Die Brief aan die Hebreërs
Hoofstuk 5
So was dit nog altyd - elke menslike hoëpriester tree namens mense op by God. Hy bring geskenke en offers namens hulle vir hulle sondes.Dit doen hy as iemand wat self menslike swakhede het. Daarom kan hy met meegevoel optree teenoor die wat onkundig is en die pad byster raak. Omdat hyself vasgevang is in menslike swakhede, moet hy nie net vir die volk se sondes offers bring nie, maar ook vir sy eie sondes.
Niemand kan egter homself aanstel as hoëpriester nie. Slegs God kan iemand aanstel, soos Hy Aäron aangestel het. So het Christus ook nie homself in die belangrike posisie van hoëpriester aangestel nie. Sy Vader het hom daarmee vereer toe Hy vir hom gesê het:
“Jy is my Seun. Vandag het Ek jou vader geword.” Op ‘n ander plek sê Hy:
“Jy is priester vir altyd volgens die orde van Melgisedek” - ‘n hoëpriester nie volgens geboorte nie, maar deur God aangestel.
Tydens sy lewe op aarde het Jesus as hoëpriester offers aan God gebring. Met trane het Hy gebede en smekinge aan God geoffer wat hom uit die dood moes red. God het hom verhoor en van sy vrees verlos. Jesus, al was Hy die Seun van God, het geleer dat lyding deel van gehoorsaamheid is.
Nadat Hy alles gedoen het wat God wou hê, het Hy, wat deur God aangestel is as ‘n hoëpriester volgens die orde van Melgisedek, gesorg dat almal wat Hom vertrou, deel kry aan die goddelike lewe.
DIE VOLLE BOODSKAP
Hieroor kan ons nog baie sê, maar dit is vir julle moeilik om te verstaan, want julle het lui geword om te luister. Julle behoort teen hierdie tyd al leraars te wees, en tog moet ‘n mens julle weer die ABC van God se boodskap leer. ‘n Mens moet julle soos babas nog met melk voed en nie met vaste kos nie.
Melk is vir kinders, want hulle verstaan nie mooi waaroor die boodskap van geregtigheid gaan nie. Hulle verstaan nie hoekom God jou as sy eie aanvaar sonder dat jy iets daarvoor hoef te doen nie. Vaste kos is vir volwassenes, vir dié wat die geestelike insig ontwikkel het om tussen die regte en die verkeerde boodskap te onderskei.