DIE EINDOORDEEL
Ek het 'n ander engel in die lug sien vlieg om die onveranderlike goeie nuus van God se oordeel aan al die mense op die aarde te bring, aan al die nasies, stamme, volke en tale.
Hy het hardop geroep: "Eer God en erken sy skitterende koningskap! Die tyd het aangebreek dat Hy die wêreld gaan oordeel. Aanbid Hom wat alles gemaak het, die hemel en aarde, die sout en die vars water."
'n Tweede engel het agter die eerste een aangevlieg en gesê: "Babel, die hoofstad van die wêreld, se einde het aangebreek. Sy was kwaad vir God en het daarom net gedoen wat sy wil. Sy het al die nasies haar laat volg om vir God kwaad te wees en net te doen wat hulle wil."
'n Derde engel het agter hulle aan gevlieg en hardop geroep: "Elkeen wat die maghebber, wat namens die Satan op die aarde regeer, en sy afbeelding bewonder en soos hy dink en doen - almal sal dit kan sien - sal onder God se woede deurloop.
God se naakte woede sal op hulle uitgehaal word. Hulle sal in die teenwoordigheid van God se engele en van die offerlam, Jesus Christus, gepynig word met vuur wat hulle brand en swael wat hulle vergiftig.
Die rook van die vuur waarmee hulle gepynig word, sal vir altyd opstyg, soos van 'n brandende ashoop af. Hulle wat Satan se maghebber bewonder het en met hom geïdentifiseer is, sal nooit rus hê nie.
Hier sal die wat vir God afgesonder word, moet aanhou om te doen wat God wil hê, naamlik om Jesus te vertrou.
Ek het 'n stem uit God se hemelse woonplek gehoor wat vir my sê: "Skryf op. Gelukkig is die wat in hierdie tye aan hulleself dood is omdat hulle saam met Christus gesterf het."
Die Heilige Gees bevestig dit: "Ja, sodat hulle kan ophou met hulle eie werke. Die eie werke wat hulle gedoen het, is vir altyd verby."
Terwyl ek gekyk het, het ek 'n wit wolk gesien en 'n menslike gestalte wat op die wolk sit. Hy was 'n koning met 'n goue kroon op sy kop en 'n regter met 'n skerp sekel in sy hand.
'n Ander engel het uit die plek van aanbidding gekom en hardop na die een wat op die wolk sit, geroep: "Vat U sekel en oes. Die tyd het aangebreek vir U om U oes in te samel, omdat die menslike oes op die aarde oorryp geword het."
Hy wat op die wolk sit, het met sy sekel sy oes oor die hele aarde afgeoes.
'n Ander engel het uit die plek van aanbidding in God se hemelse woonplek gekom. Hy het ook 'n skerp sekel gehad.
Nog 'n engel, wat mag oor vuur gehad het, het uit die offerplek gekom. Hy het hardop geroep na die engel met die skerp sekel: "Oes met jou sekel die druiwe van die aarde se wingerde af, want die menslike druiweoes het ryp geword."
Die engel het met sy sekel die menslike wingerdoes op die aarde afgeoes. Hy het dit in die groot parskuip van God se woede gegooi. Die parskuip is buitekant die stad van God gepars. Die bloed van die mense in die parskuip het uitgeloop, eenduisend seshonderd kilometer ver en so diep dat dit tot by die toom van 'n perd gekom het.
Openbaring 14:6-20