Die Brief aan die Hebreërs
Hoofstuk 1
Nadat God baie keer en op baie maniere in die verlede met ons voorouers gepraat het deur die profete, het Hy, omdat sy boodskap so belangrik is, in hierdie laaste tyd direk met ons gepraat deur sy Seun - sy Seun deur wie en vir wie Hy alles geskape het.
Die Seun, en sy boodskap, is so belangrik omdat Hy God se koninklike glans uitstraal, vir ons wys wie God werklik is en die hele skepping kragtig deur sy boodskap in stand hou.
Nadat Hy ons sondes van ons weggeneem het, het Hy in God se hemelse woning aan God se regterkant gaan sit om sy koninklike heerskappy uit te oefen.
BELANGRIKSTE BOODSKAP OOIT
Omdat Hy ‘n baie belangriker naam as die engele gekry het, is die Seun en sy boodskap baie belangriker as die engele en hulle boodskap.
Aan watter engel het God ooit gesê:
“Jy is my seun, vandag het Ek jou vader geword"? Of:
“Ek sal vir jou ‘n vader wees en jy sal vir my ‘n seun wees"?
Wanneer sy eersgebore Seun in die wêreld gebore word, beveel God al die engele om Hom te aanbid.
Die engele is belangrik. Hulle is God se blitsvinnige boodskappers en vurige diensknegte. Die Seun is egter nog belangriker. Van die Seun sê Hy:
“Jy is God en Koning vir altyd. Jy regeer jou koninkryk met regverdigheid.”
“Dit was vir jou belangrik om reg te laat geskied en het dit gehaat as iemand verkeerd doen. Daarom, al is jy self God, het God jou meer vreugde gegee as enige ander koning.”
Van die Seun sê God verder:
“Jy is die Here wat die hemel en aarde geskape het. Die skepping sal vergaan, maar jy, my Seun, sal vir altyd lewe. Jy is soveel belangriker as die skepping wat besig is om tot niet te gaan. Jy sal self die skepping tot ‘n einde bring. Al sal die skepping verander, sal jy, soos jou boodskap, nooit verander nie. Jy sal vir altyd lewe.”
Aan watter een van die engele het God ooit gesê:
“Sit hier langs my totdat Ek al jou vyande vir jou verslaan het?”
Die engele is almal geeste wat God uitstuur om die wat so gelukkig is om sy erfgename te wees, te dien.
Hoofstuk 2
Die Seun en sy boodskap is baie belangriker as die engele en hulle boodskap. Daarom moet ons baie meer aandag gee aan sy boodskap sodat ons nie stadigaan van God af wegraak nie.
Die engele se boodskap is met die wet van Moses gegee. Hierdie boodskap geld tot vandag toe:
"Elkeen wat die wet oortree en daaraan ongehoorsaam is, sal sy verdiende straf ontvang."
Die Seun se boodskap is baie belangriker as Moses se boodskap. Dit vertel ons hoe om van God se straf vry te kom. Daarom sal ons 'n dubbele straf ontvang as ons die Seun se boodskap ignoreer.
Hierdie boodskap het die Here Jesus self eers aan ons gebring. Dié wat dit by hom gehoor het, het dit aan ons oorvertel. God self het die waarheid van hierdie boodskap bevestig deur die wonders, tekens en kragtige werke wat die Helige Gees gedoen het.
Ook die nuwe skepping wat kom, het God nie onder die heerskappy van die engele gestel nie, maar onder die heerskappy van die Seun.
Dit staan êrens in die Bybel:
“Hoe belangrik is die mens dat U aan hom dink of U met hom besig hou? U het hom vir ‘n kort tydjie in ‘n minder belangrike posisie as die engele gestel. Tog het U hom soos ‘n koning met eer en aansien beklee en hom aangestel om oor U skepping te regeer. U het alles aan sy heerskappy onderwerp.”
God het niks uitgesluit van die mens se heerskappy nie. Ons sien nou nog nie dat die mens oor alles regeer nie.
Al wat ons nou sien, is Jesus. Terwyl Hy ‘n mens was, is Hy vir ‘n kort tydjie in ‘n minder belangrike posisie as die engele gestel. Omdat Hy aan die kruis gely het en deur die onvoorwaardelike liefde van God vir elkeen gesterf het, het God Hom vereer met koninklike aansien en eer.
God is die een vir wie en deur wie alles bestaan. Dit was sy wil om deur Jesus se lyding sy baie kinders in sy koninklike aansien te laat deel. Dit was die manier waarop Hy sy doel ten volle kon bereik.
Jesus en almal wat Hy vir God afsonder, het dieselfde Vader. Daarom is Jesus trots daarop om hulle sy broers te noem:
“Ek sal my broers van hulle Vader vertel. Ons almal sal Hom saam aanbid.”
Hy sê ook:
“Ek sal my Vader altyd vertrou. Sy kinders, wat Hy vir my as broers gegee het, is altyd by my.”
Omdat God se kinders mense is, moes Jesus ook mens word om as mens vir hulle te sterf. So het Hy die duiwel, wat mag oor die dood het, vernietig. Daarmee kon Hy almal, wat hulle lewe lank bang was vir die dood, bevry van die duiwel se houvas op hulle.
Jesus is nie begaan oor die engele nie, maar oor mense, oor die nageslag van Abraham. Hy moes daarom, soos die broers wat God Hom gegee het, volledig mens word om vir hulle 'n hoëpriester by God te wees. As hoëpriester, wat vir hulle omgee, het Hy presies gedoen wat God wil hê en offers gebring om vir hulle sondes te betaal.
Omdat Hyself as mens onder versoeking gebuk gegaan het, kan Hy dié help wat in versoeking kom.
Hoofstuk 3
Daarom, broers, wie se sondes deur Christus weggeneem is en saam met ons geroep is om na God se hemelse woning toe te gaan, moenie julle oë van ons Apostel en Hoëpriester, Christus Jesus, afhaal nie! Dit is wat ons almal glo.
BELANGRIKER AS MOSES
Soos Moses getrou sy werk gedoen het om God se huishouding te bou, so was Christus Jesus ook getrou aan God wat hom aangestel het as Apostel en Hoëpriester. Christus het egter meer eer ontvang as Moses, soos die bouer meer werd is as die huis wat hy bou. Alhoewel hulle elkeen aan God se huishouding gebou het, is dit God wat hulle in staat gestel het om te bou.
Moses was 'n getroue arbeider in God se huishouding. Sy werk was om te vertel van die Christus wat later sou kom. Christus, daarenteen, werk in God se huisgesin nie as ‘n arbeider nie, maar as sy Seun.
Ons is deel van hierdie huisgesin van God - ons moet net tot die einde toe onwrikbaar daaraan vashou dat niks dit sal verander nie en aanhou om daarop trots te wees en daarna uit te sien.
Daarom moet ons hoor wat die Heilige Gees sê:
“Vandag, wanneer Hy met julle praat, moet julle nie hardhorend wees soos julle voorgeslag nie. Julle vaders, die Israeliete, wou in die woestyn nie na my luister nie en dit het my bitter teleurgestel.”
“Hulle het my voortdurend uitgelok en my geduld getoets. Dit terwyl Ek hulle veertig jaar lank my wonderwerke laat sien het!”
“Daarom het Ek vir hulle kwaad geword, want hulle harte was ver van my af. Hulle wou nie na my luister en by my leer nie. Ek was so kwaad dat Ek gesweer het dat hulle nie meer die rus in die beloofde land sal ontvang nie.”
Julle moet daarom daarvoor sorg, broers, dat daar nie miskien in een van julle ‘n duiwelse en ongelowige hart is wat maak dat hy van die enigste lewende God af wegraak nie. Praat ernstig met mekaar, elke dag solank dit vandag is, sodat nie een van julle deur sonde verlei word en hy teen God in opstand kom nie.
Ons het een met Christus geword - ons moet net aanhou om tot die einde toe op Hom te vetrou en nie ‘n oomblik daarvan afwyk nie. Want daar is geskryf:
“As God vandag met julle praat, moenie julle ore in hardkoppigheid toedruk en Hom weer bitter teleurstel nie.”
Wie is dit met wie God gepraat het en Hom so bitter teleurgestel het? Dit was almal wat saam met Moses uit Egipte getrek het.Vir wie was God veertig jaar lank kwaad? Vir almal wat nie na hom wou luister nie en uiteindelik in die woestyn gesterf het.
Vir wie was Hy so kwaad dat Hy gesweer het dat hulle, na al die rondtrekkery in die woestyn, nie in die beloofde land tot rus sal kom nie? Dit was hulle wat nie na hom geluister het toe Hy met hulle gepraat het nie. Hulle het hom nie vertrou nie, in die woestyn gesterf en nie die beloofde land ingetrek nie.
Hoofstuk 4
GOD SE RUS
Hierdie is ‘n saak van lewe en dood. God se belofte om sy rus te ontvang, geld nog steeds. Ons moet net nie later agterkom dat een van julle dit gemis het nie.
Aan ons is die goeie nuus van God se rus ook vertel soos aan die Israeliete van ouds. Hulle het egter niks daarby gebaat nie omdat hulle dit nie geglo het nie. Maar ons wat glo wat God sê, ontvang sy beloofde rus. Soos Hy gesê het:
“Ek was so kwaad dat Ek gesweer dat hulle wat nie glo nie, nie my rus sal ontvang nie!”
Die rus waarvan God hier praat, is sy rus nadat Hy met sy skeppingswerk klaar was.Dit is so dat sommige sy rus ontvang en ander nie. Die wat nie sy rus ontvang het nie is dié wat vroeër die goeie nuus gehoor het, maar dit nie geglo het nie.
Tog het God nog ‘n latere dag vasgestel waarop ons die goeie nuus mag hoor en deur geloof sy rus kan ontvang. Dit het Hy deur Dawid gesê:
“Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle ore toedruk nie!”
As die rus wat Josua in die beloofde land vir die volk gegee het al rus was waarvan God gepraat het, sou Hy nie later weer van nog rus praat nie. Daar bly dus nog steeds ‘n rus oor vir die volk van God. Want elkeen wat God se rus ontvang, hou op om te werk. Net soos God van sy werk gerus het na die skepping.
Laat ons dan ywerig wees om hierdie rus van God te ontvang en ophou met ons eie werke. Ons moet sorg dat nie een van ons, soos die Israeliete van ouds, verlore gaan omdat ons nie na God luister nie.
Ons moet luister na dit wat God deur die Seun vir ons sê. Want dit wat God sê is ‘n kragtige boodskap wat lewe bring. Dit sny skerper as enige tweesnydende swaard. Dit sny tot in die diepste van die mens se gees en liggaam en beoordeel die gesindheid en gedagtes van die hart. Voor Hom is niks en niemand onsigbaar nie. Voor sy oë is alles oop en bloot. Vir Hom wat met ons praat, kan ons niks wegsteek nie.
ONS HOËPRIESTER
Ons het ‘n groot hoëpriester wat in God se hemelse woning vir ons ingegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God. Laat ons hieraan vashou, want dit is wat ons glo.
Ons het ‘n hoëpriester wat vir ons omgee. Hy verstaan ons swakhede, want Hy was net soos ons aan allerhande versoekinge blootgestel. Al verskil - Hy het nie daaraan toegegee nie.
Kom ons gaan dan sonder enige verhindering na ons Koning en sy onvoorwaardelike liefde. By hom sal ons agterkom hoeveel Hy vir ons omgee en dat sy onvoorwaardelike liefde ons sal help wanneer ons dit nodig het.
Hoofstuk 5
So was dit nog altyd - elke menslike hoëpriester tree namens mense op by God. Hy bring geskenke en offers namens hulle vir hulle sondes.Dit doen hy as iemand wat self menslike swakhede het. Daarom kan hy met meegevoel optree teenoor die wat onkundig is en die pad byster raak. Omdat hyself vasgevang is in menslike swakhede, moet hy nie net vir die volk se sondes offers bring nie, maar ook vir sy eie sondes.
Niemand kan egter homself aanstel as hoëpriester nie. Slegs God kan iemand aanstel, soos Hy Aäron aangestel het. So het Christus ook nie homself in die belangrike posisie van hoëpriester aangestel nie. Sy Vader het hom daarmee vereer toe Hy vir hom gesê het:
“Jy is my Seun. Vandag het Ek jou vader geword.” Op ‘n ander plek sê Hy:
“Jy is priester vir altyd volgens die orde van Melgisedek” - ‘n hoëpriester nie volgens geboorte nie, maar deur God aangestel.
Tydens sy lewe op aarde het Jesus as hoëpriester offers aan God gebring. Met trane het Hy gebede en smekinge aan God geoffer wat hom uit die dood moes red. God het hom verhoor en van sy vrees verlos. Jesus, al was Hy die Seun van God, het geleer dat lyding deel van gehoorsaamheid is.
Nadat Hy alles gedoen het wat God wou hê, het Hy, wat deur God aangestel is as ‘n hoëpriester volgens die orde van Melgisedek, gesorg dat almal wat Hom vertrou, deel kry aan die goddelike lewe.
DIE VOLLE BOODSKAP
Hieroor kan ons nog baie sê, maar dit is vir julle moeilik om te verstaan, want julle het lui geword om te luister. Julle behoort teen hierdie tyd al leraars te wees, en tog moet ‘n mens julle weer die ABC van God se boodskap leer. ‘n Mens moet julle soos babas nog met melk voed en nie met vaste kos nie.
Melk is vir kinders, want hulle verstaan nie mooi waaroor die boodskap van geregtigheid gaan nie. Hulle verstaan nie hoekom God jou as sy eie aanvaar sonder dat jy iets daarvoor hoef te doen nie. Vaste kos is vir volwassenes, vir dié wat die geestelike insig ontwikkel het om tussen die regte en die verkeerde boodskap te onderskei.
Hoofstuk 6
Ons kan nie aanhou melkkos eet en net by die begin van Christus se boodskap bly nie.
Ons kan nie aanhou om oor dieselfde onderwerpe te praat nie - dat jy jou uit 'n sondige lewenswyse moet bekeer. Of dat jy God alleen moet vertrou. Of aanhou verduidelik hoekom jy jou moet laat doop, of waaroor die handoplegging gaan. Of weer praat oor die opstanding van die dooies of die oordeel aan die einde nie.
Nee, ons moet, want dit is wat God wil hê, vaste kos begin eet. Ons moet aanbeweeg na die volle boodskap van Christus.
Ons kan, byvoorbeeld, nie weer praat oor bekering nie. Want iemand wat eenmaal deel gekry het aan God se wonderlike verlossingswerk en daarna sy rug op God gedraai het, kan hom nie weer bekeer en weer 'n nuwe mens word nie.
Iemand wie se oë eenmaal oopgegaan het en iets van die hemel ervaar het, wat die Heilige Gees ontvang het, wat die wonderlike boodskap van God gehoor en die kragte van die toekomstige wêreld ervaar het - as so iemand sy rug op God draai, kruisig hy op sy eie weer die Seun van God en maak Hom voor mense ‘n bespotting.
‘n Mens kan so iemand vergelyk met grond wat gereeld reën kry, maar net dorings en bossies dra. Dit het geen waarde nie behalwe om verwens en verbrand te word. Daarteenoor, is God se seën duidelik in die lewens van die wat op Hom bly vertrou. Dit is soos grond wat ‘n nuttige oes lewer vir die wat dit bewerk.
Al praat ons op só ‘n ernstige trant, is ons daarvan oortuig dat julle, vir wie God lief is, se lewens wys dat julle gered is. Julle het dit gewys deurdat julle, omdat julle God lief het, aanhou om mekaar te help. God is regverdig, Hy sal dit nie vergeet nie.
Dit is egter ons begeerte dat elkeen van julle ywerig hiermee sal aanhou sodat julle heeltemal seker kan wees van dit wat ons verwag. Ons wil nie hê dat julle moeg word nie, maar dat julle sal aanhou om op God te vertrou. Net soos die wat aangehou het om Hom te vertrou en uiteindelik ontvang het wat Hy beloof het.
AANHOU VERTROU
So het God met ‘n eed aan Abraham belowe:
“Ek belowe om jou te seën met rykdom en ‘n groot nageslag.”
Die eed het God by homself geneem omdat daar niemand met hoër gesag was by wie Hy kon sweer nie. Hierdie belofte het Abraham uiteindelik gekry nadat hy aangehou het om daarvoor te wag sonder om moeg te word.
‘n Mens neem gewoonlik ‘n eed by ‘n hoër gesag om die waarheid daarvan te waarborg. God wou aan die wat sy belofte sou erf, wys dat Hy nie van plan sou verander nie. Daarom het Hy sy belofte met ‘n eed gewaarborg.
Omdat Hy wou wys dat Hy nie lieg nie, het God ons hierdie dubbele versekering gegee: sy belofte en sy eed. Dit moet ons, wat van die straf van Moses se wet vrygekom het, sterk aanmoedig om vas te hou aan dit waarvoor ons wag.
Hierdie dubbele Godgegewe versekering is ‘n anker vir ons gemoed. Dit is vir ons ‘n vaste waarborg, veilig in die Allerheiligste. Hier het Jesus, wat vir altyd hoëpriester geword het volgens die orde van Melgisedek, ons voorgegaan.
Hoofstuk 7
MELGISEDEK
Wie was hierdie Melgisedek? Hy was koning van Salem en ‘n priester van die enigste ware God. Melgisedek het Abraham opgesoek nadat Abraham die konings van Kanaän in ‘n geveg verslaan het. Hy het gegaan om Abraham te seën en Abraham het aan hom ‘n tiende van die oorlogsbuit gegee.
Melgisedek was “koning van geregtigheid” - dit is wat sy naam beteken. Hy was ook koning van Salem, wat beteken “koning van vrede”.Hy het nie ‘n pa of ma of voorgeslag gehad nie. Hy het nie ‘n geboorte- of sterfdatum gehad nie. Hy was, soos die Seun van God, ‘n priester wat vir altyd bestaan.
Melgisedek was baie belangriker as Abraham. Daarom het Abraham, die vader van baie volke en namens hulle, aan hom ‘n tiende van die oorlogsbuit gegee.
Melgisedek was ook belangriker as die Levitiese priesters wat uit Abraham se nageslag gebore is. Die Levitiese priesters is deur wet van Moses toegelaat om van hulle volksgenote en mede-afstammelinge van Abraham, tiendes te ontvang. Dit het nie beteken dat hulle so belangrik soos Melgisedek is nie. Want hulle het almal, as Abraham se nageslag, deur hom aan Melgisedek tiendes gegee.
Melgisedek, wat nie aan Abraham verwant was nie, het Abraham, aan wie God sy beloftes gegee het, geseën. Dit word algemeen aanvaar dat die belangriker persoon die minder belangrike een seën.
Die Levitiese priesters was belangriker as hulle volksgenote van wie hulle tiendes ontvang het. Maar hulle was minder belangrik as Melgisedek, wat van Abraham tiendes ontvang het. Dit was Levi, wat alhoewel hy self tiendes ontvang het, wat deur sy vader Abraham aan Melgisedek, die belangriker een, tiendes gegee het. Melgisedek, wat nie 'n einde het nie, se priesterskap was belangriker as die Levitiese priesterskap wat tot ‘n einde sou kom.
Die Levitiese priesterskap, wat deur die wet van Moses ingestel is, was ‘n onvoldoende priesterskap. Daarom was ‘n ander priesterskap nodig - nie volgens die orde van Aäron nie, maar een volgens die orde van Melgisedek.
'N NUWE WET
Omdat die priesterskap verander het, het dit vereis dat die wet ook verander. Jesus wat uit ‘n ander stam as Aäron gebore is, mag Hy volgens die wet van Moses nie priester wees nie. Ons weet tog sonder enige twyfel dat ons Here Jesus uit die stam van Juda gebore is. Volgens Moses se wet mag niemand uit hierdie stam priesters word nie. 'n Ander wet as Moses se wet was nodig.
Jesus het nie 'n priester geword volgens die bepalings van 'n menslike wet nie, maar soos Melgisedek, deur God se krag wat lewe skep. Dit het gebeur toe God vir hom gesê het:
“Jy is vir altyd priester volgens die orde van Melgisedek.”
Aan die een kant word Moses se wet ter syde gestel omdat dit niks kon doen om iemand in 'n regte verhouding met God te bring nie. Aan die ander kant het God vir ons met Jesus se priesterskap iets beters gegee waarop ons kan hoop en waardeur ons tot Hom kan gaan.
Anders as die priesters van Moses se wet, wat sonder ‘n Goddelike eed priesters geword het, het God Jesus se priesterskap met ‘n eed bekragtig toe Hy vir hom gesê het:
“Die Here het met ‘n eed beloof en sal nooit daarop teruggaan nie. Jy is vir altyd priester volgens die orde van Melgisedek.”
Jesus waarborg daarom vir ons dat ons ‘n beter ooreenkoms met God het.
HOËPRIESTER VIR ALTYD
Met die wet van Moses was daar baie priesters. Hulle het gesterf en moes gereeld opgevolg word. Maar Jesus se priesterskap, omdat Hy vir altyd lewe, gaan op niemand anders oor nie. Daarom kan Hy dié wat deur hom tot God gaan ten volle van hulle sondes verlos, want Hy leef vir altyd om vir altyd vir hulle by God voorspraak te maak.
Ons het 'n hoëpriester nodig wat aan God toegewy is, geen wet oortree het nie, en sonder sonde is, wat nie saam met die sondaars gesondig het nie en wat in God se hemelse woning kan ingaan.
Ons het ‘n hoëpriester nodig wat nie elke dag, soos die hoëpriesters van Moses se wet, eers vir sy eie sondes offers moes bring en dan vir dié van die volk nie. Want Jesus het net één offer gebring toe Hy homself geoffer het. Hierdie offer is vir altyd geldig.
Verder stel Moses se wet hoëpriesters aan vol menslike swakhede. Maar God het ná die wet deur 'n eed die Seun aangestel as hoëpriester sonder enige swakhede.
Hoofstuk 8
Dit wat ons tot dusver gesê het, kom op een saak neer: ons hét so ‘n hoëpriester, sonder enige swakhede, Christus Jesus. Hy het in die hemel aan die regterhand van God se koninklike troon gaan sit waar Hy ons by God verteenwoordig. Hy is ons hoëpriester in die ware tempel wat deur die Here gebou is en nie deur mense nie.
Elke hoëpriester word aangestel om geskenke en offers te bring. Dit is ook van Hom waar. Hy moes ook iets offer. Jesus is nie ‘n aardse hoëpriester nie, maar een wat sy priesterwerk in God se hemelse tempel doen.
Hier op aarde is priesters wat volgens die wet van Moses offers bring. Hulle priesterlike werk is ‘n vae afbeelding van dit wat in die hemelse tempel gebeur. Toe Moses die aardse tempel moes bou, het God hom beveel:
“Bou dit volgens die voorbeeld van die hemelse tempel wat Ek jou op die berg gewys het.”
'N NUWE OOREENKOMS
Maar Jesus se priesterlike bediening is beter as dié van die aardse priesters omdat Hy ‘n beter ooreenkoms tussen ons en God gesluit het, 'n wettige ooreenkoms wat op God se beloftes berus.
Want as daardie eerste ooreenkoms van Moses sonder foute was, sou ‘n tweede en beter ooreenkoms nie nodig wees nie. God het die volk al lank terug daarop gewys:
“Let op. Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ’n nuwe ooreenkoms gaan sluit. Die nuwe ooreenkoms sal nie wees soos die ooreenkoms wat Ek met hulle voorgeslag gesluit het toe Ek hulle persoonlik uit Egipte gebring het nie. Hulle het daardie ooreenkoms verbreek en daarmee ook my verhouding met hulle.”
“Dit is die ooreenkoms wat Ek met Israel sal sluit ná die vorige ooreenkoms, sê die Here. Ek sal my wette in hulle gedagtes vaslê en dit in hulle binnenste skryf. Dan sal Ek vir hulle ‘n God wees en hulle sal vir my ’n volk wees. Hulle sal nie meer elkeen vir mekaar sê om die Here te ken nie, want almal sal My ken, klein en groot.”
“Ek sal hulle alles wat hulle verkeerd gedoen het, vergewe en aan hulle sondes en oortredinge nooit weer dink nie.”
As God van ‘n nuwe ooreenkoms praat, dan het Hy die eerste een, wat Hy deur Moses gesluit het, oud verklaar. En dit wat oud is en steeds ouer word, is naby aan sy einde.
Hoofstuk 9
Die eerste ooreenkoms met Moses het voorskrifte gehad oor hoe die aardse plek van offerhande ingerig moes word en hoe die priesters daarin diens moes doen. Die offerplek is só ingerig.
In die eerste gedeelte, wat die “Heilige” genoem is, was die lamphouer en tafel met brode wat vir offers gebruik is. Die eerste gedeelte is met ’n gordyn van die tweede gedeelte geskei.
Die tweede gedeelte is die “Allerheiligste” genoem. Hier was ‘n goue wierookbak en die verbondsark wat heeltemal met goud oorgetrek was. Binne in die ark was ‘n goue kleihouer met manna, die kierie van Aäron wat voortdurend nuwe lote gemaak het, en die twee tafels waarop die ooreenkoms se “Tien Gebooie” geskryf was. Bo-op die ark was twee engele met oopgespreide vlerke wat God se koninklike glans uitgebeeld het. Maar genoeg hieroor.
Nadat die offerplek só ingerig is, het die priesters elke dag in die eerste gedeelte, die Heilige, ingegaan om hulle werk te doen. Maar in die tweede gedeelte, die Allerheiligste, het net die hoëpriester een maal per jaar ingegaan. Hier het hy bloed geoffer vir homself en vir die sondes waarvan die volk nie bewus was nie.
Hiermee wys die Heilige Gees baie duidelik dat ons nie in die Allerheiligste kan ingaan solank as wat die priesters nog in die Heilige offers bring nie. Dit was alles ‘n heenwysing na die huidige tyd van Christus. Al die geskenke en offers wat só gebring is, kon dié een wat dit bring se gewete nie tot rus bring nie. Dit het net bestaan uit voedsel- en drankoffers en rituele wassinge - reëls wat mense moes volg totdat die tyd aangebreek het dat alles herstel moes word.
Maar Christus wat opgetree het as hoëpriester van God se toekomstige seëninge, het in ‘n offerplek ingegaan wat groter en sonder enige gebrek is. Hierdie offerplek is nie deur mense gemaak nie en is ook nie deel van hierdie skepping nie.
Anders as die hoëpriesters in die ou offerplek, het Jesus in hierdie offerplek net een maal in die Allerheiligste ingegaan, nie met die bloed van bokke of beeste nie, maar met sy eie bloed. So het Hy vir ons vergifnis bewerk wat vir altyd geldig is.
Die bloed van bulle en bokke en die as van verse is in die ou offerplek oor sondaars gestrooi. Dit het hulle uiterlike gereinig en hulle uiterlik vir God afgesonder.
In die nuwe offerplek gebeur soveel meer! Hier het Christus homself deur die Heilige Gees as ‘n suiwer offer aan God geoffer. Hier maak sy bloed ons gewetes skoon van al die waardelose dinge wat ons gedoen het en soos dooie gewigte saamgedra het. Nou kan ons, met gewetes wat ons nie meer aankla nie, die enigste lewende God self in die Allerheiligste dien.
'N NUWE TESTAMENT
Daarom is Christus die tussenganger van ‘n nuwe testament sodat die wat God daartoe geroep het, sy belofte van ‘n lewe in God se hemelse woning kan erf.
Met die eerste testament wat God deur Moses gegee het, was dit ‘n vereiste dat iets doodgemaak moes word om te betaal vir die volk se oortredings van die wet. Want onthou, vir ’n testament om geldig te wees, is dit ‘n vereiste dat die testamentmaker eers moet sterf. Solank hy lewe, is sy testament nie geldig nie.
Daarom is die eerste testament met bloed gesluit. Nadat Moses al die gebooie van die wet vir die volk voorgelees het, het hy ‘n takkie met rooi wol in water wat met kalf- en bokbloed gemeng is, gedoop. Daarna het hy die wetboek en die hele volk daarmee gesprinkel.
“Dit is die bloed van die testament wat God vir julle opgestel het”, het Moses vir hulle gesê.
Hy het ook die offerplek en al die priestergereedskap op dieselfde manier met bloed gesprinkel. Volgens Moses se wet word omtrent alles met bloed gereinig, want sonder dat bloed vergiet word, kan sonde nie vergewe word nie.
Hierdie offerplek, wat ’n afbeelding was van die offerplek in God se hemelse woning, is deur die offerbloed van beeste en bokke gereinig. Die offerplek in God se hemelse woning moes egter deur beter offers gereinig word.
Christus het nie in ‘n menslik geboude tempel, ‘n afbeelding van die ware tempel, ingegaan nie. Hy het in God se hemelse woning, in die ware tempel self, ingegaan om ons by God te verteenwoordig.
Hy het ook nie homself dikwels geoffer soos die hoëpriester elke jaar in die tempel ingaan met bloed wat nie sy eie is nie. Dan sou Hy dikwels van die skepping af moes ly. Nee, Hy het net een maal, in die tyd wat sy Vader bepaal het, gekom om te sterf en die sonde deur sy offer vir eens en altyd weg te neem.
‘n Mens is bestem om eenmaal te sterf en daarna geoordeel te word. So sal Christus ook, nadat Hy eenmaal geoffer is om die sondes van baie mense weg te neem, vir ‘n tweede maal as sondelose kom vir dié wat op Hom wag om hulle redding te voltooi.
Hoofstuk 10
EEN OFFER NET EENMAAL
Moses se wet is nie eens ‘n beeld van die goeie wat God in die toekoms vir ons wil gee nie. Dit is maar net ‘n dowwe skaduwee daarvan. Die wet kan nooit deur dieselfde offers wat voortdurend jaar na jaar gebring word, die wat na God toe kom by Hom laat uitkom nie.
As die wet ons by God kon laat uitkom, sou die priesters opgehou het om offers te bring. Verdere offers sou nie nodig wees nie. Die wat die offers bring sou dan eens en vir altyd van hulle sondes gereinig wees en nie meer daarvan bewus wees nie. Wat die offers wel doen, is om die wat die offers bring jaar na jaar aan hulle sondes te herinner. Die bloed van bokke en beeste kan nooit sonde wegvat nie.
Wanneer Jesus in die wêreld kom, sê Hy:
“U wou nie slagoffers of spysoffers hê nie, U wou hê dat Ek my liggaam offer. Brandoffers en sondoffers het U nie tevrede gestel nie. Daarom het Ek gesê: ‘Ek kom, o God, en sal doen wat U wil hê. So is dit vir my bestem.’"
Nadat Hy gesê het:
“Slagoffers en spysoffers, brandoffers en sondoffers is nie wat U wou hê en het U nie tevrede gestel nie” — wat volgens die wet geoffer moét word — sê Hy daarna:
“Kyk, Ek kom om te doen wat U wil hê, o God.”
Jesus stel dus die tweede in die eerste se plek. Hy vervang die offers met sy eie gehoorsaamheid. Christus se gehoorsaamheid om sy liggaam te offer, het ons sonde weggevat. Hierdie eenmalige offer is al wat nodig was.
In die aardse tempel bring die priesters daagliks offers volgens die wet van Moses. Die slagoffers wat hulle oor en oor bring wys dat dit nooit die sondes kan wegvat nie. Maar Jesus het net één genoegsame slagoffer vir die sondes gebring. Daarna het Hy vir altyd gaan sit in die gesagsposisie aan God se regterkant waar Hy nou wag tot al sy vyande oorwin is.
Deur hierdie één offer het Hy dié wat aan God toegewy word, vir altyd in ‘n volkome gereinigde verhouding met God gebring.
Ook die Helige Gees getuig hiervan. Eers sê Hy:
“Dit is die ooreenkoms wat Ek met hulle sal sluit na dié dae.”
Daarna sê Hy verder:
“Ek sal my wette in hulle binneste gee, in hulle gedagtes sal Ek dit graveer. Aan hulle sondes en hulle ongehoorsaamheid sal Ek nooit meer dink nie.”
As God dan nou ons sondes vergewe het, hoef ons nooit meer ‘n offer daarvoor te bring nie.
DIE ALLERHEILIGSTE
Broers, ons kan nou sonder enige verhindering na God toe gaan in die Allerheiligste. Ons doen dit op die pad van die nuwe ooreenkoms waarop Jesus met sy bloed aan die kruis ons vooruit gegaan het. Hierdie pad gaan deur die gordyn, wat oopgeskeur het toe Jesus se liggaam aan die kruis geoffer is. Die pad gaan tot by God in die Allerheiligste. Dit is die pad na die lewe.
Omdat ons dan nou sonder enige verhindering na God toe kan gaan en ons Christus as groot hoëpriester in God se huishouding het...Kom ons gaan dan in!
Kom ons gaan in met harte wat net op God gerig is en wat volle vertroue het in ons hoëpriester se offer. Kom ons gaan in met harte wat deur die bloed van Jesus gesprinkel en gereinig is van ‘n gewete wat ons altyd aangekla het. Kom ons gaan in met liggame wat gewas is in die skoon water van die doop.
Kom ons hou vas aan dit wat ons glo en verwag, naamlik om in God se koninklike glans te deel. Kom ons kyk na mekaar en spoor mekaar aan om mekaar en ander lief te hê en te help. Kom ons kom gereeld bymekaar en bly nie weg van ons samekomste soos dit party se gewoonte is nie. Nee, ons moet mekaar aanmoedig om saam te kom, veral terwyl ons die einde sien naderkom.
Ons moet baie versigtig wees om nie moedswillig sonde te doen nie. As ons weet wat Jesus vir ons gedoen het en aanhou om sonde te doen, is daar geen offer meer wat daardie sondes kan wegvat nie. Al wat dan oorbly, is die verskriklikste straf wat God se vyande tot as sal verbrand.
As iemand sy rug op die wet van Moses gedraai het, is hy doodgemaak op grond van die getuienis van twee of drie ander. Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy ontvang wat die Seun van God vertrap, die bloed van die testament waardeur hy skoongewas is, as onvoldoende beskou en die Gees wat God ons verniet gee, minag?
Ons weet tog wat God gesê het:
“Ek is die Een wat wraak uitoefen en straf uitdeel.” En op ‘n ander plek:
“Die Here sal sy volk oordeel.”
Om deur die lewende God gestraf te word, is die ergste wat met jou kan gebeur!
Dink terug aan die dae toe julle die boodskap van Christus aanvaar het. Julle het baie gely onder vervolginge. Julle is in die openbaar gespot en verstoot. Julle het julle aan julle medegelowiges, met wie dieselfde dinge gebeur het, se kant geskaar.
Julle het meegevoel met my gehad terwyl ek in die tronk was. Toe julle van julle aardse besittings beroof is, het julle dit met blydskap aanvaar omdat julle in julleself oortuig was dat julle ‘n beter en permanente besitting in God se hemelse woning het.
Moet dan die vrye toegang wat julle tot God het, nie verloor nie! Dit hou groot beloning in. God wil hê dat julle moet aanhou om daaraan vas te hou. Dan sal julle van hom ontvang wat Hy beloof het.
Dit is nie meer lank nie dan kom die Here Jesus Christus. Hy sal dit nie uitstel nie.
"Hy wat in my glo, sal Ek as my eie aanvaar en hy sal lewe. As hy sy rug op my draai, het Ek nie langer ‘n saak met hom nie.”
Ons is nie van dié wat hulle rug op God draai en verlore gaan nie. Nee, ons vertrou Hom en ons sal lewe!
Hoofstuk 11
OM TE GLO
Om te glo is om sonder aarseling te vertrou dat dit waarvoor ons wag, sál gebeur. Geloof is vir ons die bewys dat die dinge wat ons nie sien nie, wel bestaan. Geloof is die bewys wat God vir die mense van die ou tyd gegee het dat Hy hulle as sy eie aanvaar.
Dit is deur geloof dat ons verstaan dat God die wêreld geskep het net deur te praat, dat dit wat ons sien ontstaan het uit wat ons nie kan sien nie.
Abel se geloof het gemaak dat hy ‘n beter offer aan God gebring het as Kaïn. Sy geloof was die bewys wat God hom gegee het dat Hy hom en sy offer aanvaar het. Vandag nog vertel hy ons van sy geloof, al is hy al eeue dood.
Henog se geloof het gemaak dat hy weggevat is sonder om te sterf. Hy het net verdwyn, want God het hom weggevat. Voordat Hy hom weggevat het, het God hom geloof gegee as bewys dat Hy hom as sy eie aanvaar het.
Sonder geloof het ‘n mens geen bewys dat God jou as sy eie aanvaar nie. Jy kan net na Hom toe gaan as Hy jou die geloof gee dat Hy bestaan en dat jy Hom sal vind as jy na Hom soek.
God het Noag geloof gegee toe Hy hom gewaarsku het van dit wat nog in die toekoms sou gebeur. In gehoorsaamheid het Noag die ark gebou. Daardeur het hy sy huisgesin gered en gewys dat die wêreld verkeerd was om nie te glo nie. Sy geloof was die bewys wat Hy van God ontvang het dat Hy hom as sy eie aanvaar het.
God het Abraham geloof gegee toe Hy hom geroep het om weg te trek na die plek wat Hy hom as besitting sou gee. Hy het in gehoorsaamheid weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom.
God het hom geloof gegee om as ‘n vreemdeling te gaan bly in die land wat God aan hom beloof het. Al was dit die land wat hy sou ontvang, het hy daar tydelik in tente gebly soos in ‘n vreemde land. So het sy nageslag , Isak en Jakob, ook as vreemdelinge gebly in die land wat God aan hulle beloof het. Terwyl Abraham in tente gebly het, het hy uitgesien na die permanente stad waarvan God die argitek en bouer is.
God het Sara geloof gegee om Hom te vertrou dat Hy sou doen wat Hy beloof het. So het Sara self van God die vermoë ontvang om swanger te word. Toe sy al te oud was om kinders te kry, het sy aan haar eersgebore kind geboorte gegee.
So het die stokou Abraham, deur die geloof wat God hom gegee het, ‘n nageslag gehad soveel soos die sterre in die hemel en so ontelbaar soos die sand aan die see.
Hulle het almal gesterf sonder om te sien dat al die beloftes in vervulling gaan. Die geloof wat God hulle gegee het, was vir hulle genoeg - genoeg om die beloftes net van veraf te sien en Hom te vertrou dat dit sal gebeur. Hulle het aanvaar dat hulle aardse lewe net tydelik en aan die verbygaan is.
Die wat só lewe sê daarmee dat hulle ‘n permanente tuiste soek. As hulle sou terugverlang na die tuiste waaruit hulle weggetrek het, sou hulle daarheen kon terugkeer. Maar nou verlang hulle na ‘n beter een, dit is God se hemelse woning. Daarom skaam God hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle 'n permanente woning gereed gemaak.
God het die geloof wat Hy Abraham gegee het, getoets toe Hy hom beveel het om Isak te offer. Ja, hy aan wie God al die beloftes gegee het, het sy enigste seun geoffer, dié seun van wie God beloof het:
“Uit Isak sal jou nageslag gebore word.”
Hy het Isak geoffer omdat hy geglo het dat God die mag het om Isak selfs uit die dood op te wek. Daaruit het hy hom ook, by wyse van spreke, terug ontvang.
God het Isak geloof gegee om Jakob en Esau te seën met die oog op die toekoms. Net so het Jakob in vertroue op God altwee Josef se seuns geseën terwyl hy sterwend was. Toe hy al baie oud was, het hy God nog steeds aanbid.
God het Josef geloof gegee om aan die einde van sy lewe te beveel dat sy oorskot saam met Israel uit Egipte na die beloofde land geneem moet word.
God het Moses se ouers geloof gegee om hom as baba drie maande lank weg te steek omdat hulle gesien het dat hy iemand besonders was. Omdat hulle geloof gehad het, was hulle nie bang vir die koning se wette nie.
Toe hy groot geword het God Moses geloof gegee om te weier om die seun van Farao se dogter genoem te word. Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om 'n tyd lank ‘n sondige lewe in die paleis van die Farao te geniet. Hy het dit groter eer geag om soos Christus gespot te word as om die skatte van Egipte te verkry. Want hy het uitgesien na dit wat God beloof het.
God het Moses geloof gegee om Egipte vreesloos te verlaat sonder om hom aan die woede van die koning te steur. Hy het aangehou om die volk te lei want hy het die onsienlike beloftes van God gesien.
God het Moses geloof gegee om die pasga te hou en die bloed op die deurkosyne te laat sprinkel sodat die doodsengel nie die volk se eersgebore seuns sou laat sterf nie.
God het Israel geloof gegee om deur die Rooi See te trek soos op droë grond, terwyl die Egiptenare verdrink toe hulle dit probeer het.
God het die Israeliete geloof gegee om sewe dae om die mure van Jerigo te trek totdat dit ingeval het.
God het Ragab, die hoer, geloof gegee om Hom te vertrou dat sy nie saam met die heidene sou sterf nie. Daarom het sy die spioene in vrede ontvang het.
Ek sal nog baie meer kan vertel van Gideon, Barak, Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete, maar die tyd ontbreek my. God het hulle geloof gegee om koninkryke in te neem, reg te spreek, beloftes te ontvang, leeus se bekke toe te stop, die krag van vuur te blus, vervolging te ontvlug, krag te ontvang toe hulle swak was, dapper in oorloë te wees en die leërs van vyande op die vlug te jaag.
Vroue het hulle geliefdes uit die dood teruggekry. Ander is gemartel en wou nie vrygelaat word nie, want hulle wou ‘n beter lewe na die dood verkry. Ander se geloof is getoets deur bespotting en marteling. Baie is gevang en in tronke toegesluit. Party is met klippe gestenig. Ander is in stukke gekap, ander weer voor die keuse gestel om óf hulle geloof prys te gee óf deur die swaard vermoor te word.
Hulle het rondgeloop in skaap- en bokvelle. Hulle het honger gely, is vervolg en mishandel. Hulle het in woestyne en op berge rondgedwaal en in grotte en skeure in die grond gebly. Die wêreld was hulle nie werd nie!
God het hulle almal geloof gegee as bewys dat Hy hulle as sy eie aanvaar het. Tog het hulle nie die vervulling van die beloftes in hulle lewe verkry nie, want God het iets beters vir ons beplan. Hulle moes vir ons wag voordat die beloftes in vervulling sou gaan.
Hoofstuk 12
DIE WEDLOOP
Ons het 'n wedloop om te hardloop en die geloof van al hierdie baie toeskouers rondom ons spoor ons aan om tot by die wenpaal aan te hou. Laat ons dan alles wat ons kan terughou, uittrek, veral die sonde wat ons so maklik keer om aan te hou hardloop.
Laat ons, terwyl ons hardloop, ons oë stip op Jesus hou. Hy wys vir ons die roete aan en gee ons geloof om tot by die wenpaal aan te hou. Omdat Hy sy oë gehou het op die vreugdevolle prys wat vir Hom by die wenpaal gewag het, het Hy die swaarkry van die kruis verdra en Hom nie aan die skande daarvan gesteur nie. By die wenpaal het Hy sy prys ontvang - om op die ereplek by God se troon te gaan sit.
Hou Hom in die oog, wat die sondaars se opposisie teen Hom oorkom het, sodat julle in julle motivering nie moeg word en tou opgooi nie.
Julle kan nie die wedloop hardloop tensy julle die sonde met hand en tand beveg nie. Julle moet altyd onthou hoe God julle as sy seuns aanmoedig:
“My seun, moenie die waarde van die Here se dissipline onderskat en sommer gaan lê as Hy jou teregwys nie. Want die Here dissiplineer elkeen wat Hy liefhet en wys elke seun wat Hy aanneem, tereg.”
Aanvaar God se dissipline. Hy behandel julle as sy eie seuns. Elke seun word tog deur sy vader gedissiplineer. As Hy julle nie sou dissiplineer nie - dit is tog wat met alle kinders gebeur - dan is julle nie sy eie kinders nie.
Ons aardse vaders het ons gedissiplineer en ons het vir hulle respek gehad. Moet ons ons dan nie veel eerder aan ons geestelike Vader se dissipline onderwerp nie? Dit lei tog na die lewe!
Ons aardse vaders het ons na die beste van hulle wete vir ‘n kort tydjie gedissiplineer. Maar ons hemelse Vader doen dit omdat Hy die beste vir ons wil hê. Hy wil hê dat ons, soos Hy, vry van sonde kan wees.
Terwyl ‘n mens gedissiplineer word is dit nie altyd lekker nie. Jy voel partykeer om daarvan te huil! Maar later, na al die oefening, lewer dit ‘n bevredigende resultaat - ‘n lewe waarin ‘n mens doen wat reg is.
Daarom, staan op en strek julle spiere en ledemate. Kry julle voete op die oefenbaan. Dis tyd om die stram ledemate weer soepel en fiks te kry!
KORTLIKS
Leef in vrede met...almal! Maak dit ‘n saak van erns om afgesonderd vir God te lewe. Daarsonder sal niemand Hom sien nie. Pas op dat niemand sonder God se onvoorwaardelike liefde probeer lewe nie.
En pas op om nie verbitterd te word nie. Verbittering is soos ‘n plant wat vinnig groei en onvrede saai en baie ander ook verbitterd maak.
Moenie julle liggame vir geld verkoop en soos Esau sonde doen nie. Hy het al die regte en voorregte wat hy as eersgeborene gehad het, verkoop vir ‘n bordjie sop! Julle weet dat hy, toe hy later ook seën van sy pa wou kry, dit nie kon kry nie, al het hy daaroor gehuil. Want dit was te laat vir hom om sy fout reg te stel.
GOD SE HEMELSE WONING
Julle het nie, soos die Israeliete, by ‘n fisiese berg gekom nie - ‘n donker geheimsinnige berg, gekleed in vuurvlamme en storms. Die volk kon die trompetgeskal en die aankondiging van die wet nie verdra nie, sodat hulle vreesbevange hulle ore toegedruk het. So erg was dit dat selfs ‘n dier wat aan die berg geraak het, doodgemaak moes word.
Nee, met die nuwe ooreenkoms wat Jesus gesluit het, het julle by die berg van God gekom, by die stad van die enigste lewende God, by die Jerusalem wat God se hemelse woning is. Julle het gekom by tienduisende engele en feesvieringe in God se hemelse woning, by die byeenkoms van die wedergeborenes wie se name in God se hemelwoning opgeskryf is, by die mense wat volkome deur God as sy eie aanvaar is. Julle het gekom by God, die regter van alle mense.
En julle het gekom by Jesus die tussenganger van die nuwe testament. Julle het gekom by sy bloed wat julle innerlike mens deur besprinkeling gereinig het - iets wat Abel se bloed nooit sou kon doen nie.
LUISTER MOOI
Pas daarom op dat julle Hom wat nou met julle praat deur die Seun, nie ignoreer nie. Die wat Hom geïgnoreeer het toe Hy op die berg deur Moses die volk gewaarsku het, het nie van sy straf vrygekom nie. Hoe sal ons sy straf vryspring as ons Hom ignoreer nou dat Hy uit sy hemelwoning met ons praat deur die Seun.
Toe Hy met Moses gepraat het, het sy stem die aarde laat bewe. Daarna het Hy belowe:
“Ek gaan nog een maal nie net die aarde nie, maar ook die sterrehemel skud.”
Deur te sê “nog een maal” wys God dat die geskape wêreld, wat verganklik is, gaan verander en dat net dit wat nie vergaan nie gaan oorbly. Laat ons dan, wat God se onverganklike koninkryk ontvang, dankbaar wees en Hom die eer en respek gee wat Hom toekom. Dit is wat vir Hom aangenaam is. Onthou, ons God is soos ‘n vuur wat alles tot as verbrand.
Hoofstuk 13
SLOTGEDAGTES
As broers moet julle mekaar altyd liefhê. Moenie ophou om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense, sonder dat hulle dit weet, engele as gaste gehuisves.
Dink aan die wat in die tronk is asof julle self ook in die tronk is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.
Hou die huwelik ’n instelling waarop almal trots kan wees. Wees as getroudes getrou aan mekaar, want God sal dié wat in seksuele losbandigheid en buite-egtelike verhoudings lewe, oordeel.
Moenie enige vorm van geldgierigheid in julle lewens toelaat nie. Wees tevrede met wat julle het. God het self gesê:
“Ek sal altyd by jou wees, jou nooit in die steek laat nie.”
Daarom kan ons met vertroue sê:
“Die Here help my, ek is vir niemand bang nie. Wat kan 'n mens aan my doen?”
Onthou diegene wat God se boodskap aan julle gebring het. Onthou die voorbeeld wat hulle gestel het - hoe hulle hulle lewe lank op Jesus vertrou het. Julle kan net soos hulle ook op Jesus vertrou, want Hy is gister en vandag en vir altyd dieselfde.
Moenie agter allerhande vreemde leringe aanloop nie. Wat waarde het, is dat jou innerlike mens deur God se onvoorwaardelike liefde versterk word, nie deur wat jy eet nie. Dié vir wie eetgewoontes belangrik is, het niks daarby gebaat nie.
LY SAAM MET HOM
Ons het ‘n offerplek waarvan dié wat nog offers bring volgens die ou wettiese orde, nie deel mag kry nie. In die ou priesterorde is die bloed van die offerdiere deur die hoëpriester in die tempel ingebring om vir die sonde te betaal, maar hulle liggame is buitekant die stad verbrand. Daarom het Jesus ook buitekant die stad gely om die volk se sonde deur sy eie bloed weg te vat.
Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die stad en die spot dra wat Hy gedra het, want ons het in hierdie wêreld geen vaste blyplek nie. Ons is oppad na ‘n toekomstige stad.
Kom ons bring dan aan God ‘n lofoffer. Kom ons prys Hom sonder ophou met monde wat sy naam hardop bely. Kom ons doen dit deur Jesus wat in ons bly.
Doen goed aan ander en gee aan hulle as hulle iets nodig het. As julle hoegenaamd offers wil bring, is dit die offers wat vir God aanvaarbaar is.
Julle leiers moet toesig hou oor hoe julle lewe. God sal van hulle verantwoording eis. Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle. Dan sal dit vir hulle maklik wees om hulle werk te doen en sal hulle nie daaroor kla nie. Dit is tot julle voordeel dat hulle hulle werk goed doen.
Hou aan om vir ons te bid. Ons is oortuig dat ons niks het om oor skuldig te wees nie omdat ons altyd probeer doen wat reg is. ‘n Spesiale gebedsversoek - vra dat God my gou na julle toe sal laat terugkom.
God wat vrede gee, het ons Here Jesus uit die dood teruggebring. Jesus is deur die bloed van die nuwe ooreenkoms, wat vir altyd geldig is, die opperherder van sy kudde.Dit is ons gebed dat God deur Jesus Christus wat in ons bly, dit sal doen wat vir Hom aanvaarbaar is. Aan Hom behoort die koninklike glans vir alle tye! Mag dit só wees.
Broers, ek versoek julle dringend om geduldig na my te luister. Ek het net 'n kort briefie aan julle geskryf, en dit was om julle moed in te praat. Julle het seker gehoor dat ons broer Timoteus uit die tronk vrygelaat is. As hy betyds kom, bring ek hom saam na julle toe.
Ons stuur groete aan julle almal, die leiers en die gelowiges. Die gelowiges van Italië stuur vir julle ook groete. Die onvoorwaardelike liefde van God sal by julle almal wees!