DIT IS NOG NIE DIE EINDE NIE
Broers, julle moet nie dink dat ons Here Jesus Christus al gekom het om ons saam met Hom te vat nie.
Moenie verward raak of bang word dat julle dalk sy koms gemis het nie. Die dag het nog nie gekom nie. Ons het nie so iets geskryf of so 'n boodskap gestuur nie.
Moenie dat enige iemand julle op enige manier mislei nie. Voor dié dag kom, moet die groot afvalligheid eers aanbreek.
In die tyd van die groot afvalligheid sal almal wat gebore is om hel toe te gaan, hulle sonder enige skaamte daarin verlustig om sonde te doen.
Hulle sal teen God in opstand kom en voorgee dat hulle belangriker is as enige God of godsdiens. Hulle sal hulle in plekke van aanbidding tuismaak en voorgee asof hulle God is. Onthou, ek het julle hiervan vertel toe ek nog by julle was.
Julle weet dat die groot afvalligheid nog nie aangebreek het nie. Dit word nog eers teruggehou, maar sal op die bestemde tyd vir almal sigbaar word.
Want mense doen alreeds alles wat verkeerd is, maar in die geheim. Wanneer die groot afvalligheid aanbreek, sal hulle alles wat hulle in die geheim gedoen het, sommer oop en bloot doen.
Met sy wederkoms sal die Here Jesus hierdie mense uit die weg ruim asof hulle niks is nie. Sy blote koms sal hulle vernietig.
Satan ondersteun hierdie mense in wat hulle doen. Wanneer dit wat hulle doen aan die lig kom, sal dit duidelik wys hoe kragtig en selfs skouspelagtig hulle leuens werklik is. Hulle verlei die mense wat verlore gaan om op allerhande maniere te doen wat verkeerd is. Hulle gaan verlore omdat hulle nie vir die waarheid lief was nie.
Daarom sal God hulle nog verder blootstel aan die kragtige invloed van leuens sodat hulle dit sal glo. So sal hulle almal uiteindelik geoordeel word omdat hulle, in plaas daarvan om die waarheid te glo, dit eerder geniet het om te doen wat verkeerd is.
Maar julle, broers - ons moet God altyd vir julle dankie sê. Hy het julle lief en het lankal besluit om julle te red en julle deur die werking van die Helige Gees vir Hom af te sonder sodat julle die waarheid sal glo.
Dit is hoekom Hy julle geroep het toe ons die goeie nuus aan julle vertel het - Hy wil julle in die koninklike glans van ons Koning Jesus laat deel.
So dan, broers, hou styf vas aan dit wat ons julle geleer het, óf dit mondelings was óf deur 'n brief.
Mag ons Here Jesus self, en ons God en Vader, julle rustig maak en julle in staat stel om net te praat en te doen wat goed is. Ons Vader het ons lief. Deur sy onvoorwaardelike liefde kalmeer Hy ons innerlike mens sodat ons kan uitsien na dit wat goed is.
2 Thessalonisense 2:1-17