2 min gelees

DIE EINDE VAN DIE WÊRELD

Jesus het van die tempel af weggegaan en sy dissipels het Hom die tempelgeboue gewys.

Hy sê toe vir hulle: "Sien julle hierdie indrukwekkende geboue? Ek verseker julle, elkeen van hierdie klippe sal afgebreek word."

Nadat Jesus op die Olyfberg gaan sit het, het sy dissipels alleen na hom toe gekom en gevra: "Vertel ons asseblief, wanneer sal die tempel afgebreek word? Wanneer sal die einde van die wêreld aanbreek en wat sal die tekens wees waaraan ons u koms en die einde van die wêreld sal herken?”

DIE TYD VOOR DIE EINDE

Jesus het hulle geantwoord: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Baie sal my naam misbruik en sê: ‘Ek is die Messias’.

Julle sal in die nuus hoor van oorloë en oorloë sal selfs naby julle kom. Moenie vreesbevange word nie. Dit alles moet gebeur, maar dit is nog nie die einde nie.

Want verskillende volke en moonthede sal mekaar met oorlëg dreig. Daar sal hongersnode wees en epidemies en aardbewings op baie plekke. Al hierdie dinge is net die begin van die moeilike en hartseertye wat kom.

Omdat julle in My glo, sal al die heidene julle haat. Hulle sal julle vervolg en doodmaak. Baie van julle sal dan van My afvallig word en mekaar haat en verraai.

Daar sal baie valse boodskappers kom en baie mense sal hulle volg. Mense sal minder vir mekaar omgee en al hoe meer net doen wat verkeerd is. Maar elkeen wat tot die einde toe aan My vashou, sal gered word.

Die goeie nuus van God se koninkryk sal in die hele wêreld vertel word, want al die heidennasies moet dit hoor. Dan sal die einde kom.

DIE GROOT VERDRUKKING

Daar gaan 'n verskriklike tyd kom waarin baie dinge vernietig gaan word. Hiervan het die profeet Daniël al gepraat. Wanneer julle sien dat dit selfs in die kerk gebeur - let op jy wat lees - dan moet julle vlug!

Dié wat in dorpe is moet na die berge vlug! Moenie in jou huis ingaan om iets saam te vat nie! As jy by die werk is, moenie huis toe gaan om van jou klere saam te vat nie.

Die vroue wat swanger is of nog klein babatjies het, gaan baie swaar kry in daardie tyd. Julle moet hoop dat julle nie op die Sabbat of in die winter moet vlug nie.

Dit sal só 'n groot verdrukking wees soos daar nooit voorheen was nie en nooit daarna weer sal wees nie!

As God daardie tyd nie verkort het nie, sou almal gesterf het. Maar ter wille van God se kinders sal Hy daardie tyd verkort.

DIE GROOT MISLEIDING

As iemand dan, terwyl julle verdruk word, vir julle sê: "Kyk, hier is die Christus!" Of: "Daar!", moet hulle nie glo nie. Want daar sal vals Christusse en vals profete kom en hulle sal indrukwekkende tekens en groot wonderwerke doen, alles net sodat God se kinders hulle moet volg. Maar hulle sal dit nie regkry om God se kinders te verlei nie.

Luister baie mooi! Ek sê dit vir julle voordat dit gebeur. As hulle vir julle sê: "Hy is in die woestyn!", moenie daarheen gaan nie. Of: "Hy is in daardie huis!", moet hulle nie glo nie.

Want die koms van die Seun van die mens, die Christus in sy menslike gestalte, sal só skouspelagtig wees soos weerlig wat in die ooste uitslaan en tot in die weste gesien kan word.

Dit sal onvermydelik só gebeur.

DIE EINDE

Dadelik ná daardie groot verdrukking sal dit donker word - die son sal nie meer skyn nie en die maan sal nie meer gesien word nie. In die ruimte sal kragtige kosmiese veranderinge plaasvind, selfs sterre sal uit hulle plekke val.

Dan sal almal die Christus in sy menslike gestalte in die hemel sien kom. Al die heidene op die aarde sal treur terwyl hulle Hom uit die hemel sien kom met groot krag en koninklike glans.

Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetspel en hulle sal God se kinders regoor die hele wêreld bymekaar maak.

Laat die vyeboom vir julle 'n voorbeeld wees. Wanneer sy takke sag word en sy blare begin uitloop, weet julle dat dit begin somer word.

So kan julle ook, wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, verseker weet dat die einde naby is, voor die deur.

Hierdie dinge sal defnitief gebeur in die tyd van dié wat tussen My hemelvaart en wederkoms lewe. Die skepping sal tot niet gaan, maar dit wat Ek vir julle sê, sal sekerlik gebeur!

Niemand weet presies wanneer Ek weer sal kom nie. Nie die engele in die hemel nie, net my Vader alleen.

Net soos dit in die dae van Noag was, so sal dit ook wees wanneer die Christus in sy menslike gestalte weer verskyn. In die dae voor die sondvloed het almal geeët en gedrink, getrou en bruilof gehou totdat Noag in die ark ingegaan het. Hulle was van niks bewus nie totdat die watermassas gekom en almal verdrink het.

So sal dit ook met die koms van die Christus in sy menslike gestalte wees.

Twee mense sal saam op die land werk, die een sal saamgevat word, die ander een sal agterbly. Twee vroue sal saam meel maal, die een word saamgevat, die ander een bly agter.

ENIGE DAG

Omdat julle nie weet watter dag of uur julle Koning kom nie, moet julle Hom elke oomblik verwag.

As die huiseienaar geweet het hoe laat die inbreker sou kom, sou hy wakker gebly en hom gekeer het om nie in sy huis in te breek nie.

Julle weet nie wanneer die Christus in sy menslike gestalte kom nie. Daarom moet julle elke dag Hom verwag.

Julle moet altyd gereed wees. Soos die getroue en wyse bestuurder wat 'n eienaar oor sy besigheid aangestel het om sy personeel te bestuur.

Dit sal goed gaan met daardie bestuurder as die eienaar kom en sien dat hy sy personeel goed bestuur. Ek verseker julle, hy sal hom bevorder tot 'n baie senior posisie.

Julle moet altyd gereed wees. Nie soos die treurige bestuurder wat die personeel intimideer en mishandel en nagtelank partytjie hou nie. Net omdat hy dink dat die eienaar nie gou sal kom nie.

Sy eienaar sal op 'n dag en tydstip kom wat hy dit nie verwag nie. Hy sal hom straf en afdank.

So sal mense wat nie gereed is vir My koms nie, in selfverwyt huil en in woede op hulle tande kners.

Mattheus 24:1-51

LAAI HIER 'N KOPIE AF