DIE EINDE KOM VERSEKER
Julle moet dit weet. Wanneer die einde van alles aanbreek, sal daar mense wees wat die spot gaan dryf. Al waaroor dit vir hulle gaan, is hulle eie begeertes en om dit te bevredig.
Hulle sal julle spottenderwys vra: "Jesus het belowe om weer te kom. Wat het daarvan geword? Ons voorouers is lankal dood en nog niks het verander nie. Van die skepping af bly alles net dieselfde."
Hulle vergeet doelbewus dat dit wat God sê, gebeur. Deur dit wat Hy gesê het, het Hy die hemele en die aarde geskep, die aarde uit water en deur water. Deur dit wat Hy gesê het, het Hy die wêreld van Noag met water oorstroom en tot niet laat gaan.
Net so het God gesê dat die huidige hemele en aarde soos 'n skat veilig bewaar word vir die vuur van die oordeelsdag. Dit sal so gebeur. Dan sal die mense wat sonder Hom lewe, oorgegee word om vir altyd te vrot.
Julle, vir wie God lief is, moet een ding onthou. Die Here is nie tydsgebonde soos ons nie. Vir Hom is een dag en 'n duisend jaar dieselfde.
Hy is nie besig om die koms van die Here Jesus uit te stel, soos sommige dink nie. Inteendeel, die Here Jesus wag om te kom omdat God wil hê dat ons almal van ons sondes vrygespreek moet word. Hy wil nie hê dat iemand verlore moet gaan nie.
Die dag wanneer die Here kom, sal so onverwags kom soos 'n inbreker in die nag. Dan sal die hemele met 'n groot geraas verdwyn. Die elemente sal verbrand en tot niet gaan. Die aarde en alles daarop sal verbrand.
Alles van die ou skepping sal tot niet gaan. Al wat nou nog van belang is, is om aan God toegewy te lewe sodat Hy in jou lewe kan doen wat Hy wil. Deur so te lewe, wys ons dat ons die dag van sy koms verwag en maak ons ook dat Hy gouer kom! Dié dag wanneer alles van die ou skepping met vuur sal verbrand.
Dat alles sal verbrand, ontstel ons nie, want ons wag vir nuwe hemele en 'n nuwe aarde, 'n nuwe skepping, waar almal net sal doen wat reg is. Dit is wat Hy ons beloof het.
Julle, vir wie God lief is en wat die nuwe skepping verwag, fokus eerder op dit wat saak maak - dat julle julleself op daardie oordeelsdag in 'n plek van vrede met God sal bevind, sonder enige sonde of foute.
Dat die Here Jesus nog nie gekom het nie, bied mense nog die geleentheid om gered te word. Dit is hoe julle daaroor moet dink. So het ook ons liewe broer, Paulus, met die wysheid wat God aan hom gegee het, aan julle en ook aan ander geskryf.
Hy skryf in sy briewe oor hierdie dinge. Baie daarvan is moeilik om te verstaan. Mense wat ongeleerd en oningelig is, verdraai dit, net soos hulle ook met ander Skrifgedeeltes doen. Dit baat hulle niks en sal net tot hulle eie ondergang lei.
Noudat julle, vir wie God lief is, al hierdie dinge vooruit weet, moet julle baie versigtig wees om nie deur die leuens van sedelose mense mislei te word nie. Dan gaan julle die vastigheid van dit wat julle glo, verloor.
In plaas daarvan, leer eerder al hoe meer van God se onvoorwaardelike liefde wat Hy vir ons het. Leer dit by ons Koning, Jesus Christus, wat gekom het om ons van God se oordeel te red.
Hy is die Een wat geëer moet word, nou sowel as wanneer tyd aan die einde ophou om te bestaan en net die ewigheid oorbly! Dit is so en sal altyd so wees.
2 Pet 3:3-18