Die Brief aan die Hebreërs
Hoofstuk 3
Daarom, broers, wie se sondes deur Christus weggeneem is en saam met ons geroep is om na God se hemelse woning toe te gaan, moenie julle oë van ons Apostel en Hoëpriester, Christus Jesus, afhaal nie! Dit is wat ons almal glo.
BELANGRIKER AS MOSES
Soos Moses getrou sy werk gedoen het om God se huishouding te bou, so was Christus Jesus ook getrou aan God wat hom aangestel het as Apostel en Hoëpriester. Christus het egter meer eer ontvang as Moses, soos die bouer meer werd is as die huis wat hy bou. Alhoewel hulle elkeen aan God se huishouding gebou het, is dit God wat hulle in staat gestel het om te bou.
Moses was 'n getroue arbeider in God se huishouding. Sy werk was om te vertel van die Christus wat later sou kom. Christus, daarenteen, werk in God se huisgesin nie as ‘n arbeider nie, maar as sy Seun.
Ons is deel van hierdie huisgesin van God - ons moet net tot die einde toe onwrikbaar daaraan vashou dat niks dit sal verander nie en aanhou om daarop trots te wees en daarna uit te sien.
Daarom moet ons hoor wat die Heilige Gees sê:
“Vandag, wanneer Hy met julle praat, moet julle nie hardhorend wees soos julle voorgeslag nie. Julle vaders, die Israeliete, wou in die woestyn nie na my luister nie en dit het my bitter teleurgestel. Hulle het my voortdurend uitgelok en my geduld getoets. Dit terwyl Ek hulle veertig jaar lank my wonderwerke laat sien het! Daarom het Ek vir hulle kwaad geword, want hulle harte was ver van my af. Hulle wou nie na my luister en by my leer nie. Ek was so kwaad dat Ek gesweer het dat hulle nie meer die rus in die beloofde land sal ontvang nie.”
Julle moet daarom daarvoor sorg, broers, dat daar nie miskien in een van julle ‘n duiwelse en ongelowige hart is wat maak dat hy van die enigste lewende God af wegraak nie. Praat ernstig met mekaar, elke dag solank dit vandag is, sodat nie een van julle deur sonde verlei word en hy teen God in opstand kom nie.
Ons het een met Christus geword - ons moet net aanhou om tot die einde toe op Hom te vertrou en nie ‘n oomblik daarvan afwyk nie. Want daar is geskryf:
“As God vandag met julle praat, moenie julle ore in hardkoppigheid toedruk en Hom weer bitter teleurstel nie.”
Wie is dit met wie God gepraat het en Hom so bitter teleurgestel het? Dit was almal wat saam met Moses uit Egipte getrek het.Vir wie was God veertig jaar lank kwaad? Vir almal wat nie na hom wou luister nie en uiteindelik in die woestyn gesterf het.
Vir wie was Hy so kwaad dat Hy gesweer het dat hulle, na al die rondtrekkery in die woestyn, nie in die beloofde land tot rus sal kom nie? Dit was hulle wat nie na hom geluister het toe Hy met hulle gepraat het nie. Hulle het hom nie vertrou nie, in die woestyn gesterf en nie die beloofde land ingetrek nie.