAG WANNEER DIE DOOD STERF

My broers, ek gaan nou weer die goeie nuus van wat Jesus vir ons gedoen het aan julle verduidelik. Julle ken dit eintlik goed, want dit is dieselfde nuus wat julle vroeër gehoor én aanvaar het.

As julle hieraan vashou soos ek dit aan julle verduidelik, sal julle gered word en nie verniet geglo het nie.

Die belangrikste wat ek julle vertel het, soos ander dit ook aan my vertel het, is dat Christus gesterf het om vir ons sondes te betaal. So staan dit op verskillende plekke in die Ou Testament.

Daarna is Hy begrawe en op die derde dag opgewek uit die dood, soos ook dit in die Ou Testament staan.

Daarna, om te wys dat Hy lewe, het Hy eers aan Petrus verskyn en daarna aan die dissipels. Hy het ook op een geleentheid aan meer as vyfhonderd broers verskyn. Party van hulle leef nog steeds - julle kan hulle hieroor uitvra - maar ander het al gesterf.

Daarna het Hy aan Jakobus en aan die twaalf apostels verskyn. Laaste het Hy ook aan my verskyn, ek wat op die verkeerde tyd gebore is.

Want ek het die gemeente van God vervolg. Ek is die minste van al die apostels. Ek is nie eens die naam 'apostel' werd nie.

God se onvoorwaardelike liefde het my egter verander in die mens wat ek nou is. Sy liefde het gemaak dat ek harder as al die ander gewerk het. Nie dat dit ek is wat gewerk het nie, dit was sy onvoorwaardelike liefde wat in my gewerk het.

Of dit nou ek is of ander wat julle vertel het dat Jesus opgewek is en lewe, dit is wat julle geglo het. Ons het dit baie duidelik gemaak dat Christus uit die dood opgewek is. Hoe sê sommige van julle dan nou dat die wat gesterf het nie liggaamlik gaan opstaan nie?

As die wat gesterf het nie gaan opstaan nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, dan was ons werk 'n mors van tyd, en so ook julle geloof. Dan vertel ons leuens en sê dat God lieg en Christus nie opgewek het nie. As die wat sterf nie opgewek word nie, dan het Hy Christus ook nie opgewek nie.

Dit is só belangrik dat ek dit moet herhaal. As die wat sterf nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. En as Hy nie opgewek is nie, dan glo julle verniet en is julle nog vol sonde. Dan is dié wat in Christus geglo en al gesterf het, verlore. As ons Christus net vertrou om ons in hierdie lewe te help, dan is ons die treurigste van alle mense.

Maar nee! Christus ís uit die dood opgewek. Hy het die waarborg geword dat die wat gesterf het ook liggaamlik opgewek sal word.

Dit is deur 'n mens, Adam, dat die dood in die wêreld gekom het. Net so is die opstanding van die wat gesterf het ook deur 'n mens, Jesus Christus.

Soos almal sterf omdat hulle deel van Adam se nageslag is, so sal ook almal wat deel van Christus is, weer lewend gemaak word.

Dit gebeur egter alles in 'n bepaalde orde. Eers word Christus opgewek as waarborg. Daarna, met sy wederkoms, word dié wat aan Hom behoort opgewek.

Dan kom die einde wanneer Hy sy koningskap aan sy Vader oorgee nadat Hy alle heersers, gesag en magte vernietig het. Hy moet heers as koning totdat Hy al sy vyande aan sy gesag onderwerp het.

Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. Wanneer die wat gesterf het, se liggame opgewek word, sterf die dood finaal.

Dit is die Vader wat alles aan Christus se koningskap onderwerp. Wanneer Hy alles aan Christus se gesag onderwerp het, sal Christus homself weer aan sy Vader se koningskap onderwerp. Die uiteinde sal wees dat God almal van ons met homself sal vul sodat Hy alles in ons sal wees.

Die mense wat die gewoonte het om hulle te laat doop vir ander wat reeds gesterf het, doen dit verniet as ons liggame nie opgewek word nie. Dit is alles dan 'n mors van tyd!

En ons, elke uur is ons lewe vol gevaar. Broers, dit is asof ek elke dag sterf. Dit is die waarheid, so waar as wat ek daarop trots is dat julle deel is van Christus Jesus, ons Koning.

In Efese het ek as mens met wilde diere geveg. Waarvoor? As die dooies nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink en partytjies hou, want môre sterf ons en dan is alles tog verby!

Bly by die waarheid. Ongelowige gesprekke laat julle net twyfel. Moenie onder ander se invloed kom en sonde doen deur te twyfel nie. Party mense ken God glad nie. Ek skaam my eintlik dat julle julle deur hulle laat beïnvloed.

Ek weet wat hulle sê: "Hoe word die dooies opgewek? Watse liggame gaan hulle hê?"

Dit is net dwase wat sulke vrae vra! Julle weet tog dat as 'n mens iets saai, dit eers moet doodgaan voor dit weer lewendig kan word.

En wanneer jy iets saai, saai jy nie die vrug wat jy gaan oes nie! Nee, jy saai bloot 'n saadkorrel, soos van koring of iets anders. God het al met die skepping elke vrug 'n spesifieke vorm gegee. Elke saadsoort het sy eie tipiese vrug.

Verder weet julle tog dat liggame van mekaar verskil. Menslike en dierlike liggame verskil van mekaar. So ook visse en voëls s'n.

Dan is daar hemelse en aardse liggame en hulle verskil van mekaar. Die glans van die hemelse liggame is anders as die van die aardse liggame. Die son se glans verskil van die maan en die sterre s'n. Selfs die sterre se glans verskil van mekaar.

So is dit ook met die opstanding van die wat gesterf het.

'n Verganklike liggaam word gesaai, 'n onverganklike liggaam word opgewek. 'n Liggaam waaraan ons 'n afkeer het, word gesaai, 'n liggaam wat skitter van glans word opgewek. 'n Swak liggaam word gesaai, 'n kragtige liggaam word opgewek.

'n Natuurlike liggaam word gesaai, 'n geestelike liggaam word opgewek. Daar is 'n natuurlike liggaam en daar is 'n geestelike liggaam.

Dit staan so in die Skrif. God het sy asem in die eerste mens, Adam, se liggaam geblaas en hy het 'n mens geword wat lewe. Die laaste Adam, Jesus Christus, sal ons liggame laat lewe deur sy Gees.

Ook hier is daar 'n orde. Die geestelike kom nie eerste nie. Die natuurlike liggaam kom eerste, daarna die geestelike liggaam.

Die eerste mens was aards omdat hy uit die aarde gemaak is. Die tweede mens is hemels. Hy is die Here uit die hemel. Soos ons na die aardse mens, Adam lyk, so sal ook na die hemelse mens, Jesus, lyk.

Een ding staan egter vas: ons aardse liggame van vleis en bloed kan nie in God se hemelse koninkryk ingaan nie. Ons aardse liggame is verganklik en sy hemelse koninkryk is onverganklik.

Luister mooi! Ek vertel julle 'n geheim. Nie almal gaan sterf nie, maar ons gaan almal in 'n oomblik verander word. Wanneer die laaste trompet blaas, sal ons in 'n oogwink verander.

Die trompet sal blaas en die wat gesterf het, sal opgewek word met onverganklike liggame. Die van ons wat dan nog lewe, se liggame sal in 'n oomblik verander word in onverganklike liggame.

Want my verganklike liggaam moet in 'n onverganklike liggaam verander word. En my sterflike liggaam moet in 'n onsterflike liggaam verander word.

Wanneer dit gebeur - wanneer my verganklike liggaam in onverganklikheid verander en my sterflike liggaam in onsterflikheid, dan het dit gebeur wat in die Skrif geskryf is: "Die dood is finaal oorwin."

Dood, waar is jou wapen? Dit is jou ontneem. Doderyk, waar is jou oorwinning? Dit is jou ook ontneem.

Die wapen wat die dood gebruik het om ons dood te maak is die sonde. Jesus het dit weggevat. Dit wat die sonde so moeilik gemaak het om te oorwin, is die wet van Moses. Jesus het dit ter syde gestel.

Dank die Vader altyd dat Hy vir ons oorwinning oor die dood en die doderyk gegee het deur dit wat ons Koning, Jesus Christus, vir ons gedoen het.

Daarom, broers, vir wie God lief is, staan vas en moenie dat dwase mense julle beïnvloed nie. Doen dit wat die Here julle vra om te doen met oorgawe. Dan sal julle nie tyd hê om te mors met twyfelende praatjies nie.

1 Korintiers 15:1-58

LAAI 'N KOPIE HIER AF